Monique Best (19), Mej. Junior Tiener Suid-Afrika 2017, wat op 1 Maart in Kambodja as Mej. Planeet 2019 gekroon is, het Woensdag die eerste keer gaan stem.
Monique, kompleet met haar Mej. Planeet-lyfband en geklee in 'n stylvolle swart baadjie, wit hemp, grys broek en wit tekkies, het by die NG kerk Blanco in haar tuisdorp, George, gestem.

Sy is soos Demi-Leigh Nel-Peters, voormalige Mej. Heelal, 'n oudleerling aan die Hoërskool Outeniqua in George (Kwaggas).
Sy sê dit is belangrik om te stem vir die toekoms van die land.
"Dit is in ons hande om 'n verskil te maak. Almal wil in vryheid leef sonder vrees."
Monique het 39 ander deelnemers uitgestof in die Mej. Planeet-kompetisie, en 'n dag daarna, op 2 Maart, haar 19de verjaardag gevier.
Sy het George op 17 Maart die eerste keer sedert haar kroning besoek. As Mej. Planeet is Monique betrokke by projekte om die planeet te bewaar.
Sy geniet 'n ruskans in haar tuisdorp, sê Celeste Best, haar ma.
As deel van haar verpligtinge as Mej. Planeet bring Monique baie tyd in Johannesburg deur.




















