Verstappen spring voor weg op Monza

Max Verstappen van Red Bull vier sy blitsige rondte Saterdag wat hom van die voorste wegspringplek in Sondag se Italiaanse Grand Prix verseker het.
Max Verstappen van Red Bull vier sy blitsige rondte Saterdag wat hom van die voorste wegspringplek in Sondag se Italiaanse Grand Prix verseker het. (Foto: Reuters)

Die Nederlander Max Verstappen het Saterdag die Monza-rondterekord verpletter om vir Red Bull ’n voorste wegspringposisie in Sondag se Italiaanse Grand Prix te bespreek.

Voor sy verbluffende poging het dit na ’n uitgemaakte saak gelyk dat McLaren se Lando Norris vir die tweede seisoen in ’n ry op Monza in posisie nr. 1 (P1) gaan begin.

Norris het in sy laaste kwalifiseringsrondte Saterdag die McLaren soos ’n vetgesmeerde blits om Monza gestuur. Maar Verstappen se tyd van 1 minuut 18.792 sekondes was 0.077 sek. vinniger as die Brit s’n.

Die verdedigende Formule Een-kampioen het hiermee sy 45ste voorste wegspringplek in sy loopbaan bespreek, sy vyfde die seisoen en sy eerste sedert die Britse GP op Silverstone in Julie vanjaar.

Die vorige Monza-baanrekord was 1:18.887, wat die sewemalige GP-kampioen Lewis Hamilton in 2020 by die “Tempel van Spoed” opgestel het.

“Ja, ouens, dis ongelooflik! Puik werk deur almal en als het perfek gewerk. Dis baie goed,’’ het Verstappen kort ná sy blitsige rondte oor die spanradio laat weet.

Die Australiër Oscar Piastri, McLaren se voorloper op die puntelys, het Saterdag in die derde plek gekwalifiseer, met Ferrari se Charles Leclerc – verlede jaar se Monza-wenner – in die vierde plek.

Die McLaren-spanmaats Lando Norris (regs) en Oscar Piastri gesels ná Saterdag se kwalifisering. Een van die twee sal in alle waarskynlikheid vanjaar se F1-kampioen wees.
Die McLaren-spanmaats Lando Norris (regs) en Oscar Piastri gesels ná Saterdag se kwalifisering. Een van die twee sal in alle waarskynlikheid vanjaar se F1-kampioen wees. (Foto: Reuters)

Sondag se ren sal waarskynlik uitloop op ’n toutrekkery tussen Piastri en Norris, wat net 34 punte agter sy spanmaat op die puntelys is.

“Max was vinnig die naweek, maar dis nie ’n verrassing nie,’’ het Norris Saterdag ná die laaste kwalifiseringsrondte gesê.

“Dit was ’n uitdagende sessie vir my en ’n foutjie hier en daar het my gekortwiek. Maar P2 is nie te versmaai nie, so ek is heel in my noppies.’’

Piastri was ook tevrede met sy “netjiese’’ rondte sonder enige groot foute.

“Die uitslag is nie ’n massiewe verrassing nie. Uit die aard van die saak sou ons P1 en P2 wou gehad het. Maar ons sal Max Sondag jaag,’’ het Piastri gesê.

Volledige wegspringrooster:

1. Max Verstappen (Red Bull); 2. Lando Norris (McLaren); 3. Oscar Piastri (McLaren); 4. Charles Leclerc (Ferrari); 5. George Russell (Mercedes); 6. Kimi Antonelli (Mercedes); 7. Gabriel Bortoleto (Sauber); 8. Fernando Alonso (Aston Martin); 9. Yuki Tsunoda (Red Bull); 10. Lewis Hamilton (Ferrari); 11. Oliver Bearman (Haas); 12. Nico Hülkenberg (Sauber); 13. Carlos Sainz (Williams); 14. Alex Albon (Williams); 15. Esteban Ocon (Haas); 16. Isack Hadjar (Racing Bulls); 17. Lance Stroll (Aston Martin); 18. Franco Colapinto (Alpine); 19. Pierre Gasly (Alpine); 20. Liam Lawson (Racing Bulls).

* Volg die aksie regstreeks vanaf 15:00 op SS215.

SPELETJIES VANDAG

CTA