Craven optimisties: ‘SA kan wen’: Suid-Afrika se nederlaag van 15-9 Saterdag in die tweede toets teen Nieu-Seeland is geen rede tot paniek nie . . . Dr. Danie Craven, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Rugbyraad, sê hy is glad nie pessimisties nie. “Ek dink ons kan maklik nog die reeks deel, maar ek is eerder vol vertroue dat ons sal wen,” het hy gister gesê.
Frelimo’s oor Rhodesië se grens . . .: Twee Rhodesiese polisiekonstabels is gisteroggend deur Frelimo-soldate doodgeskiet toe laasgenoemdes by ’n grenspos Rhodesiese gebied binnegedring het. Ná die aanslag het die Frelimo’s weer teruggekeer na hul eie grondgebied.
Skool brand in Kraaifontein: Brandstigters het gisteroggend ’n bruin laerskool in Kraaifontein aan die brand gesteek. Vyf klaskamers is verwoes voordat die brand in bedwang gekry kon word . . . Dit was die enigste teken van oproerigheid gister in die nie-blanke gebiede in die Kaapse Skiereiland.
Opruiende pamflette in Kaap onderskep: Die polisie het in die naweek op verskeie plekke in Kaapland beslag gelê op duisende pamflette waarin swartmense gevra word om saam te staan as hulle opgeroep word.
Hotel brand af in die Bainskloofpas: Die Bainskloof Lodge by Wellington is Saterdag in die vroeë oggendure deur ’n brand verwoes, kort nadat ’n bejaarde vrou die enigste ander inwoner wakker gemaak en saam met hom na buite gevlug het. Mev. Connie Lautenbaeh (86), moeder van die eienaar, mnr. Partic Lautenbach, het rook geruik toe sy wakker word en die kroegman, mnr. Cecil Traut (56), gaan opklop.
Oproep met ’n angel: Meer as dertig polisiemanne het na ’n plaashuis naby Auch, Frankryk, gejaag nadat hulle ’n oproep ontvang het dat twee gemaskerde mans in ’n motor verdag optree. Die gemaskerdes was twee byeboere. Hulle het stadig gery om byekorwe wat hulle vervoer het, nie te versteur nie.
Glaseter wil nou fiets eet: Die Franse verhoogarties Michel Lotito, wat glas eet en lemmetjies kou, het bekend gemaak dat hy van plan is om ’n fiets op te eet.













