'n Groep van 35 kleiner politieke partye wil die Kieshof nader om die stemproses op 8 Mei ongeldig te laat verklaar.
Die groep het ook Vrydag by die Verkiesingskommissie (OVK) se uitslagsentrum in Pretoria gevra dat die OVK 'n onafhanklike firma moet aanstel om die proses te oudit.

Die OVK het vroeër aangedui dat die proses geoudit sal word.
Volgens hulle moet die verkiesing weer gehou word omdat daar geen manier is dat die verkiesing vry en regverdig was nie.
Hul ontevredenheid spruit uit die beweerde ongerymdhede wat op stemdag by verskeie stempunte aangemeld is insluitend mense wat glo in staat was om twee keer te stem.
Romeo Ramuada, sekretaris-generaal van die African Content Movement, sê die groep is van plan om Vrydag hofstukke by die Kieshof in te dien.
"Ons veg vir 'n wettige proses. Ons wend ons tot die hof omdat ons wil hê 'n onafhanklike oudit moet gedoen word en die verkiesing moet weer gehou word.
"Hoe kan dit wees dat ek as lid van 'n party by 'n sekere stempunt my kruisie getrek het, maar die uitslae van daardie stempunt toon nul stemme vir my party?"
Vanessa Swanepoel, nasionale sameroeper van die Land Party, het gesê dit lyk nie asof kleiner partye ernstig opgeneem word nie.
Zanele Lwana, onderleier van Black First Land First (BLF), sê dit lyk asof die OVK slegs besware deur gevestigde partye in ag neem.
"Daar is baie nuwe rolspelers, soos ons party, wat nie ernstig opgeneem word nie. Die verkiesing behoort nie net vir die groot en gevestigde partye soos die ANC, DA en die EFF te wees nie.
"Watter boodskap stuur dit aan die duisende mense wat vir nuwe partye gestem het as dié partye nie ernstig opgeneem word nie? Dit beteken die hele verkiesingstelsel is ontwerp om slegs groter party te bevoordeel wat 'n bewese rekord het," sê Lwana.

Dennis Bloem, woordvoerder van Cope, het ontken dat dit 'n geval van suur druiwe is.
"Ons gaan nie toelaat dat die regering van ons land 'n piesangrepubliek maak nie. Baie partye sê dat tot vyf, ses lede van die party gestem het en tog toon die uitslae daar is geen stemme (vir dié partye) nie. Dit is waarom Cope die 34 ander partye ten volle ondersteun.
"Daar kan nie gesê word dat die verkiesing vry en regverdig is nie. Ons gaan die internasionale gemeenskap vra om tussenbeide te tree," sê Bloem.
Vanessa Swanepoel, nasionale sameroeper van die Land Party, het gesê dit lyk nie asof kleiner partye ernstig opgeneem word nie.
"Die politieke landskap het verander. Ons kan nie bloot as 'n klein, individuele party afgeskiet word nie. Ons is almal verskillend, maar ons verteenwoordig baie belangrike kiesafdelings en ons mense wil hê hul stemme moet gehoor word."

















