OORSIG: Só stem Suid-Afrikaners van vroegoggend tot laatmiddag

  • Volg die regstreekse dekking van stemdag hier.
  • Netwerk24 se landwye span, bygestaan deur joernaliste van Media24 se gemeenskapskoerante, verskaf nuus, foto's en video's vanaf die stempunte.
  • Die regstreekse dekking gaan dwarsdeur die nag en ook in die dae daarna voort, namate die verkiesingsuitslae bekend gemaak word.

2019-05-08 16:02:11

Betogers keer dat stemlokaal oopmaak

Deur Cara-Lee Dorfling

'n Groep betogers het Woensdag daarvoor gesorg dat 'n stemlokaal in die Oos-Kaap hoegenaamd nie kon open nie.

Mamkeli Ngam, woordvoerder van die Oos-Kaapse departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), sê hulle het in samewerking met die Verkiesingskommissie (OVK) besluit om nie die stemlokaal in Ntlangano se wyk 1 in Ntabankulu te open nie.

Kiesers wat hul spesiale stemme by die dié stemlokaal wou uitbring die afgelope week, is ook deur betogers voorgekeer.

Ngam sê Fikile Xasa, Oos-Kaapse LUR van Cogta, het Woensdag die gebied besoek om gehoor te gee aan betogers se griewe.

“Hulle het onder meer geëis dat die plaaslike raadslid verwyder word, dat konstruksiewerk aan 'n onvoltooide pad afgehandel word, elektrisiteit aan plaaslike inwoners oor die hele gebied verskaf word en aangedring op die bou van 'n brug,” sê Ngam.

Hoewel Xasa bes gegee het aan al die vereistes, met vasgestelde tydlyne, sê Ngam die betogers het egter nie afgestaan nie.

"Daar is dus besluit om die hele stemlokaal toe te maak. 591 mense is geregistreer om by dié stemlokaal te stem."

Ngam sê na verneem word sal die bykans 600 kiesers nie na 'n ander stemlokaal gaan om te stem nie. “Dit is baie hartseer om te sien hoe so baie mense deur 'n klein groep betogers van hul reg ontneem word om te stem. En dit selfs nadat die LUR ingegryp het om die betogers tegemoet te kom.

Julie Stanworth, provinsiale woordvoerder van die OVK, het bevestig dié stemlokaal het nie geopen nie.

2019-05-08 15:58:50Die ry by Fairmont High School in Durbanville is nie te lank nie. Foto: Nielen De Klerk, TygerBurger

2019-05-08 15:56:39Die Stellenberg-buurtwag kon nie voorbly met die pannekoekverkope nie. Teen 15:00 was alles uitverkoop. Koffie en boereworsrolle was nog beskikbaar. Foto: Nielen De Klerk, TygerBurger

2019-05-08 15:55:38Net meer as 1 050 kiesers het al hul kruisies getrek by die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein. Onderwysers wat saam met sowat 100 kiesers in die ry in die skoolsaal wag om te stem, is van links Jaco Kotzé, hoof van die Laerskool Willem Postma, Nico Venter (Willem Postma) en Gideon Goosen (Hoërskool Sentraal). Foto: Lientjie Mentz, Bloemnuus

2019-05-08 15:54:21

Princess Khaloli staan in 'n lang tou by die Uitsig-kleuterskool in Caledon. Khaloli sê sy stem vir die vryheid van haar kinders. Foto: Annette Theron, Theewaterskloof en Kaap Agulhas Gazette

2019-05-08 15:52:20Alicia Fourie, Corea en haar seun, JC Fourie, van Caledon net voordat hulle hul kruisies gaan trek het. JC sê dit is belangrik om te stem sodat jy kan saampraat. Foto: Annette Theron, Theewaterskloof en Kaap Agulhas Gazette

2019-05-08 15:50:54Ao. Adele Coetzee en ao. Andre Swart hou 'n ogie oor die stemlokaal by Caledon stadsaal. Altesame 1 158 kiesers het reeds by die stadsaal kom stem teen 15:00, het Coetzee gesê. Foto: Annette Theron, Theewaterskloof en Kaap Agulhas Gazette

2019-05-08 15:48:43Jane Majola (56) en haar dogter Moiheri Lekhoaba (40) het by die Laerskool Odendaalrus gestem en sê dit is belangrik vir hul kinders en kleinkinders se toekoms. Teen 14:30 het daar reeds 337 kiesers by die stempunt gestem. - Foto: Madli Grobbelaar, Kroonnuus

2019-05-08 15:47:22In Bredasdorp kom kiesers deur die loop van die dag aan by die Metropolitan-kerk. Foto: Ora Laubscher, Theewaterskloof en Kaap Agulhas Gazette

2019-05-08 15:45:47Gesinne kom aangestap op Napier om te stem. Foto: Ora Laubscher, Theewaterskloof en Kaap Agulhas Gazette

2019-05-08 15:43:34Jocelyn Jafta van Kalkfontein sê hoewel daar heelwat mense by die stempunt was, het sy binne 10 minute klaar gestem. Jafta sê sy stem vir 'n beter toekoms vir haar kinders. Foto: Tarryn-Leigh Solomons, Tygerburger

