Sielsdinge

Stille Uur: Omdat ons hiérvan deel is, dank ons God

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die volk het hier 'n merkwaardige tyd beleef. Serubbabel en Jeshua het 'n klein groep ballinge terug na Jerusalem gelei. Daar het hulle begin bou aan die tempel.

Konstruksiewerk het maar stadig gegaan en hulpbronne was skaars. Israel, die volk wat eens op 'n tyd ryk en magtig was, is verpletter.

Hierdie mense was eintlik gevangenes in hul eie land.

Tog het die Here hulle die krag gegee om deur te druk. Hulle het begin bou en die fondamente van die nuwe tempel gelê. Verse 11 tot 13 gee aan ons 'n idee van watter groot emosionele gebeurtenis hierdie eintlik was.

Sommiges het in vreugde God geloof en dank en besef dat God hulle weer teruggelei het. Die tweede groep mense het gehuil toe hulle die fondasies sien.

Die rede hiervoor is dat hulle kon onthou hoe die tempel gelyk het. Ons kan ons net indink hoe moeilik dit moes wees om te onthou hoe mooi alles was en dat die volk van God nou weer van voor af moet bou.

Die tempel in Jerusalem bestaan nie meer nie. Die middelpunt van God se koninkryk is nie meer 'n gebou nie, maar Jesus Christus.

Hy is en sal altyd die fondasie van ons geloof wees. Hy het die nuwe verbond ingestel deur sy bloed wat gevloei het.

As ons dink aan sy dood, is dit met ons ook soos met die ou Leviete. Ons huil omdat Hy moes ly ter wille van ons, maar ons verheug ons daarin dat Hy ons verlossing daardeur bewerkstellig het.

Dank vandag die Here dat Jesus ons op sy vaste en ewige fondament geplaas het. Sy Koninkryk is nie gebou deur mensehande nie en kan nie vernietig word deur enigiets nie. - Ds. Jaco Linde (Witrivier), Uit: GKSA-dagboek 2024

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM