Wat kan 'n mens tot dusver lees in vanjaar se verkiesingsuitslae, vra Dirk Kotzé.

Die 2019-verkiesing het reeds antwoorde verskaf op 'n hele paar kwessies. Ander bly onseker.
Die kwessies wat tot dusver die aandag getrek het, sluit in:
1. Die protesstem
Reeds met die registrasieproses was daar duidelike tekens van 'n wegbly- of protesstem.
Vanjaar het die persentasie van kieserregistrasies - die getal stemgeregtigdes wat die moeite gedoen het om as kiesers te registreer - van 80,8% in 2014 tot 74,6% gedaal.
Ná Woensdag is dit ook duidelik dat die stempersentasie - die getal mense wat wel geregistreer is, maar steeds nie gaan stem het nie - ook dramaties gedaal het van 73% in 2014 tot 65%. Dit word verder uitgewys deur die registrasie van 18- tot 19-jariges, wat tot 19% gedaal het.
Wat beteken dit vir die verkiesing?
'n Verlaging in stempersentasies word wêreldwyd sterk geassosieer met 'n protes teen wydverspreide korrupsie. Die tendens in Oos-Europa ná 1989 is 'n goeie voorbeeld hiervan. Dieselfde is heel moontlik ook in Suid-Afrika van toepassing. Dit is dus 'n stille vorm van kritiek teen politici in die algemeen - en nie net die ANC nie. Dit beteken dat kiesers se vertroue in politici oor die algemeen aan die taan is.
'n Lae stempersentasie beteken dat die verkiesing wel 'n mandaat aan die partye gee, maar dat dit 'n gekwalifiseerde mandaat is: As julle nie dramaties verbeter in die volgende vyf jaar nie, gaan ons nog meer steun aan julle onttrek.
2. ANC teen die toue
Die uitslag van die verkiesing kan vir geeneen van die drie groot partye baie gerusstellend wees nie.
Die ANC het in die 2014- algemene verkiesing 62,15% van die stemme ontvang en in die 2016- munisipale verkiesing 53,91%.
Teen Vrydagmiddag - toe hierdie artikel geskryf is - was die WNNR se projeksie dat die ANC ongeveer 57% sou haal. Dit is 'n skerp daling in vergelyking met 2014 en is ook minder as wat die meeste meningspeilings vooraf voorspel het.
Dié uitslag kan op verskillende maniere geïnterpreteer word. Een daarvan is dat pres. Cyril Ramaphosa se gewildheid nie genoeg gewig by die kiesers gedra het nie en dat die nagevolge van die Zuma-era en die feit dat baie van sy ondersteuners en meelopers steeds in die party aanwesig is, 'n teenstrydige gevoel by die kiesers laat.
Beskou dit as gelykstaande aan 'n referendum oor die onteiening van grond sonder vergoeding.
Die uitslag gee wel 'n mandaat aan Ramaphosa en hy sal dit kan gebruik om sy planne vir vernuwing te regverdig. Die laer stempersentasie en die laer steun vir die ANC behoort egter 'n baie duidelike boodskap van dringende verandering vir hom te wees.
3. 'nLes vir die DA
Die DA het in 2014 omtrent 22,3% van die stemme ontvang en 26,9% in 2016. Die WNNR se projeksie van sowat 21% teen Vrydagmiddag beteken dat die party vir die eerste keer sedert 1994 nie sy ondersteuning merkbaar kon uitbrei nie. Dit het baie implikasies vir die DA.
Dit is nou duidelik dat die Patricia de Lille-sage hulle drie persentasiepunte steun in die Wes-Kaap gekos het. Terselfdertyd het die party omtrent 1,5% nasionale steun aan die VF Plus afgestaan.
Sekerlik 'n groot teleurstelling vir die party is dat hy nie sy steun in Gauteng kon uitbou nie. Gauteng is die provinsie wat die grootste getal stemme tot die DA se nasionale totaal bydra. Tog het die DA omtrent 2,6 persentasiepunte steun aan die VF Plus afgestaan. Dit is ook nie duidelik dat merkbaar meer swart kiesers vir die DA gestem het nie. Dit beteken dat Mmusi Maimane se herposisionering van die party nog nie werklik konkrete resultate gelewer het nie.