2019-05-08 15:40:56Kiesers is nog steeds besig om hul kruisies te trek by Idasvallei Primêr in Stellenbosch. Foto: Danie Keet, Eikestadnuus

2019-05-08 15:39:14Fatima Delley (67) en haar dogter, Masroera Samson (33), stem by die Cypress Primary School in Athlone. Hulle sê hulle stem vandag vir 'n beter toekoms. Hulle hoop daar gaan meer huise gebou word en meer werksgeleenthede geskep word. "As mense werk het, dan sal daar minder misdaad wees," sê Delley. Foto: Roshé Taka

2019-05-08 15:26:12

2019-05-08 15:10:36Carina Serfontein, 'n DA-raadslid in Koppies, sê dit lyk asof daar 'n goeie stempersentasie in Koppies sal wees. Meer as 50% van die kiesers het voor 15:00 reeds by die Hoërskool Sarel Cilliers op die dorp gestem. Teen 13:00 het net 25% van kiesers in die naburige Kwakwatsi-township gestem. Foto: Alet van der Walt

2019-05-08 15:06:36

Lang rye in Boksbug

Deur Jeanelle-Greyling, Metro-Beeld-Suid

Tiffany Holland, voorsittende beampte van die stemlokaal by die Laerskool Westwood in Boksburg, sê die ry is wel lank, maar die kiesbeamptes help so vinnig as wat hulle kan.

“Dis die hele dag al so besig. Dié lokaal is veral besig. Ons verwag nog baie kiesers deur die dag,” sê Holland.

“Ons probeer ook om tussendeur die kiesers met spesiale behoeftes te akkommodeer, wat die proses vertraag."

In die rye doen die gerug die ronde dat daar nie genoeg stembriewe is nie. Holland sê dis heeltemal onwaar.

Teen 14:30 was vier stembokse - twee met nasionale stemme en twee met provinsiale stemme - reeds propvol.

2019-05-08 15:04:14Die rye by die Laerskool Lynnwood in Pretoria is nog taamlik lank. Verteenwoordigers van die DA en ANC is woelig voor die hek van die skool. Foto: Marthinus Koekemoer, Metro-Beeld-Noord

2019-05-08 15:01:10Kiesers het in groot getalle by die Kalfontein Primary School in Kuilsrivier gaan stem. Foto: Leigh Solomons, TygerBurger

2019-05-08 14:47:44Stemdag in Sutherland verloop goed. Foto: Chantél Fourie

2019-05-08 14:46:35Die tipiese Sutherlandse koue oggend het kiesers nie gekeer om vroegdag te gaan stem nie. Foto: Chantél Fourie

2019-05-08 14:42:51Kiesers stap nader om te stem by 'n stempunt in die ooste van Pretoria. Foto: Deaan Vivier

2019-05-08 14:40:07Gevangenes van die Kgosi Mampuru-gevangenis in Pretoria stem. Foto: Siyabulela Duda/GCIS

2019-05-08 14:36:41Die stemproses in die Chris Hani-woonbuurt in Mthatha verloop stadig met 'n groot groep gestremde mense van die Efate Spesiale Skool, wat deur kiesbeamptes bygestaan is. Foto: Hoseya Jubase, Mthatha Express

2019-05-08 14:33:49Alles verloop glad by die stempunt in Alex Paxinosstraat in Bethlehem. Maria Kruger, Lana Simpson, Alma Kruger en Felix Kruger het reeds gestem. Foto: Martinette Hay, Vrystaat Nuus

2019-05-08 14:32:23Adele Jonker (links) en Milanie Bezuidenhout van Bethlehem sê die stemproses het verbasend vinnig gegaan hier by die stempunt in Panorama, Bethlehem. Foto: Martinette Hay, Vrystaat Nuus

2019-05-08 14:30:47Die National Freedom Party (NFP) staan vanjaar vir die eerste keer in die nasionale en provinsiale verkiesing. "Ons is hier om armoede te beveg. Ons sê dit is elke gemeenskap se keuse vir wie hy wil stem en hul reg om daardie stem uit te oefen," sê Nico Daniels (regs) , sekretaris van NFP in die Swartland. Saam met hom is van links: Chantelle Leing, Louwna Daniels en Angeline Pieterse. Hulle is vandag by 'n stemlokaal in Abbotsdale buite Malmesbury. Foto: Maryke Swart, Swartland Gazette

2019-05-08 14:29:28Selina Thulelo (64), Elisa Tsubella (59) en Angelina Yiliwe (68) het by die Meisieskool Oranje in Bloemfontein gestem. Hulle hoop die toekoms gaan positief wees. Foto: Lientjie Mentz, Bloemnuus

2019-05-08 14:27:49

Joyce Tafani (52) en Claire Grobler (28) staan en gesels heerlik terwyl hulle in die láng ry by die Bedfordview-stadsaal wag om te stem.

Ken hulle mekaar?

“Nee, ek het net nie 'n filter op my mond nie. Ek praat met álmal,” sê Tafani.

Sy sê sy stem vandag omdat sy “moet”. “Ek het nie ‘n keuse nie! Ek wil ook nie môre jammer wees dat ek nie kom stem het nie,” sê Tafani.

