Duisende ANC-raadslede van oor die land heen sak Maandag op Johannesburg toe waar pres. Cyril Ramaphosa in sy hoedanigheid as ANC-president ’n aksieplan bekend stel om plaaslike regerings reg te ruk.
Die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) het Saterdag en Sondag ’n spesiale vergadering in Boksburg gehou om die stand van munisipaliteite te evalueer en ’n aksieplan vir plaaslike regering op te stel.
Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC, sê die party is bekommerd oor die ondoeltreffendheid van munisipaliteite.
“Eerstens moet ons begryp dat gemeenskappe teleurgesteld voel en bekommerd is oor korrupsie. Hulle voel ons reageer nie voldoende nie en is nie gefokus op interne kwessies nie. Ons gaan dit verander met hierdie spesiale vergadering. Ons sal ’n aksieplan aanvaar om al die uitdagings aan te pak waarby ons as regering moet ingryp, maar ook as ’n ANC wat die regering ondersteun.”
Mbalula sê ANC-raadslede by die land se 257 munisipaliteite sal op Maandag se byeenkoms hoor wat die plan is om munisipaliteite reg te ruk en sodoende dienslewering te verbeter.
“Die NUK sal ’n gedeelde plan ontwikkel vir die probleme wat ons almal ken.”
Volgens Mbalula gaan die plan elke drie maande hersien word na gelang van die vordering wat gemaak word.
Soos daar ’n spesiale fokus op elektrisiteit geplaas is, sal daar ook op water gefokus word.
“Dit is ’n belangrike kwessie wat aandag sal geniet weens watertekorte en wateronderbrekings.”
Mbalula sê ander belangrike kwessies op die agenda is werkloosheid, misdaad en korrupsie.
“Nommer een is werkloosheid en nommer twee misdaad en korrupsie. ’n ANC-leier of -lid wat van korrupsie beskuldig word, sal nie in die hof deur ANC-lede met ANC-T-hemde ondersteun word nie. Dit is iets van die verlede.”
Hy sê dit is onwaar dat daar die afgelope 30 jaar niks gedoen is nie.
“Empiriese bewyse en navorsing toon dat baie bereik is. Dienslewering, saam met die ekonomie, werkgeleenthede, misdaad en korrupsie bly die hoofkwessies waarmee Suid-Afrikaners vandag te kampe het.
“Die strategiese terugslag van 2024 (vir die ANC by die stembus) is ’n oproep op die beweging om geen moeite te ontsien om die mense se vertroue te herwin nie. Ons weet die mense glo in die ANC se kernboodskap oor basiese dienste en ons prestasies, maar ons beskadigde beeld as organisasie het ’n uitdaging geword.”
Ramaphosa het gesê munisipaliteite speel ’n belangrike rol in burgers se lewe en hulle moet beter toegerus word om inwoners te dien.
“Plaaslike regering is dikwels waar burgers eerstens en veral gereeld met die regering interaksie het. Dit is die sfeer van die regering wat die mees direkte impak op mense se lewe het deur goeiegehalte- basiese dienste en veilige, bekostigbare openbare of maatskaplike infrastruktuur te lewer.”
Volgens hom word wanfunksionele en ondoeltreffende plaaslike regering grootliks aan politieke partye toegeskryf in die opeenvolgende interne en eksterne studies wat gedoen is. Dit geld partye wat ’n volstrekte meerderheid het om ’n raad te bestuur of in ’n koalisie regeer.
“Te veel van ons munisipaliteite slaag nie daarin om selfs die mees basiese dienste te lewer nie, hetsy weens onbevoegdheid of wanbestuur.”
Ramaphosa het ook te velde getrek teen raadslede wat betrokke raak by wanpraktyke, korrupsie of selfs strafregtelike bedrywighede.
“Korrupsie, wanbestuur, straffeloosheid en ’n gebrek aan gevolgebestuur dra tot wanfunksionaliteit by en tot die lyding van ons mense wat in die geraakte gemeenskappe woon. Dit moet nou eindig. Hierdie NUK moet dapper besluite neem oor hoe ons dit gaan aanpak. Hierdie mislukking op plaaslike-regeringsvlak voed ’n narratief oor ’n mislukte en kwynende ANC en bied dus verdere ammunisie aan ons kritici.”
Volgens Ramaphosa is plaaslike regerings uiters belangrik omdat hulle in die voorste linie van dienslewering is.
–raymond.willemse@media24.com















