Miljoene mense in Suid-Afrika het Woensdag ondanks die reën en slegte weer in baie gebiede opgeruk om te gaan stem.
Selfs in gietende reën het mense op plekke geduldig in rye gestaan en wag om hul kruisies te gaan trek.

Van die gebiede waar dit volgens die Kaapstadse kantoor van die Suid-Afrikaanse Weerdiens die meeste gereën het, is Noupoort in die Noord-Kaap (36 mm), Stellenbosch (22 mm) en Aliwal-Noord (19 mm).
In Gauteng, Mpumalanga en Limpopo was dit droog, terwyl ligte reën in KwaZulu-Natal en Noordwes geval het.
In die Wes-Kaap was die reën nie te ondraaglik nie, en die plekke met die hoogste syfers is Franschhoek (13 mm), Porterville (7 mm), Ceres (6 mm) en Wellington (4 mm).
Ook in die Vrystaat by die Gariepdam is 16 mm reën gemeet, 13 mm in Bloemfontein en 10 mm in Bethlehem. Swaar donderstorms het Woensdagaand in dié provinsie voorgekom en 16 tydelike stempunte in Mangaung het omgewaai.
Die stemproses is ook in die Oos-Kaap by meer as 30 stempunte belemmer deur swaar reën in die Nelson Mandelabaai-metro en in Cradock, berig Philda Essop.
Verskeie partye het aangedui dat hulle tevrede is met die getal kiesers wat die weer getrotseer en opgedaag het om te stem.

Vir Donderdag het die SA Weerdiens mooiweer voorspel vir die grootste deel van die land, met ligte reën wat tussen Plettenbergbaai en Stormsrivier in die Oos-Kaap kan val.
Motreën word voorspel vir Limpopo en Mpumalanga in die aand.