Grobler sê sy stem om die demokrasie aan die gang te hou. - Foto: Jeanelle Greyling, Metro-Beeld-Suid

2019-05-08 14:26:09

Nikki Rorke van Kaapstad het vir die eerste keer gestem. Sy sê die lang lys politieke partye het haar oorweldig, maar sy het besef hoe belangrik dit is om te stem. Foto: Desireé Rorke, TygerBurger

2019-05-08 14:22:55

Hoewel talle mense wat by die Laerskool Westwood in Boksburg kom stem het, vloek en skel omdat die lang ry skynbaar glad nie beweeg nie, sê Helen (71) en Rodney (72) Joseph hulle het glad nie probleme gehad nie.

“Hulle het ons dadelik ingelaat om te stem, seker maar omdat Helen in die rolstoel is en suurstof kry,” sê Rodney.

Helen het hoop vir die land. “Ek dink daar kom verandering,” sê Helen.

Rodney is nie so seker nie, maar hy sê hy “kan niks anders doen nie as om ook maar te hoop daar kom verandering”. - Foto: Jeanelle Greyling, Metro-Beeld-Suid

2019-05-08 14:19:55Tannie Marie Smit, 103 jaar oud, van Steynsrus, woon steeds op haar eie en het aangedring en staatgemaak op inwoners van Steynsrus om haar na die stadsaal te neem sodat sy kan stem. Foto: Madli Grobbelaar, Kroonnuus

2019-05-08 14:17:43

Nooit weer moet Suid-Afrika deurgaan wat ons deurgegaan het nie, sê Ramaphosa

Raymond Willemse

’n Groot skare het pres. Cyril Ramaphosa by die Hitekani Primary School in Chiawelo, Soweto, ingewag waar hy en sy vrou, dr. Tshepo Motsepe, gaan stem het. David Makhura, premier van Guateng, David Makhura, was saam met hulle.

Met Ramaphosa se aankoms was daar reeds ’n lang ry, maar hy het nie in die ry gestaan nie.

Ramaphosa sê oor die afgelope 25 jaar het baie verander. “Die lewe van ons mense het positief verander. Veranderinge is aan die gebeur.”

Ramaphosa sê daar lê nog werk voor.

“Die glas is halfvol. Die glas moet vol gemaak word.

"Ons weet wat om te doen om dit te vul. Ons het afgewyk van die mandaat en korrupsie en patriargie het ons gekelder.

"Ons weet wat ons swakhede is. Soos ek Sondag by die laaste saamtrek gesê het, ons ken ons foute en ons is jammer oor die foute wat ons gemaak het. Ons weet waar ons verkeerd gegaan het."

Ramaphosa het afgesluit en gesê: “Nooit, nooit weer moet Suid-Afrika deurgaan wat hy in die verlede deurgegaan het nie.”

2019-05-08 14:15:10Die ry by die Laerskool Westwood in Boksburg is verskriklik lank. Hier is sowat 1 000 mense wat wag. Van hulle raak baie geïrriteerd, omdat hulle al langer as twee ure wag om te stem. Foto: Jeanelle Greyling, Metro-Beeld-Suid

2019-05-08 14:13:54Teen 14:00 het daar reeds 512 kiesers by die stadsaal in Odendaalsrus gestem en nog sowat 57 het nog in die ry gewag. Stemmery is rustig en vreedsaam. Foto: Madli Grobbelaar, Kroonnuus

2019-05-08 14:11:07Monique Best (19), Mej. Junior Tiener Suid-Afrika 2017, wat op 1 Maart in Kambodja as Mej. Planeet 2019 gekroon is, het Woensdag die eerste keer in haar lewe gestem by die stempunt by NG Kerk Blanco in George se saal. "Dit is in ons hande om 'n verskil te maak," sê sy. Foto Verskaf

2019-05-08 13:43:57

2019-05-08 13:35:10Stephen Lautenbach (58) van Beaconsfield in Kimberley stem by Dutoitspan Laerskool. Hy sê die stemproses was maklik en dat alles glad verloop het. Foto: Christiaan Cloete, Noordkaap

2019-05-08 13:33:03Kiesers moet glo deur die waterplas onder in Beaconsfield, Kimberley, ry om by die nabygeleë stempunt by die Laerskool Dutoitspan uit te kom, sê DA-raadslid Ockie Fourie. - Christiaan Cloete, Noordkaap

2019-05-08 13:30:00Julia Hayes van Nerina van Durbanville het maar 'n boek saamgebring vir die wag by die stembus in D'Urbanvale in Kaapstad. Sy het reeds meer as 45 minute in die tou gewag. Foto: Esmé Erasmus, TygerBurger

2019-05-08 13:27:16Bertus van der Westhuizen, voorsitter van die Transvaalse Landbou Unie (TLU) in die Vrystaat het saam met sy seun, Armand, in Heilbron gestem. Foto: Alet van der Walt

2019-05-08 12:58:40

Bejaarde sterf by stembus

Isabel Venter

'n Bejaarde kieser is Woensdag by 'n stembus in Elandspoort, Pretoria, dood. Die omstandighede is nog nie bekend nie.

Masego Sheburi, adjunkhoofverkiesingskommissaris, het namens die Verkiesingskommissie (OVK) met die familie gesimpatiseer.

Sheburi het Woensdag by die uitslagsentrum in Pretoria gepraat oor hoe die verkiesing vorder.

