Ons almal droom. Die slim mense sê ons droom minstens vier tot vyf keer per nag. Onder meer verwerk ons drome sekere gebeurtenisse en ervarings in ons lewe. Omdat party drome ontstellend is, wonder mense soms of God hierdeur met ons praat.
Voordat ons ons drome as direkte hemelse opdragte verstaan, moet ons onthou alle drome moet geïnterpreteer word. Opgeleide terapeute, tesame met 'n goeie dosis selfinsig, kan ons hiermee help. Dan sal ons nie oorhaastige, of foutiewe, afleidings hieroor maak nie.
Iemand het jare gelede vir my vertel God het hom in 'n droom teen 'n sekere kerkleier gewaarsku. Ná 'n indringende gesprek het dit duidelik geword dat dit eintlik sy eie negatiewe gevoelens teenoor daardie leier is wat in die droom na vore gekom het. Die droom was dus eintlik 'n vermaning aan homself om dit te hanteer. Ons moet dus versigtig wees om ons drome blindelings te verstaan as hemelse boodskappe vir ander mense. Ons drome praat eerste met onsself oor onsself.
Moenie gou wees met jou mond en laat jou hart nie haastig wees om 'n woord voor God te uiter nie. Want God is in die hemel en jy is op die aarde; daarom moet jou woorde min wees. Ja, 'n droom kom deur baie sorge, en 'n dwase gepraat deur baie woorde. - Prediker 5:1-2





















