Toe JD Vance, visepresident van die VSA, in Februarie in ’n toespraak op ’n konferensie oor sekuriteit in München gesê het dat die “grootste bedreiging vir die sekuriteit van Europa nie Rusland of China” is of “enige ander eksterne akteur” nie, maar dat daar ’n “bedreiging van binne” Europa heers, was die gort gaar.
Mense het histeries gereageer toe Vance gesê het Europa het in die afgelope dekades van sy mees fundamentele waardes afgesien. Hy het Europese owerhede en die administrasie van oudpres. Joe Biden, wat volgens hom sensorskap toegepas het, met Sowjet-tiranne uit die Koue Oorlog vergelyk.
Die woede oor Vance se stelling oor Europa se “bedreiging van binne” – ’n herinnering aan ’n gunstelingfrase van pres. Donald Trump as hy na die Demokratiese Party in die VSA verwys as “die vyand van binne” – het kommentators só verblind dat byna niemand begryp het dat Vance se toespraak eintlik uit 341 v.C. dateer het nie.
Die eerste orator wat vir ’n welvarende samelewing op ’n afwaartse trajek in ’n vurige toespraak gesê het dat die grootste bedreiging vir hul veiligheid nie ’n eksterne tiran is nie, maar eerder ’n “bedreiging van binne” is, is die antieke Athener Demosthenes in sy toespraak oor die stadstaat Athene en koning Philippos van Macedonië.
Philippos was ’n tiran, en die vader van Alexander die Grote, wat die vryheid van stadstate in die Griekse skiereiland bedreig het. Demosthenes het die selfvoldane Atheners van sy tyd daarvan beskuldig dat hulle onwillig was om die feite van Philippos se aggressie in oënskou te neem en daadwerklik op te tree om hul vryheid – en die van ander stadstate – te beskerm.
In dié tyd was die demokrasie van die antieke Atheense stadstaat weens die gevolge van ’n jare lange oorlog met Sparta en talle ander redes op sy einde en Demosthenes was die laaste stem in die openbaar wat dit teen tirannie verdedig het. Net so – en met hulde aan Demosthenes as die grootste orator en skrywer van toesprake in die tradisie – was Cicero ongeveer 300 jaar later die laaste openbare pleitbesorger wat die Romeinse republiek in toesprake teen die tirannie van Julius Caesar en Markus Antonius verdedig het. En só is daar telkemale in groot politieke toesprake tydens wendings in die geskiedenis hulde aan Demosthenes gebring.
Dit is ook deur Thomas Jefferson en John Adams gedoen in die Amerikaanse Onafhanklikheidsoorlog. En Winston Churchill het Nazi-Duitsland in die Tweede Wêreldoorlog as Europa se “bedreiging van binne” bestempel.
Temas en woordgebruik in Vance se toespraak in München vergelyk direk met dié van Demosthenes en die oratoriese tradisie wat ná hom gevolg het. Tog, nou nog, as ’n mens ’n soektog aanlyn hieroor doen, merk niemand dit in ’n populêre of akademiese artikel op nie. Al wat ná afloop van Vance se toespraak beklemtoon is, is die geweldige woede wat daaroor ontstaan het.
Hiermee wil ek nie sê dat Vance ’n buitengewone spreker is en daarvoor geprys moet word nie, of dat die Trump-administrasie en sy toespraakskrywers se verwysing na klassieke temas beteken dat ’n Amerikaanse beleidsrigting vlekkeloos is nie.
Dit is eerder skokkend dat gehore en kommentators nie meer weet hoe en waar om betekenis toe te ken nie.
Die verlies om ons wêreld van duisende jare nie te verstaan nie, is enorm. Mense word net opgesweep en hul woede lei dikwels tot niks. Die onbegrip wat heers, word deur die gebruik van generatiewe kunsmatige intelligensie verdriedubbel. Vryheid is om stemme uit die verlede te hoor en met begrip met daardie stemme in gesprek te tree.
) Kok is ’n dosent in politiek aan Akademia.














