Pleks dat nuwe tegnologie ons kalmeer, verhoog dit soms ons angstigheid. Vroeër het ons saans gaan slaap sonder enige tegnologiese inmenging. Deesdae vertel ons slim horlosies ons van ons slaappatrone. Dan wonder ons skielik: Hoekom verskil dit van nag tot nag? Hoekom het ons gisteraand slegter geslaap as tevore volgens ons tegnologiese data, al voel dit nie so nie? Terwyl ons daaroor tob, herinner ons slim horlosies en ons apps ons aan die daaglikse treë en oefeninge wat ons mediese fonds en oefenprogramme vereis.
Natuurlik moet ons reg eet, genoeg slaap, gereeld rus en ook getrou oefen. Tegnologiese hulpmiddels help ook daarmee. As dit egter ons angstigheid verhoog, soos sommige studies wys, word ons gevangenes daarvan. Ons motivering vir 'n gesonde leefstyl kom vanuit 'n innerlike oortuiging. Ons leef reg omdat ons die Here in en deur ons liggaam wil verheerlik. Ons motivering is nie net om beter byvoordele by mediese fondse en oefenprogramme te bekom nie. Ons offer nooit ons vryheid en verantwoordelikheid voor die Here op vir enigiets anders nie
As jy gaan lê, sal jy nie verskrik wees nie, as jy lê, sal jou slaap soet wees. Jy hoef nie bang te wees . . . nie. Want die Here sal aan jou sy wees en Hy sal keer dat jou voet in 'n strik trap. - Spreuke 3:24-26





