Die OVK het ook gesê een van sy adjunk- voorsittende beamptes in die Oos-Kaap is dood nadat hy Dinsdagnag siek geword het. 'n Voertuig met OVK-personeel was in die Oos-Kaap in ’n ongeluk, maar geen ernstige beserings is aangemeld nie, berig Jana Marx.

Volgens Sheburi was 17 stemlokale teen 11.30 nog gesluit weens “toegangsprobleme”. 14 daarvan was in KwaZulu Natal, sê Sheburi.

Die OVK werk nou saam met plaaslike beamptes by die onderskeie lokale om te verseker kiesers daar kan binnekort stem.

“Maar ons syfers toon dat ‘n groot getal mense reeds vroegoggend gaan stem het,” sê Sheburi.

Koeler weer in die Wes-Kaap en Vrystaat het Woensdag voorgekom, maar volgens die OVK, lyk dit nie of dit kiesers weghou van die stembusse nie.

Die OVK is ook bekommerd daaroor dat sommige kiesers video’s op sosiale media versprei waarin gewys word hoe om die kiesers-merk op hul duime uit te wis.

Mense wat hulle daaraan skuldig maak, kan tot ‘n maksimum van tien jaar tronkstraf opgelê word.

2019-05-08 12:56:20Die mense by die Laerskool De Hoop het gesorg dat die publiek nie in die reën hoef te staan terwyl hulle wag nie. Marie Swart sê sy is bly om te sien daar is soveel jong mense wat kom stem het. "Ek het hierdie tyd gekom omdat ek geglo het dit sal nie n lang wag wees nie. Maar ek is bly om soveel mense te sien." Foto: Samantha Lee, Tygerburger

2019-05-08 12:51:55Bryden Thomas (19) van Mount Pleasant in Port Elizabeth, het vir die eerste keer gestem. Foto: Mandy Grobler, PE EXpress

2019-05-08 12:49:11Malithobo September (52) maak gereed om te stem by die PJB Consa-Skool in Zwelethemba in Worcester. Foto: Nasifa Sulaiman. Worcester Standard

2019-05-08 12:47:51

Ageelah Sadan (21) het vir die eerste keer gestem by die Avian Park Primary School in Worcester, Sy sê dat sy trots is daarop om te stem en dat dit 'n verskil sal maak. Foto: Nasifa Sulaiman, Worcester Standard

2019-05-08 12:36:02'n Ry kiesers buite Bredasdorp se glaskasteel. Vanoggend om 06:00 was daar 'n lang ry kiesers en van 09:00 af het getalle afgeneem. Daar is nou weer meer mense wat opdaag om te kom stem. Foto: Ora Laubscher, Theewaterskloof en Kaap Agulhas Gazette

2019-05-08 12:34:58

Lizelle Fourie (36) en haar twee dogters, Melize (9) en Zeldri (4), staan saam in die ry by die Laerskool Kruinsig in Glenmarais, Kempton Park. “Hulle (die kinders) moet weet waarom ons stem,” sê Lizelle. “Dit is uiteindelik waarom ons hier is. Vir die kinders. Vir die toekoms.”

Sy vertel haar kinders van die politieke geskiedenis en die huidige struwelinge in die land. “Zeldri verstaan nog nie so mooi nie, sy’s te jonk, maar Melize verstaan al waaroor dit gaan.”

Lizelle het vandag hoop vir die land.”

Al die ouers van jong kinders moet maar hoop hê. Hoop vir ‘n beter toekoms vir die kinders.“Ek wil net hê almal - ongeag ras, geslag of oortuigings - moet gelukkig wees en saam in die land kan leef,” sê Lizelle. - Jeanelle Greyling, Metro-Beeld-Suid

2019-05-08 12:27:08

2019-05-08 12:26:01

2019-05-08 12:25:09Pres. Cyril Ramaphosa gee vir Shireen Mohamed, ma van die joernalis Shiraaz Mohamed, 'n drukkie. Shiraaz word al byna twee jaar in Sirië aangehou nadat hy ontvoer is. Shireen het gepleit dat Ramaphosa ingryp om te help met die vrylating van haar seun. Foto: Raymond Willemse

2019-05-08 12:23:56Ismael Jansen van Bronville in Welkom wag om te stem. Foto: Marti Will, Vista

2019-05-08 12:22:19Marlene Huwsego (77) en Richard (77) stem by die Hoërskool Brebner in Bloemfontein. Beamptes help hulle tot voor in die ry. Foto: Lientjie Mentz, Bloemnuus

2019-05-08 12:20:59

Daniel (38) en Leanne (39) Wilkins het buite die Laerskool Kruinsig in Kempton Park 'n selfie geneem pas nadat hulle gestem het.

Leanne sê sy dra haar Springboktrui omdat sy trots op die land is.

“Dis 'n voorreg om te kan stem en jou sê te sê,” meen Leanne. “Ons woon in so ‘n pragtige land met so baie potensiaal. As ons almal saamwerk kan ons groot verandering meebring.”

Daniel sê dié verkiesing kan moontlik ‘n keerpunt in die Suid-Afrikaanse geskiedenis wees. “Dinge in die land het die afgelope ruk skeefgeloop. Dit kan so aangaan of dit kan verander,” sê hy.

