Die boek Jeremia is 'n besondere profeteboek. Jeremia, die onverskrokke man van die lewende Here is aan die woord. Die man met 'n boodskap.
'n Doodgewone mens wat teen ongeveer 650 v.C. in Anatot, 'n klein dorpie digby Jerusalem, gebore is. Net maar mens, maar tot profeet en dáárom tot 'n byna bomenslike opdrag geroep. Jeremia, getrou aan sy roeping, stry teen die aanbidding van afgode, sosiale ongeregtigheid én sy mense se vals vertroue op Egipte en die tempel. Jeremia luister na die Here se stem en voorskrifte, maar die Here se volk nie . . .
En die Godsvolk se hardheid van hart en onverskilligheid van gemoed het Jeremia nie net as profeet nie, maar ook as mens ontstel. Die wisselvalligheid van 'n mens se hart en ook hoe hartseer 'n mens se hart kan wees, het Jeremia "siek" gemaak. En in Jeremia 17:17, 18 staan opgeskryf. Hy is vreesbevange en voel verpletter. En Jeremia pleit om "genesing" van sy gemoed . . .
En 'n mens kan ook voel soos Jeremia. Verskrik, vreesbevange, verpletter.
Maar om dan tog tot God te bid om genesing van 'n mens se gemoed. Om ons hoogste Profeet en Leraar, Jesus Christus, te hoor sê: "In die wêreld ervaar jy (julle) swaarkry; maar hou moed; Ek het reeds die wêreld oorwin." (Joh. 16:33)
Jeremia se profetestem in sy binnekamer is die stem en taal van gebed.
U kan by Jeremia leer. In dag en tyd om Christus wil te sê:
"Here, gee dat ek my aan U sal toewy; help my, soos U belowe het. Laat loop my op die regte weg en maak my lewend deur U reg." (Ps. 119-2:8)
Verskrik, vreesbevange, verpletter? Nee! Te roep, tot vreug herbore: Verlos en nie verlore!





















