Integriteit van uitslag nie in gedrang – OVK

Ondanks die probleme met Woensdag se algemene verkiesing is die integriteit van die verkiesing nie in die gedrang nie, sê die Verkiesingskommissie (OVK).

Verskeie partye het gekla hulle weet van mense wat meer as een keer gestem het.

Die OVK het Woensdagaand laat op 'n nuuskonferensie in die nasionale uitslagsentrum in Pretoria gesê alle probleme wat Woensdag landwyd ervaar is, sal ondersoek word.

Die OVK sal deursigtig wees daaroor, sê Mosotho Moepya, 'n kommissaris van die OVK.

Die eerste uitslag het kort ná middernag op die telbord verskyn. Ook dít het probleme veroorsaak omdat die rekenaarstelsel vasgehaak het. Dit het tot 'n benoude stilte in die uitslagsentrum gelei en die OVK vir 'n oomblik of wat rooi in die gesig gelaat.

Mosotho Moepya
Mosotho Moepya

Die uitslag was die stempunt by Mvomvo Lodge in die Umzimvubu-omgewing in die Oos-Kaap. Daar is net 24 stemme by dié stempunt uitgebring. Elf stemme het na die ANC gegaan en agt na die EFF.

Moepya sê die OVK ontken nie dat daar Woensdag probleme was nie.

"Ons sal dit ondersoek omdat ons die beweringe in 'n ernstige lig beskou. Die integriteit van die uitslag van die verkiesing is vir ons van die uiterste belang. Die uitslag van die hele verkiesing is nié in die gedrang nie," sê hy.

"Ons sal die beweringe ondersoek en deursigtig wees daaroor."

Hy vra mense met bewyse van onreëlmatighede om dit by die OVK aan te meld sodat dit behoorlik ondersoek kan word.

Moepya sê die OVK sal nie skroom om strafregtelik op te tree teen mense wat meer as een keer gestem het nie "omdat dit 'n oortreding van die Kieswet is".

Volgens hom is twee afsonderlike voorvalle onder die OVK se aandag gebring.

"Gelukkig is daar heelwat wigte en teenwigte in die stelsel wat die integriteit van die stemproses beskerm.

"Danksy dié maatreëls kan verkiesingsbedrog maklik uitgewys word," sê Moepya.

SPELETJIES VANDAG

CTA