Beveg misdadigers met ewe veel geweld, sê Mashatile

Adj.pres. Paul Mashatile lê Sondag ’n krans by die polisie se gedenkmuur by die Uniegebou in Pretoria.
Adj.pres. Paul Mashatile lê Sondag ’n krans by die polisie se gedenkmuur by die Uniegebou in Pretoria. (Foto: GCIS)

Polisielede moenie met hul diensvuurwapens in hul holsters sterf nie, benadruk adj.pres. Paul Mashatile.

“Julle het ’n plig om jul lewe te beskerm. Dit beteken dat julle geweld moet gebruik wat proporsioneel is tot die bedreiging waarmee julle te kampe het.

“Julle moet julle nie aan enige vorm van misdadigheid oorgee nie,” het Mashatile Sondag aan Suid-Afrika se polisielede gesê by die Uniegebou in Pretoria op ’n gedenkdiens vir hul kollegas wat die afgelope boekjaar aan diens gesterf het.

Behalwe Mashatile het prof. Firoz Cachalia, waarnemende minister van polisie, en genl. Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris, ook toesprake gelewer by dié geleentheid by die polisie se gedenkterrein wat deur naasbestaandes en familielede van die oorlede polisiebeamptes, sowel as ander hooggeplaaste gaste, bygewoon is.

Mashatile het namens pres. Cyril Ramaphosa en die regering hul diepste meegevoel aan die families van die oorledenes oorgedra.

“Hy (Ramaphosa) spreek sy dankbaarheid uit vir die opoffering wat deur die polisie gemaak is. Suid-Afrika deel in jul hartseer. Ons weet dat julle verlies nie gemeet kan word nie, want dit is ’n wond wat nooit heeltemal sal genees nie.”

27 polisielede sterf landwyd in vorige boekjaar

Kranse is Sondag ook vir die 27 polisielede wat van 1 April verlede jaar tot 31 Maart vanjaar aan diens gesterf het, gelê by die gedenkmuur waarop hul name ook verewig is met dié van ander wat voor hulle gesterf het.

Van die 27 polisielede is vyf in die Oos-Kaap dood, vier in die Vrystaat, vier in Gauteng, vier in KwaZulu-Natal, drie in Limpopo, twee in Mpumalanga en twee in die Wes-Kaap. Drie beamptes van die afdeling vir sigbare polisiëring en operasies is ook in dié tydperk dood.

Van die 27 is 19 doodgeskiet, sewe het in motorongelukke gesterf en een is deur ’n stomp voorwerp getref.

Die jongste polisiebeampte wat gesterf het, was konstabel Boikokobetso Retlotlisitswe Sonopo (26) wat skaars ’n jaar ’n polisieman was voordat hy op 28 Junie verlede jaar van sy dienspistool en uniform in Tlokoeng (voorheen Mount Fletcher) beroof en toe vermoor is.

Die oudste beampte was lt.kol. Pieter Pretorius (59) van die voertuigmisdaadondersoekeenheid in Ermelo wat op 16 Januarie vanjaar in ’n lokval gelei en doodgeskiet is.

In die vorige boekjaar het 39 polisiebeamptes aan diens gesterf.

Luidens polisiestatistieke is 263 verdagtes sedert April 2023 weens polisiemoorde in hegtenis geneem, waarvan 75 gesamentlik tot 73 lewenslange en ’n bykomende 2 599 jaar tronkstraf gevonnis is.

Genl. Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris, adj.pres. Paul Mashatile en prof. Firoz Cachalia, waarnemende minister van polisie, Sondag op die gedenkdiens vir oorlede polisiebeamptes in Pretoria.
Genl. Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris, adj.pres. Paul Mashatile en prof. Firoz Cachalia, waarnemende minister van polisie, Sondag op die gedenkdiens vir oorlede polisiebeamptes in Pretoria. (Foto: GCIS)

Misdaad ’n groot bron van kommer

Mashatile het Sondag erken dat die misdaadkoers, veral georganiseerde misdaadsindikate in Suid-Afrika, ’n groot bron van kommer is.

Volgens hom verskerp die regering egter sy pogings om polisiebeamptes se veiligheid te verseker. “Ons rus gespesialiseerde eenhede toe, belê in gevorderde tegnologie, versterk intelligensie en verskerp wette om beslissend op te tree teen diegene wat polisiebeamptes teiken.”

Hy het benadruk dat ’n aanval op ’n polisiebeampte ’n aanval op die staat is wat “met die volle mag van die gereg begroet sal word”.

“Ons wil seker maak dat selfs die aanraking van ’n polisiebeampte die strengste straf wat deur ons wette toegelaat word, dra en waar moontlik, hierdie wette strenger maak.”

Mashatile sê die regering gaan voort om inisiatiewe te bevorder wat die samelewing verenig vir ’n veiliger Suid-Afrika omdat dit erken dat misdaad ’n gedeelde verantwoordelikheid tussen die polisie, gemeenskappe en die private sektor is.

“Ons moet gemeenskapsdeelname, samewerking en insluiting prioritiseer om vertroue te bou en vennootskappe tussen wetstoepassing en die algemene publiek te verbeter.”

Polisiemoorde is misdaad teen die mense

Cachalia het gesê moord op polisiebeamptes moet as ’n misdaad teen “ons mense” beskou word omdat hulle aan die voorpunt van die demokrasie gestaan het, landsburgers beskerm het en die oppergesag van die reg onder die moeilikste en gevaarlikste omstandighede gehandhaaf het.

Hy het gesê September is polisieveiligheidsmaand en dat bewustheid oor veiligheidsmaatreëls vir polisiebeamptes tydens die uitvoering van hul pligte gedurende dié maand verhoog sal word.

“Aan ons beamptes: Bly veilig terwyl julle jul pligte uitvoer. Julle is goed opgelei om julself en ons gemeenskappe te beskerm in die uitvoering van jul pligte.”

Polisiebeamptes het Sondag by die Uniegebou in Pretoria hulde gebring aan hul kollegas wat die afgelope boekjaar aan diens gesterf het.
Polisiebeamptes het Sondag by die Uniegebou in Pretoria hulde gebring aan hul kollegas wat die afgelope boekjaar aan diens gesterf het. (Foto: GCIS)

Verskerp soektog na polisiemoordenaars

Masemola het aan die oorledenes se naasbestaandes gesê dat die polisie hom aan hulle verbind omdat die opoffering van hul geliefdes nooit vergeet sal word nie.

Hy het polisiebeamptes versoek om die soektog na alle vermeende polisiemoordenaars wat nog op vrye voet is, te verskerp.

“Terwyl ons ons gevalle helde herdenk en onthou, weet ons dat daar geen tyd is om te huil nie. Ons kan nie huil nie. Ons moet in hierdie oorlog veg wat ons nie begin het nie, maar julle moet verseker wees dat ons vrede handhaaf.

“Die enigste manier om vrede te handhaaf is om seker te maak dat ons die misdadigers daar buite aan die pen laat ry,” het Masemola gesê.

– llewellyn.prince@24.com

5506

SPELETJIES VANDAG

CTA