Sielsdinge

Stephan Joubert: Tydbepaalde gebruike of tydlose norme

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto: Getty Images
Foto: Getty Images

Iemand vertel my hy is onlangs uitgehaal oor 'n tatoeëermerk. Levitikus 19:28, wat merke op Israeliete se liggame verbied, is aangehaal. Hy kyk sy aanklaer toe verbaas aan en sê vir haar sy oortree dan Levitikus 19:19. Daar staan jy mag nie twee soorte materiaal saam dra nie, want sy het wol- en linneklere aangehad.

Hoe moet sulke Bybeltekste verstaan word? Wel, ons moet altyd tussen tydbepaalde gebruike en tydlose norme in die Bybel onderskei. Levitikus 19 handel oor tydbepaalde gebruike aan Israeliete 'n paar duisend jaar gelede. Hulle hoor daar hulle moenie die gebruike navolg van die omringende afgodsdienste waarvolgens uiterlike merktekens op aanbidders aangebring is nie.

Openbaring 13 verwys ook na sulke simboliese merktekens wanneer ons in vers 1 lees van 'n sataniese dier waarop godslasterlike name geskryf is. Hierteenoor lees ons in Openbaring 19:16 van Christus wat terugkeer aarde toe as die Ruiter op die wit perd. Op sy klere en naby sy heup dra Hy self dan 'n geskrewe naam, naamlik: "Koning van die Konings en Here van die Here." Hier word onderskei tussen Christus se kleed (himation) en sy bobeen (meros) waar genoemde naam ingegraveer is. Teenoor Openbaring 13 se bose dier met sy godslasterlike name, vertoon Jesus sy eie Naam uiterlik as Here oor alle magte.

Wanneer merktekens en ander sake ter sprake is, moet ons onderskei tussen tydlose waarhede in die Bybel en tydbepaalde gebruike wat reeds verstryk het. Anders verander verkeerd gebruikte Bybeltekste spoedig in seermaakwapens.

Uit die Woord

Want God beoordeel niemand volgens sy uiterlike nie. - Romeine 2:11

Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelykvormig wees nie, maar verander word deur die vernuwing van julle denke sodat julle goed kan onderskei wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is. - Romeine 12:2

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM