Ek was destyds pas aangestel as skoolhoof toe ek besoek ontvang van die kringbestuurder (voorheen die skoolinspekteur). Min het ek besef watter vuurdoop op my as ’n jong skoolhoof wag. Nadat die kringbestuurder my welkom geheet en sterkte toegewens het, het hy my die slegte nuus meegedeel: Die skool het “te veel” onderwysers op die betaalstaat. My taak? Om twee onderwysers botallig te verklaar. Dit was die laaste ding waarmee ’n skoolhoof gekonfronteer wou wees. Laat staan nog op jou eerste dag as skoolhoof van ’n arm skool.
Elke jaar gedurende September ontvang skole hul nuwe postevoorsiening van die provinsiale departement van onderwys – dus die getal poste waarvoor die skool kwalifiseer. Indien die skool se leerlingtal afgeneem het, verloor die skool ’n pos of twee en moet die skool die proses – soos beskryf in “Kollektiewe Ooreenkoms 4 van 2016” – volg. In hierdie dokument word die stappe beskryf wat gevolg moet word om te bepaal wie botallig verklaar word, asook die stappe om die botallige (addisionele) opvoeders toepaslik te plaas.
Hoe werk dit? Die skoolhoof moet ’n formele personeelvergadering belê en sy personeel in kennis stel van die nuwe personeelvoorsiening en die proses verduidelik wat gevolg sal word om die botallige opvoeder(s) te identifiseer. Die inligting moet vir almal toeganklik wees. Die skoolhoof moet met die personeel konsulteer oor die moontlike kriteria wat aangewend kan word om opvoeders as botallig te identifiseer. In hierdie stadium moet die skoolhoof ’n geleentheid bied aan opvoeders wat vrywillig addisioneel verklaar wil word om na vore te kom.
Die skoolhoof, tesame met die kringbestuurder, besluit saam wie tot botallig verklaar gaan word deur die volgende in oorweging te neem: die insette van die personeel tydens die formele personeelvergadering; die kurrikulumbehoeftes en verpligtinge van die skool; die aantal periodes; die skoolrooster; en die toekenning van leerlinge aan klasse.
Die skoolhoof kan ook aanbeveel dat opvoeders wat botallig tot die personeelvoorsiening verklaar word, geabsorbeer word in vakatures wat binne die volgende ses maande sal ontstaan weens bedankings, bevorderings, aftrede en mediese ongeskiktheid.
Een verteenwoordiger van elke vakbond tot die Raad van Arbeidsverhoudinge vir Onderwys (Ravo) moet as waarnemer na hierdie vergadering uitgenooi word. Indien daar besluit moet word oor twee of meer opvoeders wat om dieselfde pos meeding, sal die beginsel van “laaste in, eerste uit” (Lifo) toegepas word. Dit beteken die personeellid wat die laaste aangesluit het, is die eerste om sy pos te verloor. Vir dié doeleindes is ’n opvoeder se aaneenlopende, ononderbroke diens by enige openbare skool (ook by ’n ander skool) van toepassing.
Die opvoeder(s) wat as botallig geïdentifiseer is, word skriftelik deur die provinsiale departement van onderwys in kennis gestel.
Wat is geskikplasing?
Onderwysers wat botallig tot die nuwe personeelvoorsiening verklaar is, moet kennis neem dat hulle nie ontslaan of afgedank word nie. Die provinsiale departement van onderwys het ’n wetlike verpligting teenoor só ’n opvoeder se geskikplasing. Dit beteken die departement kan die opvoeder oorplaas na ’n ander pos wat by die persoon se kwalifikasies en ondervinding pas. Maar dit kan slegs geskied op aanbeveling van die beheerliggaam van die skool waarheen die onderwyser oorgeplaas word.
Die departement kan ’n lys van vakatures en posbeskrywings aan die botallige opvoeder voorhou wat aan dié onderwyser opsies bied. Indien die opvoeder versuim om ’n keuse uit te oefen, kan die departement dit namens die opvoeder doen.
Skoolhoofde en onderwysers sal kan getuig dat hierdie ’n stresvolle tydperk vir almal in die skool is. Wat veral pla, is dat die mens agter die opvoeder selde in ag geneem word. Die persoon met meer jare ondervinding wat voorkeur kry, is nie altyd die beste onderwyser vir die skool op daardie tydstip nie. Meer diensjare is nie noodwendig gelyk aan toewyding, lojaliteit en gehalte nie. Dit neem ook nie die individu se liefde vir kinders of passie vir die onderwys in ag nie.
Een plus een is ook nie altyd twee nie. Die getalle van die departement en die behoeftes van die skool stem dikwels nie ooreen nie. Die basis vir die berekening van die skool se diensstaat is die getal kinders in die klas. In 2024 was die opvoeder-per-leerling-ratio 1:34. Maar dit is nie hoe die dinamika van ’n skool, veral ’n hoërskool soos die een waarvan ek die hoof was, werk nie.