4. Waar is die rooies?
Die EFF het in 2014 6,35% en 8,3% in die munisipale verkiesing van 2016 ontvang. Sy groei in 2019 na net meer as 10% is die beste van die drie partye, maar nie indrukwekkend nie. Sy leiers het eintlik meer verwag, maar sy versterking in KwaZulu-Natal (KZN), Mpumalanga en die Noord-Kaap sal as positief gesien word. Die Wes-Kaap bly egter 'n probleem vir die EFF.
5. Finaal klaargespeel met Zuma
KZN was nog altyd vir die ANC 'n besonder belangrike provinsie gewees, nie net omdat dit Zuma se tuisprovinsie is nie. Nou het die ANC se ondersteuning egter met ongeveer tien persentasiepunte gedaal.
Dit lyk of die EFF se groei van amper sewe punte direk aan die ANC se daling gekoppel kan word. Die interne strominge binne die ANC in die provinsie en veral Zuma se rol daarin kan nie as die direkte oorsaak van die ANC se verlies aan steun gesien word nie.
Indirek kon dit egter veral die jong kiesers daarvan oortuig dat die ANC se binnegevegte teenproduktief vir die provinsie is en dat die EFF daarom 'n beter opsie is.
Hierdie tendens in KZN hou natuurlik ook belangrike implikasies vir Zuma in en die moontlike rol wat hy kan speel om Ramaphosa se leierskap te destabiliseer. Die ANC se beroerde vertoning in KZN voorspel waarskynlik die begin van die einde vir Zuma en sy faksie in die ANC.
Dit moet ook gesien word teen die agtergrond van die ANC se daling in steun in Noordwes en die Vrystaat - twee ander provinsies waar Zuma belangrike steunbasisse gehad het.
Die DA se vertoning in die Wes-Kaap, hul kroonjuweel, is waarskynlik een van die groot teleurstellings vir die party. Verskeie ander partye het voordeel getrek uit die DA se daling van ongeveer vier persentasiepunte.
'n Gedeelte daarvan is na De Lille se Good-party en een persentasiepunt ook na die VF Plus. Die ANC het ook vier punte verloor, waarvan twee persentasiepunte waarskynlik na die EFF gegaan het en die res na Good.
Die ACDP se steun in die Wes-Kaap het met 1,5 persentasiepunte verhoog, en dit is waarskynlik van die DA gewen. 'n Verskeidenheid van klein partye het dus uit die DA en ANC se verliese baat gevind.
7. Naelskraap in Gauteng
In die geval van Gauteng was die uitslag die heel tyd in die weegskaal gewees.
Indien die party uiteindelik wel onder 50% daal, is hul beste opsie waarskynlik die "Ekurhuleni-strategie" wat hulle ná die 2016- munisipale verkiesing gevolg het. Toe het die party net 48,64% van die steun in die metro gehad en het die stadsraad oorgeneem deur 'n koalisie met 'n paar klein partytjies.
Die probleem is egter dat daar nie noodwendig genoeg klein partytjies beskikbaar sal wees om die meerderheid vol te maak nie.
Aan die ander kant gee die DA se 27%, die EFF se 14% plus die DA se koalisievennote op plaaslike vlak hulle 'n gesamentlike steun van ongeveer 47%. Aan albei kante sal dit dus moeilik wees om 'n volstrekte meerderheid te kan bereik.
8. Oor na jou, meneer die president
Daar is 'n paar maniere om oorhoofs na die verkiesing te kyk.
Een daarvan is om dit te beskou as gelykstaande aan 'n referendum oor die onteiening van grond sonder vergoeding. Die feit dat die parlementêre proses vir die verandering van die Grondwet nog onafgehandel is, beteken dat die ANC as regerende party in beheer van die proses is.
Indien die veranderinge voor die verkiesing afgehandel sou gewees het, sou die EFF die krediet daarvoor kon opeis. Nou het die verkiesing die arbiter daarvan geword. So wie het dié stryd gewen? Die EFF met 10% openbare steun of die ANC met 57%.
Ons gaan tyd nodig hê om die antwoorde te vind op die vrae wat deur die verkiesing aangeraak is.
Ramaphosa sal op 22 Mei deur die parlement as president gekies word en sy inhuldiging op die 25ste gaan die eerste werklike geleentheid wees om te sien hoe hy die verkiesing verstaan het.
Die land hou (steeds) asem op.
- Prof. Dirk Kotzé is 'n dosent in politieke wetenskap aan Unisa.














