Groot getalle polisielede is in Njala-pantservoertuie in Vuwani in Limpopo ontplooi, waar slegs enkele kiesers Woensdag gestem het.
Die situasie is gespanne in die uitgestrekte arm, landelike gebied sowat 170 km noordoos van Polokwane, veral nadat Andrew Mulaudzi, woordvoerder van die ProMakhado-groep, Dinsdagaand in hegtenis geneem is.

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder in Limpopo, sê Mulaudzi is weens intimidasie in hegtenis geneem. Hy sal eersdaags in die plaaslike landdroshof verskyn.
Die Verkiesingskommissie (OVK) moes noodgedwonge tente opslaan in Vuwani vir die enkeles wat wou stem, omdat skole wat as stempunte gebruik sou word, gesluit is.
Die ProMakhado-aksiegroep, wat ontevrede is omdat Vuwani se munisipale grense in 2016 geskuif is, het besluit om nie te stem nie.
Dit is veral die Vyeboom-gebied wat Woensdag gespanne was met inwoners wat bande en takke gebrand het.
Bykomende polisielede is ook in Giyani ontplooi waar inwoners van minstens tien nedersettings besluit het om nie te stem nie.
Hulle is ontevrede oor swak dienslewering, sukkel al jare sonder water en dring aan op teerpaaie.


Die stofpaaie in die Mngongoma-nedersetting is Woensdag versper met pale en klippe en die strate was verlate omdat inwoners besluit het om nie te gaan stem nie.
In Polokwane het Julius Malema, EFF-leier, oudergewoonte sy kruisie by die Mponegele Primary School in Seshego gaan trek.
Hy het 'n raps ná 10:00 saam met sy vrou, Mantwa, opgedaag terwyl 'n groot groep ondersteuners buite die skool plakkate van hom rondgeswaai het.
Nadat hy gestem het, het sy ondersteuners gedreunsing "Juju, Juju, Juju", toe hy met hulle gesels het.
"Die EFF is gereed om Suid-Afrika te regeer, en nié in 'n koalisie met ander partye nie," het hy gesê.
Stan Mathabatha, premier van Limpopo, en Jacques Smalle, DA-leier in Limpopo, het ook hul kruisies in Polokwane getr,ek.
In die Waterberg-streek van Limpopo het die stemproses vlot verloop.
Marlene van Staden, DA-burgemeester van die Modimolle (Nylstroom)- en Mookgophong (Naboomspruit)-munisipaliteit, het vroegoggend by die boeresaal in Vaalwater gestem.
Marcelle Maritz, VF Plus-leier in Limpopo, het in Mokopane (Potgietersrus) gestem en gesê die stemproses het vlot verloop by al die stemlokale.





