So, hoe het die situasie verloop? Ek gaan skuilname gebruik om betrokkenes te beskerm.
Kuns, musiek en sport
Die kuns- en musiekklasse in talle skole is klein, dikwels met minder as sewe leerlinge per klas. Baie skole kan dit nie bekostig om ’n musiek- of kunsonderwyser deur ’n beheerliggaampos te behou nie.
Annemart, ’n knap musiekonderwyseres, is botallig verklaar. Min skole is bereid om die risiko te loop om ’n kuns- of musiekonderwyser aan te stel, wetende dat dit een van die eerstes is wat onder die valbyl kom indien iemand botallig verklaar word. Tog is die musiekonderwyser dikwels die gesig van die skool wat op koorfeeste en die jaarlikse revue die skool se naam hoog moet hou. Maar blykbaar tel dit niks nie as die botallige spook begin loop.
In armer skole is die getalle vir wiskunde en fisiese wetenskap ook heelwat minder as 34 per klas. Gevolglik word klasse soos tale, aardrykskunde en geskiedenis oorlaai. Die oorvol klasse lei weer tot dissiplinêre probleme. Onderwysers is oorwerk, met gepaardgaande afwesigheid, en onderwysers wat uitbrand, verlaat die beroep vroeg.
Suid-Afrika word dikwels as ’n sportmal nasie beskou. Die manier hoe sportonderwysers – in die ou bedeling dié wat liggaamlike opvoeding (LO) gegee het – in die verlede behandel is, vertel egter ’n ander storie. Die voorkeur van eksamenvakke bo nie-eksamenvakke is dikwels ’n verskoning om skreiende onreg teenoor sportonderwysers te pleeg. Baie is al botallig verklaar. Dit was die doodskoot vir skolesport in arm skole. Dié beheerliggame kan, anders as by voormalige model C-skole, nie bekostig om die dienste van sportonderwysers te behou nie.
In my geval het die lot ook op die sportonderwyser geval. Gelukkig kon ons vir Sunet by ’n buurskool plaas. Jo-Anne, nog ’n sportonderwyser en ’n goeie vriendin, is botallig verklaar al was sy die hart van daardie skool se sportprogram. Sy het met verskeie netbalspanne die land vol getoer.
Met die aanbreek van die demokrasie is LO en voorligting summier van die tafel gevee en vervang met lewensoriëntering: ’n mengelmoes van vigs- en beroepsvoorligting met ’n tikseltjie sport. Dié nie-eksamenvak kon nog nooit die tradisionele sportonderwyser en die voorligtingonderwyser vervang nie. Albei is met die koms van demokrasie botallig verklaar. Sedertdien kry leerlinge nie meer goeie beroepsvoorligting nie. Dit verklaar ook waarom so baie matrieks in hul eerste jaar op universiteit vasval.
Waar is hulle nou?
Sunet kon daarin slaag om die oorgang te maak na ’n ander skool waar haar dienste en kundigheid benodig is. Sy is steeds dolgelukkig by dié voormalige model C-skool waar haar kennis van LO en passie vir kinders suksesvol aangewend word tot voordeel van die kinders. Dit is ’n wen-wen-situasie.
Annemart kon ’n tydelike pos by ’n nieregeringsorganisasie bekom, waar sy tans na-ure musiekklasse vir minderbevoorregte kinders gee. Haar leerlinge is baie lief vir haar en sy vir hulle. Sy is gelukkig en hulle is gelukkig. Toe ek onlangs die sentrum besoek het, het dié leerlinge en hul juffrou gestraal toe hulle die gaste met hul musiektalent vermaak het.
Jo-Anne was egter nie so gelukkig nie. Sy kon nie die skok van haar botalligheid verwerk nie. Haar opgewekte lag en sprankelende persoonlikheid het plek gemaak vir ’n somberheid. Elke dag het ’n stukkie van haar weggekwyn namate sy geleidelik agteruitgegaan het. Kort na haar 60ste verjaarsdag het sy, een van die fiksste sportvroue van ons tyd, ernstig siek geword en ’n vroeë dood gesterf. Niemand sal ooit weet of haar botallig-verklaring bygedra het tot haar dood nie. Dat dit wel ’n negatiewe invloed op haar gesondheid gehad het, is seker.
Nie almal is so gelukkig soos Sunet nie. Ander loop dieselfde paadjie as Jo-Anne.
’n Meer menslike proses om botallige opvoeders te identifiseer, is noodsaaklik. Talle skoolhoofde en beheerliggame het nie die kundigheid om so ’n komplekse situasie wat so ’n groot impak op onderwysers se emosionele welstand het, suksesvol te bestuur nie. Hulle benodig hulp en opleiding om dit te doen.
















