Alle aanduidings is dat die verkiesing nie veel verrassings in die Vrystaat en Noord-Kaap gaan oplewer nie, behalwe dat die EFF volgens die jongste Ipsos-meningspeiling 'n kans staan om die rol van amptelike opposisie in die Vrystaat by die DA oor te neem.
Volgens dié peiling is dit onwaarskynlik dat die DA sy doelwit sal bereik om die ANC in die Noord-Kaap te klop.

Die Vrystaat, wat onder diensleweringsprobleme steier, is saam met Gauteng en Limpopo die provinsies waar die EFF die sterkste steun geniet, en die party behoort in al drie die amptelike opposisie te word.
Volgens Ipsos kon geen duidelike aanduiding oor die ANC se vertoning in die Vrystaat en die Noord-Kaap gekry word nie.
Die ANC sal ongeag die opkoms by die stempunte nasionaal meer as 60% van kiesers se steun - en selfs tot 65% - kry.
Volgens prof. Theo Neethling, hoof van die departement politieke wetenskap en regeerkunde aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) kan die verwagte afname in steun vir die Vrystaatse ANC moontlik tot groter verantwoordbaarheid lei.

Die DA het vroeër die week op 'n mediakonferensie in Kaapstad by monde van sy nasionale veldtogbestuurder, Jonathan Moakes, gesê die party se meningspeilings het oor die laaste weke in KwaZulu-Natal én die Vrystaat 'n sterk afwaartse kurwe in ANC-steun waargeneem.
Neethling sê ná die verwoestende Ace Magashule-tydperk wil hy nie nou al van 'n heropbou van die Vrystaat praat as opposisiepartye gesamentlik meer setels in die Vrystaatse wetgewer kry nie, want dit is nie duidelik hoeveel meer setels daar vir die opposisie gaan wees nie. In dié stadium hou die ANC 22 uit die 30 setels.
Hy dink ook die EFF gaan moontlik die grootste begunstigde van die ANC se verswakte posisie wees. Die dinamika tussen die ANC en die EFF ná die verkiesing sal bepalend wees.
Neethling dink die DA, wat 'n sterk rol as opposisie teen die ANC vervul, kan moontlik steun aan die VF+ verloor.
Die politieke skrywer Jan-Jan Joubert sê die net span ál nouer rondom Magashule, wat in die verlede energie in ANC-veldtogte geblaas het. Dit gaan interessant wees om die invloed van sy vertrek uit die Vrystaat op die ANC dop te hou, omdat ANC-veldtogte vanjaar sonder energie was.
Dr. Ina Gouws van die UV se departement politieke wetenskap en regeerkunde sê groot getalle Vrystaatse stemgeregtigdes het hulle nie vanjaar vir die nasionale verkiesing geregistreer nie. Die wegbly-stem gaan volgens haar deurslaggewend wees.
Wouter Wessels, nasionale verkiesingshoof van die VF+, sê hulle is optimisties.
"Dit lyk asof die VF+ groot groei gaan toon."

















