Jare gelede het ek 'n briljante slagspreuk van 'n Amerikaanse vervaardiger van motorolie raakgesien: "We do not want to change the world. We just want to change your oil." Hulle verstaan hul missie. Dit sou enige leierskapkenner dadelik vir jou sê.
Almal wil die wêreld verander, maar dis eintlik al. Almal wil, maar niemand weet hoe nie. Hulle het nie 'n plan nie. Wel, hier's een: Kies om een of twee persone se lewe beter te maak, eerder as om die ganse wêreld aan te durf. Jy kan nie regtig alles vir almal wees nie, maar jy kan wel konstruktief en opbouend betrokke wees in 'n paar persone se leefwêreld.
Een bemoedigende woord, een gebed, een daad van omgee is goeie skakels in enige hemelse ketting van genade. Dit is die regte blokkies wat in die groter legkaart van God inpas. Sorg jy maar net dat die nodige hemelse brandstof aanland by elke persoon wat vandag op jou radarskerm is. Dis meer as genoeg. Dan verander iemand anders se wêreld. Dan is vandag 'n wêreldverskuiwende dag.
"Dan sal die regverdiges hom antwoord: ‘Here, wanneer het ons u honger gesien en gevoed?'
"Maar die Koning sal vir hulle sê: ‘Amen, Ek sê vir julle: Wat julle ook al vir een van hierdie geringste broers van My gedoen het, het julle vir My gedoen.' " - Matteus 25:37 en 40





