Die egpaar het albei glo vir die DA gestem. “Hulle sal nie noodwendig in die verkiesing wen nie, maar ons moet vir ‘n party stem wat die regering verantwoordbaar hou,” sê Daniel. “Dit raak wel al nader. Dalk wen die DA eendag,” sê Leanne. Verskaf: Jeanelle Greyling, Metro-Beeld-Suid

2019-05-08 12:16:03Ronel Kuhn en Gerhard Karg het albei by Grabouw se sportgronde hulle kruisie gaan trek. Gerhard sê hy stem vir 'n beter toekoms. Foto: Annette Theron, Theewaterskloof en Kaap Agulhas Gazette

2019-05-08 12:14:58Sana Scheepers van Bronville is gelukkig om te kan stem by Laerskool Bronville, Welkom. Foto: Marti Will, Vista

2019-05-08 12:13:09Wynand Boshoff, provinsiale leier van die Vryheidsfront Plus in die Noord-Kaap, met sy vrou, Esmé Boshoff, toe hulle vanoggend by die Herlear Primary School in Kimberley gaan stem het. Esmé se hare is groen gekleur. Dit is een van die kleure van die Vryheidsfront Plus. Foto: Christiaan Cloete, NoordKaap

2019-05-08 12:10:35Twee sussies, Nasreen (20), 'n fisioterapie-student by die Universiteit van Stellenbosch en Zarinah (23) Skippers, 'n meestersstudent in veekunde, het ook vanoggend hul kruisie by die Malmesbury-stadsaal kom trek. Nasreen het vir die eerste keer gestem. Sy sê sy het maar deur die loop van die verkiesingsveldtogte geluister wat elke party te sê gehad het en daarvolgens 'n keuse gemaak. Ousus Zarinah sê, "Ek het met my eerste stemreg gekyk wat die verskillende partye gesê het. Hierdie keer het ek meer gekyk wat dié partye van toe tot nou in die gemeenskap gedoen het en daarvolgens my besluit geneem." Foto: Maryke Swart, Swartland Gazette

2019-05-08 12:08:52Kiesers se ID-dokumente en die uitgedrukte strokies wag op die tafel, want daar is nou te min stembriewe by die Hofmeyr-stadsaal. Foto: Teresa Opperman, Mid-Karoo Express

2019-05-08 12:07:05Toue kiesers wag om te stem by die Orapeleng-dagsentrum in die Caleb Motshabi-woonbuurt in Mangaung (Bloemfontein). Foto: Teboho Setena, Express

2019-05-08 12:03:35Die groepie bejaardes van die Aandskemering-tehuis vir bejaardes het die koue trotseer om hul kruisies by die Malmesbury-stadsaal te kom trek. Van links is Suna de Jongh, Melt van Aarde, Koos de Villiers, Clarina Lewis, Inga Daniell en Ella van der Merwe. Foto: Maryke Swart, Swartland Gazette

2019-05-08 11:57:47Foto: Lynn Williams

2019-05-08 11:57:02Die verdagte DA-houer. Foto: Lynn Williams

2019-05-08 11:55:27

Weermag ingeroep vir DA-houer

Deur Lynn Williams

Lede van die weermag is na 'n huis in Leithstraat in Helenvale ontbied ná gerugte dat 'n houer, wat na bewering stembriewe bevat, in die huis gevind is .

Daar is egter vasgestel dat dit nie 'n houer met stembriewe is nie, maar 'n houer van die DA met skryfbehoeftes en toiletpapier daarin.

Die DA sê die ANC, wat na bewering die polisie ontbied het, is kwaadstokers. - Foto: Lynn Williams

2019-05-08 11:51:44

2019-05-08 11:35:16

2019-05-08 11:32:47Pres.Cyril Ramaphosa daag saam met sy vrou, dr. Tshepo Motsepe, by Hitekani Primary School op om te stem. David Makhura, premier van Gauteng, is saam met hulle. Foto: Raymond Willemse

2019-05-08 11:30:30

2019-05-08 11:29:41Iman Boeije (53) en sy vrou Karen Boeije (52) stem by die Capital Park Primary School in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

2019-05-08 11:28:41Solly Msimanga, DA-premierskandidaat vir Gauteng, staan in die ry by die Capital Park Primary School in Pretoria om te stem in die 2019 verkiesing. Foto: Deaan Vivier

2019-05-08 11:26:37Daar is 'n lang ry by die Hoërskool Brebner in Bloemfontein. Foto: Lientjie Mentz, Bloemnuus

2019-05-08 11:23:36

Evelyn Mathibela (56), 'n huiswerker in Glenmarais, Kempton Park, het reeds gestem. Sy wag buite die stemlokaal vir haar werkgewer. Mathibela sy hoop in die nadraai van dié verkiesing kry sy 'n huis. “Ek bly al my hele lewe hier, maar ek het nie 'n huis van my eie nie, terwyl almal om my huise kry. Sy en haar dogter (28) bly aan huis by haar werkgewer.

"As ek net ‘n drieslaapkamer-huisie kan kry, sal ek bly wees. Ek wil net weet dat as ek doodgaan, het my kinders 'n plek om te slaap.”

