Jy mag dalk al voorheen ’n natuurreservaat besoek het om die interessante plant- en diersoorte van nader te bekyk of sommer net ’n bietjie asem in die natuur te gaan skep. Maar het jy geweet dat reservate ’n uiters belangrike rol in die land se ekosisteem speel?
Christiaan Kruger, ’n voormalige wildplaasbestuurder, sê wildreservate is onontbeerlik in die bewaring van wild, want dit:
- beskerm bedreigde diersoorte en plantlewe teen onwettige jagters en stropers;
- verseker dat wild en plante doeltreffend bestuur word sodat oorbeweiding nie plaasvind nie en ’n balans in die ekosisteem gehandhaaf word;
- voorsien ’n inkomste aan plaaslike inwoners en die gemeenskap;
- lewer ’n groot finansiële bydrae tot die ekonomie deur ekotoerisme asook binne- en buitelandse jagters; en
- beskerm wild- en natuurlewe teen oortollige roofdiere wat dieregetalle kan verminder.
Willie Engelbrecht, ereveldwagter by die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (Sanparke), sê wildreservate is ook belangrik vir die bewaring van biodiversiteit, nie net om spesies van uitwissing te red nie, maar om dit vir toekomstige geslagte te bewaar.
“In die tweede plek speel dit toenemend ’n ontspanningsrol. Families en individue besoek natuurgebiede om ’n groter bewustheid van hul plek in die heelal te ervaar en om blootgestel te word aan plant- en diersoorte in hul natuurlike omgewing.”
Nog voordele van wildreservate
- Dit speel ’n bepalende rol in die bewaring van toenemend bedreigde bioomdiversiteit en ekosisteme oor Suid-Afrika heen.
- Dit gee die publiek ’n geleentheid om meer te leer oor die aanpassingsvermoë van diere in veranderende klimaatstoestande.
- Dit skep ’n platform vir die oordra van omgewingsopvoedkundige inligting.
- Dit skep ’n platform vir wetenskaplike navorsing in alle dissiplines van die natuurwetenskappe.
- Dit bied ’n veilige hawe aan bedreigde en potensieel bedreigde spesies deur programme wat spesifiek fokus op die beskerming van hierdie plant- en diersoorte en ook op die volhoubare toekomstige lewensvatbaarheid van sekere geïdentifiseerde spesies.
Hoe kan ons mense opvoed oor die belangrikheid van wildreservate?
Volgens Christiaan begin dit deur kundige mense aan te stel wat gekwalifiseerd is in wildbewaring en ’n jag- en gids-agtergrond het.
“Jou werknemers se rol is om opgevoed te bly en kliënte in te lig. Dit is die einddoel van die besigheid, oftewel die reservaat waarop hulle werk.
“Die meeste kliënte beskou jag as taboe en verstaan nie die belangrikheid om jou getalle te beheer en te verseker dat jou wildlewe gebalanseer moet word as daar te veel onvrugbare ramme, bulle of ooie/koeie is wat nie kan aanteel nie.”
Willie sê talle reservate spits hulle tans toe op die oordra van omgewingsopvoedkundige inligting aan besoekers.
“Agentskappe bestee toenemend meer geld en menslike hulpbronne aan inligtingsentrums in parke om opvoedkundige inligting oor te dra.
“Dink maar aan die toerisme-inligtingsentrum by Kaappunt, Kloofnek en Boulders in die Tafelberg Nasionale Park, nuutgeboude inligtingsentrums by Twee Rivieren in die Kgalagadi-oorgrenspark en die Olifantsaal in die Krugerwildtuin.”
Christaan reken ook dit is beter dat toeriste hul inligting direk van plaaseienaars, -bestuurders en gidse kry, eerder as om op sosiale media staat te maak.
Wat kan ons meer doen?
Begeleide dag- en nagritte in besigtigingsvoertuie met ’n opgeleide gids om kennis en ervarings oor te dra, is uiters gewild onder toeriste. Bewaringsagentskappe moet meer klem op hierdie aktiwiteite plaas, meen Willie.
“Tegnologie en kunsmatige intelligensie het vir ons die deur oopgemaak om omgewingsopvoeding en -inligting toeganklik te maak op elke besoeker se selfoon of tablet. Bewaringsagentskappe het reeds die bal aan die rol, maar kan steeds meer doen om moderne tegnologie in te span om elke besoeker ingelig te hou.”
Volgens Willie kan daar ook heelwat meer gebruik gemaak word van interaktiewe metodes om omgewingsopvoeding te bevorder.
“Ek is ook van mening dat bewaringsagentskappe baie meer kan doen om natuurreservate, en die oordrag van inligting, meer toeganklik te maak vir vooraf benadeelde gemeenskappe.”
Hoe lyk die toekoms van wildreservate?
Op die oomblik lyk ons toekoms uiters rooskleurig, meen Christiaan.
“Wildreservate word toenemend privaat beheer en bestuur, wat veroorsaak dat dit nie van buite beïnvloed kan word nie. Daar is ’n geweldige groei in ons land se wildlewe omdat reservate volgens die natuurwette reg bestuur word.
“Al speel aardverwarming ’n groot rol in voeding, neem plaaseienaars hul eie stappe om alternatiewe voeding soos lusern, hawer, mielies en ander gewasse te kweek,” sê hy.
Omdat Afrika se ekotoerismebedryf jaarliks groei, is die finansies volhoubaar genoeg om die natuurlewe meer doeltreffend te bestuur. Die geld word onder meer gebruik om arbeiders aan te stel, anti-stropingseenhede te befonds en nuwe kuddes aan te koop.
“Hoewel die land teen ’n stewige koers ontwikkel en diersoorte se habitat onder druk verkeer, het ons land se wildreservate ’n blink toekoms.”
Willie meen in die toekoms sal die suksesvolle voortbestaan van natuurreservate grootliks afhang van hoe suksesvol toeriste na die reservate gelok gaan word.
Hy sê dis belangrik om inisiatiewe en programme in plek te hê wat die toeris so lank as moontlik daar sal hou, en waardetoevoegende aktiwiteite aan te bied wat kan bydra tot die reservaat se finansiële lewensvatbaarheid.



















