Legende, kolos en baljagter sonder gelyke.
Dís hoe Jan Boland Coetzee se oud-spanmaats Morné du Plessis en Rob Louw hom as ’n rugbyspeler en mens geskets het. Coetzee is vroeg Vrydagoggend in die ouderdom van 80 oorlede.
“Wat ’n reus in elke opsig – ’n rugbyspeler, wynmaker en groot karakter,” het ’n hartseer Du Plessis Vrydag gesê.
“Jan Boland was plat op die aarde met ’n goeie sin vir humor. Dit was heerlik om in sy geselskap te wees en ’n glas wyn saam met hom te drink. Dis nie net in rugbykringe wat hy gemis sal word nie. Hy was ’n legendariese wynmaker, dalk selfs meer as ’n rugbylegende.”
Du Plessis, nou 75, en Coetzee het in die toetsreeks teen die All Blacks in 1976 saam in al vier toetse vir die Springbokke gespeel. Suid-Afrika het die reeks op eie bodem met 3-1 gewen.
“In daardie dae was die reëls ’n bietjie anders en hy kon omtrent vir die bal soek in ’n losskrum. Hy was ’n fetcher uit die boonste rakke. Dit maak nie saak hoe diep die bal was en hoeveel lywe daar was nie, hy sou die bal wen. Hy het die kuns vervolmaak,” het Du Plessis gesê.
“Ons het seker meer as 100 wedstryde saam vir die WP gespeel. Hy het vroeër as ek uitgetree, maar daar was ’n hegte band tussen ons.”
Louw, nou 70, het as ’n groentjie by die Maties aangekom toe Coetzee reeds gevestig was. Hy en Du Plessis het vier maande gelede by Coetzee gaan kuier toe dit rugbaar geraak het dat hy siek is.
“Ons het as ’n losvoorspeler-kombinasie gespeel ten tyde van ’n oplewing in rugby in die Westelike Provinsie. Dit was ’n ongelooflike lostrio en só heerlik om saam te speel,” onthou Louw.
“Jan Boland was kliphard. Hy het altyd sy rug gedraai en vir my die bal gegee. Ek kon van hom af hardloop. Hy het al die harde werk gedoen.
“As ’n speler was hy ongelooflik. In daardie dae kon jy ’n bal uit ’n losskrum uit trek en hy was só sterk dat hy sommer vyf ouens saam kon getrek het.”
Louw onthou ook goed hoe Coetzee vir Nick Mallett stil gemaak het in ’n intervarsity teen die Ikeys.
“Nick het ’n groot mond gehad. Jan het hom met ’n oop hand geklap en Nick het daarna nie veel te sê gehad nie!” vertel Louw.
“ ’n Helder herinnering was hoe Jan in Stellenbosch met sy bakkie en in ’n kortbroek opgedaag het. Hy was ’n kolos, ’n groot karakter.”Coetzee het ses toetse vir Suid-Afrika gespeel. Sy buiging was op 8 Junie 1974 in ’n nederlaag van 3-12 teen die Britse en Ierse Leeus op Nuweland. ’n Jaar later was hy die reserwe vir die Bok-span wat op Loftus Versfeld vir Frankryk met 33-18 geklop het. Coetzee is in die plek van ’n beseerde speler opgestuur. Daarna was dit die reeks teen die All Blacks.
Die legendariese dr. Danie Craven, Suid-Afrika se destydse Meneer Rugby, het in Die Groot Rugbygesin van die Maties geskryf dat Coetzee meer toetse sou gespeel het as dit nie was vir ’n besering wat hy opgedoen het toe hy in die vlak kant van ’n swembad ingegooi is nie.
Hy het Coetzee se beste eienskap as “lojaliteit” beskryf.
“Ek sal aan Jan Boland dink as ’n man wat by uitstek die grootste eienskap wat enige mens kan besit altyd nog gehad het en sal behou tot sy dood, want dis hoe hy gemaak is. Ek verwys hier na lojaliteit. Wat is ’n mens daarsonder,” het Craven geskryf.
Coetzee was die 463ste Springbok en 104de uit die Maties se geledere.















