"Ek hou niks van daai ou nie." Ek moes net verleë lag, want ek was "daai ou". Dit hoor ek toe 'n vriend sê iemand het dit teenoor hom kwytgeraak. Toe antwoord ek maar dat ek die raad volg van 'n Amerikaanse vriend wat eenkeer droogweg opgemerk het: "Disappoint them early."
As ons op soek is na almal se goedkeuring, gaan ons nooit ons eie stem vind nie. Dan gaan ons net sê wat hulle wil hoor en nie wat hulle ook moet hoor nie. Dan gaan ons doen wat hulle wil hê ons moet doen en nooit uitkom by dit waarvoor God ons geroep het om te doen nie. Dan gaan ons almal se vriend wees, maar niemand se vertroueling nie. Dan gaan ons almal se pel wees, maar niemand se raadgewer nie. Daarom is dit so 'n groot bevryding om te besef die Here het ons nie generies aanmekaargesit nie, maar uniek en spesifiek. Ons leef eg en deursigtig as onsself, maar ons doen dit karaktervol in God se teenwoordigheid
Ons wil nie die guns van mense probeer wen nie, maar doen wat God verwag, Hy wat ons diepste gedagtes toets. Met vleitaal het ons ons nooit opgehou nie, soos julle trouens weet . . . Ons het nooit daarna gestreef dat mense ons sou eer nie, of dit nou julle is of ander al kon ons as apostels van Christus allerhande eise aan julle gestel het. - 1 Tessalonisense 2:4-7





