Mathibela se seun (35) is ‘n taxibestuurder in Pretoria. “Ek bid elke dag vir hom, want ek wil nie hê hy moet dié werk doen nie. Die taxibestuurders baklei te veel onder mekaar.” Foto: Jeanelle Greyling, Metro-Beeld-Suid

2019-05-08 11:20:16

Gys Verwaaig het van Alberton Wes-Kaap toe gevlieg om sy kruisie in Kleinmond in die Wes-Kaap te trek. Hy het gesê dat hy vir die DA stem. Foto: Noluvu Ludidi, Hermanus Times

2019-05-08 11:14:01Julius Malema, EFF-leier en sy vrou, Mantwa, by die Mponegele Primary School in Seshego waar hulle gestem het. Foto: Marietie Louw-Carstens

2019-05-08 11:13:20'n Skare mense drom saam in Seshego in Polokwane waar Julius Malema, EFF-leier, met hulle gesels nadat hy klaar gestem het. Foto: Marietie Louw-Carstens

2019-05-08 11:12:26

2019-05-08 10:42:06Julius Malema, EFF-leier en Jossey Buthane, EFF-leier in Limpopo, by die Mponengele Primary School in Seshego in Polokwane. Foto: Marietie Louw-Carstens

2019-05-08 10:39:26

2019-05-08 10:37:05'n Groep DA-ondersteuners in Napier. Foto: Ora Laubscher, Theewaterskloof Gazette

2019-05-08 10:34:19In Napier is daar reeds sedert 07:00 vanoggend 'n konstante stroom kiesers. Daar is luidsprekers by al die stempunte. Foto: Ora Laubscher, Theewaterskloof Gazette

2019-05-08 10:31:49Julius Malema, EFF-leier, het in Seshego in Polokwane opgedaag om te stem. Mense sing en skree toe hulle hom sien. Foto: Marietie Louw-Carstens

2019-05-08 10:28:35

Kiesers kwaad oor te min stembriewe

Deur Andrea Küsel

Talle kiesers kla dat daar nie genoeg nie of geen stembriewe by stemlokale is.

André Botha sê chaos dreig om uit te breek by die Laerskool Kameeldrift omdat daar nie genoeg nasionale stembriewe is nie.

"Die OVK-beamptes het eers ná 07:00 by die lokaal aangekom. Toe moes ons wag vir die stembriewe vir sowat twee uur. Daarna het mense vir 15 minute gestem voordat die nasionale stembriewe opgeraak het.

"Botha sê die mense in die tou is “erg omgekrap”.

Koos Smit wat by die Highveld Primary School in Johannesburg wil stem, sê hulle wag al sedert 07:30 vir stembriewe.

“Niemand weet waarom hier nie stembriewe is nie. Hier is 'n hele klomp mense wat wil stem en die tou staan om die blok. Die OVK het vyf jaar gehad om die verkiesing te reël, ons verwag nie sulke probleme nie.”

Nathan Ribeiro wat by die Suiderberg Skool in die weste van Pretoria gestem het, sê stembriewe is eers 09:30 by dié stempunt afgelewer.

“Sommige mense het besluit om na ander stemlokale in die gebied te gaan.”

2019-05-08 10:25:24Sona Sales maak hier gereed om by Paarl-stadsaal haar kruisie te gaan trek. Foto: Lise Beyers, Paarl Post

2019-05-08 10:23:56Toue by die Phillip Smit-sentrum in Thabong in Welkom is kort en kiesers beweeg vinnig, ongeag die reën. Geen probleme is aangemeld nie. Foto: Marti Will, Vista

2019-05-08 10:20:53Paarliete moes op stemdag behoorlik hul sambrele uithaal tydens die reën wat op die dag wyd verspreid neergesak het. Hier staan kiesers by 'n tent-stemlokaal in Noorder-Paarl. Foto: Lise Beyers, Paarl Post

2019-05-08 10:19:05Paarliete staan knus hier op die stoep van die Paarl-stadsaal, gereed om te stem. Foto: Lise Beyers, Paarl Post

2019-05-08 10:16:52Heerlike warm bederf by die Louwville-gemeenskapsaal om kiesers se mae vol te hou. Garrett van Schalkwyk, Cathy Williams (die bakster) en Catherine Samuels. Foto: Trish Goosen, Weslander

2019-05-08 10:12:44

Familie van die joernalis Shiraaz Mohamed wag buite die Hitekani Primary School in Soweto waar pres. Cyril Ramaphosa gaan stem.

Mohamed se broer Ridwaan sê hulle is sedert 08:00 hier om te pleit by Ramaphosa om in te gryp en te help dat Mohamed, wat al sowat twee jaar in Sirië aangehou word, vrygelaat word.

Op die foto: is Ridwaan, Azvaa, Zaariyah en Mohamed se ma, Shireen. Die Mohamed-gesin het van Lenasia-Suid gereis. Foto en berig: Raymond Willemse

2019-05-08 10:08:00Marenda Coleman (links), Lorraine Heyser, tesourier, en Claire Kleinhans, nasionale sekretaris, van die Plaaslike Besorgde inwoners-party (PBI) by die stempunt by die gemeenskapsaal in Pacaltsdorp in George in die Suid-Kaap. Die PBI se leier, Virgil Gericke, is 'n stadsraadslid van George. "Ons verwag 'n goeie opkoms," sê Kleinhans. Foto Jackie Kruger

2019-05-08 10:06:49

Aileen Swan en haar kroos by die stemlokaal in Steynsvlei in Muldersdrift aan die Wes-Rand. "Ek het maar vroeg kom stem want hierdie woelwaters hou my die heeldag besig," se Swan.

