Verkiesings 2019

EFF en VF Plus vaar goed in Noordwes

Noordwes sal beslis in ANC-hande bly, maar dit lyk asof die landskap van opposisiepolitiek in dié provinsie anders gaan lyk as tevore met die EFF en VF Plus wat sterker na vore tree.

Teen Donderdagmiddag laat, toe sowat 67% stempunte in Noordwes getel is, was sowel die ANC as die DA se steun effens laer as in 2014, maar die EFF en VF Plus se steun het veral in sommige gebiede taamlik toegeneem.

Michal Groenewald, VF Plus-leier in Noordwes, en Percy Booth, 'n ondersteuner, Woensdag by die party se stalletjie by 'n stempunt in Stilfontein. Die VF Plus het reeds die meeste stemme in dié wyk gekry. Dr. Pieter Groenewald, nasionale leier van die VF Plus, woon daar. Foto: Susan Cilliers
Michal Groenewald, VF Plus-leier in Noordwes, en Percy Booth, 'n ondersteuner, Woensdag by die party se stalletjie by 'n stempunt in Stilfontein. Die VF Plus het reeds die meeste stemme in dié wyk gekry. Dr. Pieter Groenewald, nasionale leier van die VF Plus, woon daar. Foto: Susan Cilliers

Steun aan die EFF, die amptelike opposisie in die provinsie, het van 13,2% in 2014 tot 18% gestyg. Die VF Plus se steun het ook toegeneem tot 4,2% teenoor 1,6% in 2014. Die ANC se steun was op 63,6% effens laer as 2014 se 67,3%, terwyl die DA se steun van 12,5% in 2014 tot 9,9% gedaal het.

Dr. Piet Croucamp, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit, meen dié syfers is 'n taamlik "verteenwoordigende steekproef" en dat die finale syfers nie veel daarvan sal verskil nie.

"Hoewel die ANC sowat 63% van die stemme gekry het, is hul steun in werklikheid veel laer omdat net 30% van stemgeregtigdes vir die ANC gestem het. Die daling in die DA se steun is omdat van hul ondersteuners na die VF Plus gemigreer het."

Croucamp sê die EFF se steun is steeds swakker as wat die party sou wou hê. Hy voorspel die EFF het 'n plafon bereik en dat dit ooreenstem met die wêreldwye tendens dat populistiese partye dikwels (nasionaal) nie meer as 10% steun kry nie. Teen Donderdagmiddag laat was die party se nasionale steun sowat 9,6%.

Joe McGluwa, DA-leier in Noordwes, het gesê hulle het beter uitslae vir die DA voorspel as wat die persentasies teen laatmiddag getoon het, maar die DA hoop steeds hul steun sal styg soos meer stemme getel word. "Ons is bly ons kon reeds sekere wyke by die ANC afneem, soos in Alabama (by Klerksdorp) en Promosa (by Potchefstroom)."

Die DA se steun in Noordwes was teen Donderdagmiddag laat veel laer as die nasionale steun van 22,5% vir dié party. Die party het egter betreklik goed presteer in Matlosana (Klerksdorp-omgewing) en Madibeng (Brits-omgewing), waar hy tussen 14% en 16% stemme kon kry.

Michal Groenewald, VF Plus-leier in Noordwes, skryf dié party se sterk groei toe aan "harde werk" en die feit dat mense al hoe meer begin besef hul party hoef nie noodwendig te wen nie. "Mense begin verstaan dit gaan daaroor dat 'n party jou belange binne koalisies kan beskerm."

Die VF Plus het teen Donderdagmiddag reeds verskeie wyke geneem: die hele Schweizer-Reneke-kerndorpsgebied, asook wyke in Swartruggens, Koster en Zeerust. "Ons het ook baie in Vryburg gegroei," sê Groenewald.

Die VF Plus het teen Donderdagmiddag laat besonder goed presteer in die Kgetlengrivier-gebied (Swartruggens en Koster), waar die party 13,3% van die stemme op hom kon verenig. Die party het in die J.B. Marks-munisipaliteit wat Potchefstroom en Ventersdorp bedien, reeds 9,3% van die stemme gekry.

Betty Diale, EFF-leier in Noordwes, sê die party het verwag dat hul steun in meeste gebiede sal groei, soos die syfers teen laatmiddag gewys het. "Ons is teleurgesteld dat ons nie nóg beter gevaar het nie, en bekommerd oor bewerings dat ANC-lede in Rustenburg en Mahikeng meer as een keer gaan stem het." Die EFF se steun in Noordwes was teen laatmiddag amper dubbeld die nasionale syfer. Die party het veral uitgeblink in Rustenburg (21,6%) en Mahikeng (24,6%).

Dr. Tumelontle Thiba, hoofkiesbeampte in Noordwes, sê hulle het net een klag oor dubbelstemmery in die provinsie uit Marikana ontvang. "Ons ondersoek dit."

CTA