Verkiesings 2019

ANC se groot steun kom van Limpopo

Marcelle Maritz, VF Plus-leier in Limpopo. Foto: Verskaf
Marcelle Maritz, VF Plus-leier in Limpopo. Foto: Verskaf

Limpopo is die provinsie waar die ANC in vanjaar se verkiesing die meeste steun gekry het.

Teen Vrydagmiddag laat het dié party 77,23% van die stemme gehad, met bykans 90% van die stemme wat getel is. Die ANC swaai die septer in al die munisipaliteite in Limpopo.

Net 58% van die meer as 2 miljoen geregistreerde kiesers het egter Woensdag hul kruisies getrek.

Prof. André Duvenhage, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit, sê omdat Limpopo die tuisprovinsie is van pres. Cyril Ramaphosa en Julius Malema, EFF-leier, het hul "sterk persoonlikhede" die stemme vir die partye laat inrol.

Die EFF is reeds sedert 2014 die amptelike opposisie in Limpopo en het teen Vrydagmiddag 12,86% van die provinsiale stemme gehad. Dit is 'n verbetering op 2014 se 10,27%.

Jacques Smalle, DA-leier in Limpopo. Foto: Verskaf
Jacques Smalle, DA-leier in Limpopo. Foto: Verskaf

Malema het Woensdag by die Mponegele Primary School in Seshego buite Polokwane gestem en is deur 'n groot groep mense toegejuig toe hy met hulle gepraat het.

Duvenhage sê kiesers in Limpopo se uitgestrekte landelike gebiede is konserwatief en voel veilig om vir die ANC te stem.

"Dit is duidelik dat die VBS Mutual Bank-skandaal geen impak op kiesers se stemkeuse gehad het nie."

Die DA in Limpopo is een van die partye wat die ANC behoorlik gekasty het nadat agt munisipaliteite in Limpopo sowat R2 miljard onwettig by dié bank belê het.

Desondanks het die DA swak gevaar met slegs 5,4% van die kiesers wat vir die party gestem het. In 2014 het die DA 6,60% van die stemme gekry.

Julius Malema, sy vrou, Mantwa, en Jossey Buthane, EFF-leier in Limpopo, Woensdag. Foto: Marietie Louw-Carstens
Julius Malema, sy vrou, Mantwa, en Jossey Buthane, EFF-leier in Limpopo, Woensdag. Foto: Marietie Louw-Carstens

Duvenhage sê swak leierskap op provinsiale vlak het moontlik veroorsaak dat die DA swakker gevaar het.

Jacques Smalle, provinsiale DA-leier, sê hy is teleurgesteld met die uitkoms. Hy het die provinsie deurkruis in die party se verkiesingsveldtog.

Marcelle Maritz, VF Plus-leier in Limpopo, sê hoewel die party sy stemme verdubbel het sedert die 2014-verkiesing het hulle steeds net 'n raps meer as 1% van al die stemme in Limpopo gekry.

* In Mpumalanga het die EFF die DA as amptelike opposisieparty onttroon. Die EFF het nou 11,51% stemme teenoor die 6,15% wat die party in 2014 behaal het. Die DA het die derde meeste stemme met 9,12% in die provinsie.

Die Verkiesingskommissie (OVK) sê 66,13% van Mpumalanga se geregistreerde kiesers het gestem.