Sy wou nie hul name gee nie. "Nee ek het nie tyd nie. Ek wil gou-gou stem en dan waai voor daar te veel mense in die ry staan!" Foto: Werner Beukes

2019-05-08 10:05:19

Geen probleme in Noordwes

Deur Susan Cilliers

Geen probleme is tot dusver by stempunte in Noordwes aangemeld nie.

"Ons is nog besig om individuele terugvoer van stasies te kry, maar tot dusver is nog geen voorvalle aangemeld nie," het dr. Tumelontle Thiba, hoofkiesbeampte in Noordwes, Woensdagoggend kort voor 09:00 gesê.

Polisielede beman alle punte in Noordwes waar oproer verwag word. Die weermag is ook op 'n gereedheidsgrondslag.

2019-05-08 10:03:30Daar is min mense by die stemlokaal in Malabar in Port Elizabeth. Die proses hier verloop seepglad, met kiesers wat binne 5 minute in en uit is. Beamptes sê hulle was net besig vanaf 07:00 tot net na 08:00. Foto: Lynn Williams

2019-05-08 10:02:02

Kommer oor min jongmense wat stem

Deur Cara-Lee Dorfling

Mongameli Bobani, burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro, sit Woensdagoggend in die ry om te stem by die KwaMagxaki gemeenskapsaal.

Hy sê hy onthou die eerste keer wat hy gestem het nog goed.

“Vir my was dit soos Kersfees. Ek het bykans niks die vorige aand geslaap nie en was al vroeg daardie oggend in die ry.”

Hy sê wat hom egter bekommerd maak is dat minder as die helfte van die metro se inwoners geregistreer is om te stem.

“Dit wil voorkom of die jeug nie in groot getalle opdaag om te registerer nie. Dit is kommerwekkend, aangesien die land se toekoms in hul hande is.

“Dit wys ons daar moet nog baie gedoen word om die belangrikheid van n verkiesing aan die jeug te verduidelik.”

Minah Fanisi (regs) het Woensdagoggend langs Bobani in die ry gesit om te stem.

“Ek het nie vanoggend gedink ek sal saam die burgemeester kan stem nie- maar nou sit ek sommer langs hom!”

2019-05-08 09:57:58

Maimane sê DA gaan Gauteng wen

Berig Raymond Willemse

Mmusi Maimane, leier van die DA, moedig kiesers aan om vir hoop te stem.

Maimane het Woensdagoggend by die Presbiteriaanse kerk in Dobsonville, Soweto, gestem.

Hy het soos die ander kiesers in die ry gestaan en gewag totdat dit sy beurt was om sy kruisie te trek.

Hy is vergesel van Solly Msimanga, DA-premierskandidaat in Gauteng.

Nadat hy gestem het, het Maimane gesê vandag is 'n historiese oomblik.

"Die droom van die reënboognasie is steeds lewend. Die DA is die enigste nierassige party wat die land wil verenig. Die DA het reeds bewys waar hy regeer is daar veranderinge."

Hy het ook kiesers gewaarsku teenoor partye wat die land wil verdeel op grond van ras en geloof.

Maimane sê hulle gaan Gauteng in die verkiesing wen.

2019-05-08 09:54:05

2019-05-08 09:53:11

2019-05-08 09:52:02

2019-05-08 09:49:45Rochelle Snyman en haar dogtertjie, Luné, wag in reënweer buite die stemlokaal by die NG Kerk George-Suid in die Suid-Kaap om te gaan stem. Foto Jackie Kruger

2019-05-08 09:48:09

N2 by Plettenbergbaai oop na protes

Die N2 by Plettenbergbaai in die Suid-Kaap is Woensdagoggend weer oopgestel na protesoptrede.

Die protesaksie het Dinsdagaand in Qolweni uitgebreek. Die polisie se openbare orde-eenheid is op die toneel om toe te sien dat orde gehandgaaf word, sê Manfred van Spoken, 'n munisipale woordvoerder.

Die N2 in albei rigtings is oop, volgens Van Spoken.

Motorbande is onder meer in Qolweni gebrand en strate is versper. Die protesaksie was blykbaar om mense te mobiliseer om nie te gaan stem nie. Die N2 was 'n tyd lank gesluit en verkeer herlei. - Jackie Kruger

2019-05-08 09:43:48

Kiesers by die Steve Tshwete-stemlokaal in Motherwell, Port Elizabeth. Foto: Lulama Zenzile

2019-05-08 09:41:32Die Spitskop-stemlokaal in Hofmeyr in die Oos-Kaap is nog nie oop nie. Die OVK-beamptes het blykbaar nie sleutels vir die lokaal nie. Dit is baie nat en koud in Hofmeyr en Steynsburg en talle inwoners moes hul sambrele en reënjasse uitgrawe nadat sagte reën sedert die nag begin uitsak het. Foto en berig - Teresa Opperman, Mid-Karoo Express

2019-05-08 09:37:36Die media wag vir Julius Malema, EFF-leier, by die Mponegele Primary School in Seshego in Polokwane om sy kruisie te kom trek. Foto: Marietie Louw-Carstens

2019-05-08 09:36:46Mosiuoa Lekota, Cope-leier stem in die Moqhaka-munisipaliteit in die Constantia-township in Kroonstad. Foto: Verskaf

2019-05-08 09:35:08

Kiesers raak ongeduldig oor stembriewe

Deur Andrea Küsel

Su-Mari Fourie, 'n inwoner van Suiderberg in die weste van Pretoria, sê kiesers by die Suiderberg Skool wag steeds vir stembriewe.

