’n Vlaag van ontvoerings swiep deur Suid-Afrika – van die Wes-Kaap tot in Gauteng. En weens ’n skerp toename in ontvoerings in Suid-Afrika is die risiko om ’n slagoffer daarvan te word nou bykans net so hoog soos in sommige Suid-Amerikaanse lande, sê Mike Bolhuis van Specialised Security Services (SSS).
Bolhuis het verlede week gehelp in die ondersoek na die ontvoering van ’n sakeman van Noordwes.
Van begin Januarie tot einde Maart is 4 254 ontvoerings landwyd by die polisie aangemeld, op grond van die mees onlangse misdaadstatistieke wat die polisie op hul webtuiste geplaas het.
Nuwe misdaadstatistieke is nog nie uitgereik nie weens die polemiek oor die skorsing van Senzo Mchunu as minister van polisie nadat lt.genl. Nhlanhla Mhkwanazi, polisiekommissaris in KwaZulu-Natal, aantygings van korrupsie in die polisie gemaak het.
Luidens die polisie se webwerf is die meeste ontvoerings in die eerste drie maande van vanjaar, 2 414, in Gauteng aangemeld. Dit is 329 of 15,8% meer voorvalle as ’n jaar tevore.
Die Johannesburg-Sentraal- en die Vosloorus-polisiekantoor in Ekurhuleni aan die Oos-Rand het die meeste ontvoerings in die land, 63 elk, aangemeld.
Bolhuis sê die omvang van ontvoerings is veel groter as wat die publiek besef.
“Baie mense meld nie eens ontvoerings aan nie, want hulle is te bang dat hulle of hul familielede weer geteiken sal word. Sommige mense betaal ook bloot net die losprys.”
Volgens hom was dit moontlik ’n hoogs gesofistikeerde groep ontvoerders wat Petrus Jacobus (Bakkies) Buys (71) Dinsdag uit sy huis op ’n plaas in die Elandskraal-gebied op Mooinooi in Noordwes ontvoer het.
Buys se familie het Bolhuis om hulp gevra. Hy is minder as 24 uur later ongedeerd langs ’n besige pad in Bryanston afgelaai, het Chrétien Buys, sy seun, gesê.
Bolhuis sê minstens 12 gewapende mans was betrokke en hulle het twee of drie voertuie gebruik. “Dit was beslis nie hul eerste rodeo nie. Hulle het verspieders langs die pad gehad. Van die mans was IT-kenners en daar was ook mense betrokke met inligting oor hoe bankrekeninge werk,” het Bolhuis gesê.
Die ontvoerders het Buys, wat ’n chroomwas-onderneming op die plaas bedryf, se selfoon gevat nadat hulle hom in ’n voertuig geboender het. Hulle het die simkaart in ’n ander toestel gesit waarmee hulle toegang tot sy bankrekeninge probeer kry het.
Chrétien sê die ontvoering was “die vyfde aanval op sy pa”.
Hy het vertel hoe die mans sy pa, wat ’n diabeet is, Woensdagaand in Bryanston afgelaai en selfs R400 gegee het sodat hy vir ’n Uber-rit kon betaal.
“Ons is net bly dat my pa alles oorleef het,” het Chrétien gesê.
Bolhuis sê die vermoede bestaan dat die ontvoerders Buys vrygelaat het “omdat hulle weet hy is welaf en soos ’n koei is wat gemelk kan word vir nog geld”.
Volgens Bolhuis kon ’n span van sy ondersoekers Dinsdag en Woensdag vasstel dat minstens R1 miljoen uit Buys se een bankrekening onttrek en na bankrekeninge van die ontvoerders oorgeplaas is.
Brig. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder in Noordwes, het gesê speurders van die Bojanala Platinum-subdistrik het onverpoos met lede van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid saamgewerk om Buys op te spoor. Verskeie private veiligheidsmaatskappye het ook met die soektog gehelp. Mokgwabone het gesê die polisie se ondersoek na die voorval duur voort. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Bly veilig
Bolhuis maan mense om nie hul welvaart met foto’s en video’s op sosiale media aan die groot klok te hang nie.
“Die booswigte word al hoe slimmer en hulle sien dit op sosiale media en sal jou opspoor.”
Volgens hom is die teendeel egter ook waar. “Selfs al ry jy ’n klein bakkie en dra verslete klere, maar is die eienaar van ’n myn of ’n groot onderneming, sal hulle jou kry as jy ’n teiken is.”
Volgens hom moet die eienaars van sakeondernemings “dit ernstig oorweeg om private veiligheidsdienste aan te stel vir hul beskerming”.
Oudkol. Gawie Louwrens, wat 26 jaar in die polisie was en nou Bosveldmisdaadondersoeke, ’n organisasie sonder winsbejag, bedryf, sê die toename in ontvoerings is kommerwekkend.
Ontvoerings is volgens hom vir boewe ’n “makliker” manier om geld te maak as misdrywe soos transitorooftogte of kapings. “Ontvoerings is van laer intensiteit as gewelddadige transitorooftogte waarin groot bendes saamwerk.”
Volgens die polisie se misdaadstatistieke is daar in 214 ontvoerings landwyd lospryse geëis.
Die motief vir 41 ontvoerings was afpersing en 13 ontvoerings het met mensehandel verband gehou.
In Noordwes het ontvoerings in die eerste drie maande van vanjaar met 11% of 23 toegeneem tot 230 teenoor 207 ’n jaar tevore.
Ontvoerings het ook in KwaZulu-Natal toegeneem, van 835 voorvalle van begin Januarie tot einde Maart 2024 tot 857 in die ooreenstemmende tyd vanjaar.
In die Oos-Kaap is 235 ontvoerings in die eerste drie maande van vanjaar aangemeld, 14 oftewel 6,3% meer as die 221 van ’n jaar tevore.
In een van die mees onlangse ontvoerings is Tracey Fourie (62) in Augustus in Gqeberha ontvoer en dae later vrygelaat. Haar werkgewer, Chris Kaldelis, eienaar van S&D Appliance Warehouse in Gqeberha, is in Julie ontvoer. Hy is vyf dae later vrygelaat. Lospryse is in albei voorvalle geëis, maar dit is nie bekend of dit betaal is nie.

















