Selfs die DA verwag dat die ANC die Vrystaat sal behou ondanks binnegevegte en 'n skokkende boek oor Ace Magashule, die voormalige premier.

Want Gangster State, die opspraakwekkende boek van Pieter-Louis Myburgh, word meestal deur middelklaskiesers gelees, en baie van die bewerings oor Magashule is vir die ANC-basis geen geheim nie.
Prof. Theo Neethling, hoof van die departement politieke wetenskap en regeerkunde aan die Universiteit van die Vrystaat, het die afgelope week met Rapport se besoek aan die Vrystaat gesê diensleweringskwessies kan wel 'n rol in ANC-steunvlakke speel, wat in 2016 'n laagtepunt van 62,4% bereik het.
Griewe teen die ANC kan in 'n wegblystem manifesteer.
Die Vrystaat is histories 'n sterk ANC-vesting, maar die party boer agteruit daar.
In 2014 het die DA 16%, die EFF 8% en die VF Plus 2% gekry.
Politieke rolspelers sê ANC-faksies is in die verlede voor verkiesings verenig, maar vanjaar pak hulle mekaar kaalvuis, soos uit Woensdag se hofsaak in die hooggeregshof in Johannesburg blyk. Die hof het 'n dringende aansoek van die hand gewys van ontevrede ANC-lede wat die uitslag betwis het van die party se lysproses in die provinsie.
Bronne in die Vrystaat sê dit wys Magashule het 'n vakuum gelaat, want hy het die faksies altyd voor 'n verkiesing saamgesnoer. Dis oral "ANC teen die ANC". Ondersteuners van pres. Cyril Ramaphosa is gegrief omdat die party se provinsiale lyste met Magashule-lakeie gelaai is.
Die ANC se groot twis met raadslede in die Maluti-a-Phofung-munisipaliteit (Qwaqwa, Harrismith en Kestell), waar meer as 'n kwart van die provinsie se inwoners woon, is ook potensieel plofbaar.
Histories het die ANC daar 80% plus van die stemme gekry. Die ANC se provinsiale tugkomitee het egter 16 raadslede afgedank nadat hulle saam met die opposisie gestem het om Gilbert Mokotso in Junie 2018 tot nuwe burgemeester te verkies.
Sekhopi Malebo, oud-Vrystaatse LUR, sê daar is inderdaad "ernstige ontevredenheid" oor die kandidatelyste, en hy hoop daar is 'n manier om dit ná die verkiesing reg te stel. Thabo Meeko, ANC-woordvoerder in die Vrystaat, sê sy party erken nie die interne verdeeldheid nie, maar die ANC is in staat om dit te hanteer.
"Daar word voorspel ons sal net meer as 50% kry. Ons is nie arrogant nie. Ons glo die mense sal ons vergewe. Ons hoop vir tussen 60% en 70%," sê hy.
Werner Horn, DA-verkiesingshoof in die Vrystaat, sê in die proses het dienslewering totaal ineengestort, met groot probleme ten opsigte van water- en elektrisiteitsvoorsiening. Die griewe kan ANC-steun strem.
Die DA, daarenteen, spog met 'n "goeie grondveldtog" en Horn sê as die ANC nie die steun in Maluti-a-Phofung terugkry nie, "het die party moeilikheid".
"Die stemme daar gaan bepaal of hulle 'n gesonde meerderheid gaan kry of net-net bo 50% kan eindig."
Werkloosheid in die Vrystaat het van 'n laagtepunt van 15% in 1994 opgeskiet na 35% en jeugwerkloosheid na 60%, sê die DA.
"Dit word toegeskryf aan wanbestuur, maar ook die feit dat baie boere nou eerder stukwerkers in dorpe gaan haal as om voltydse werkers aan te hou."
Een party wat 'n swaai verwag weg van die DA, is die VF Plus, wie se Vrystaatse leier, Jan van Niekerk, op 'n tweede wetgewersetel hoop.



