"Ons wag nou al vir twee ure vir die provinsiale stembriewe om op te daag. Die man wat verantwoordelik is daarvoor om dié stembriewe te gaan haal kan nie bereik word deur die OVK-beamptes hier by die stemlokaal nie.

"Volgens Fourie is daar slegs nasionale stembriewe beskikbaar. “Baie mense raak nou ongelukkig en onrustig. Sowat die helfte van die mense wat sou stem het besluit om huis toe te gaan. Ons weet nie of hulle beplan om later terug te kom nie.”

Fourie sê daar is geen aanduiding van hoe lank hulle nog gaan moet wag nie. Sy sê sy gaan by die stemlokaal wag totdat sy ‘n kans gekry het om te stem.

2019-05-08 09:31:43Sowat 60 mense staan in die ry in 'n koue Bethlehem om hul kruisies te trek by 'n tent in Panorama. Dit begin liggies hier drup, maar hulle staan geduldig. Foto: Martinette Hay, Vrystaat Nuus

2019-05-08 09:29:46Inwoners van Brentpark in Kroonstad stap in die reën om te gaan stem. Hulle sê dit is in die belang van hulle kinders om te stem. Hier is van links, Karel Julius (76), Sanah Julius (51) en Anna Swarts (66). Foto: Madli Grobbelaar, Kroonnuus

2019-05-08 09:26:14Stembriewe is pas na die Kransfontein Laerskool gebring, nadat die stempunt wat sowat 25kmbuite Bethlehem geleë is, om dié rede gesluit moes bly. - berig Martinette Hay, Vrystaat Nuus2019-05-08 09:22:47Kiesers by die Khulile Primary School in Motherwell, Port Elizabeth. Honderde kiesers het reeds hier opgedaag, selfs in koue weerstoestande. Foto: Selby Madikane, PE Express2019-05-08 09:20:43

Stempunte steeds nie oop

Altesaam 12 stemlokale in Marquard is nog nie oop nie twee ure nadat die verkiesing begin het. Protesoptrede verhinder die stemproses.

Polisie help nou personeel van OVK dat die stempunte kan oopmaak.

Reën het ook veroorsaak dat stemlokale se stemhokkies nat geword het, veral waar tente as stemlokale gebruik word, berig Marietjie Gericke.

2019-05-08 09:17:47Inwoners van Siqalo kom drupsgewys aan by die stemlokaal wat by Pacific Foods in Jakes Gerwelrylaan geleë is. Volgens die voorsittende beampte, Cele Nomasakhe, is 1609 mense geregistreer om hier te stem. Baie inwoners is in EFF en ANC klere en kleure geklee. Foto: Maygene de Wee

2019-05-08 09:16:25Kiesers staan in 'n ry by die stempunt by Steynsvlei aan die Wes-Rand om hul kruisies te trek. Stempunte het Woensdag om 07:00 geopen en sal om 21:00 sluit. Foto: Werner Beukes

2019-05-08 09:12:48Cynthia Kunene is toegedraai in n kombers om haar teen die koue te beskerm. Sy het by Vukazenzele Primêre Skool in Mfolo, Soweto gestem. Foto: Raymond Willemse

2019-05-08 09:11:27Plaaswerkers van die plaas Austin's Post by Bethanie het op dié verafgeleë sendingstasie kom stem waar die pad byna onbegaanbaar is. Johannes Ramoseu (49) sê hy stem vandag om die land te help regruk. Foto: Cherene Pienaar

2019-05-08 09:10:33Basie en Linda Wessels het pannekoek gekoop by die NG Gemeente Grimbeeckpark in Potchefstroom waar hulle gestem het. Hulle sê dis belangrik om te stem sodat korrupsie vasgevat kan word. Foto: Susan Cilliers

2019-05-08 09:09:24Gavin Valayden van die Good party, het beamptes van die OVK by die Malabar gemeenskapsaal waar mense stem, geprys vir hoe glad die proses verloop. Foto: Lynn Williams

2019-05-08 09:08:24Ten spyte van die laat begin is die stemmery by die Laerskool St Helena in Welkom goed op dreef. Ten minste 10 lokale in Welkom het weens skandeerders wat probleme gee eers na 08:00 oopgemaak. Die Goudvelde geniet 'n koue reënerige 2019 verkiesingsdag. Foto: Marti Will, Vista

2019-05-08 09:06:23Koshuisleerlinge wat vanjaar in hul matriekjaar aan die Hoërskool Grey in Port Elizabeth is, het vroeg vanoggend om 07:10 reeds hul kruisies gaan trek.Van links is die koshuisvader Gerhard Hills, Theo Repinz, Marc Michau, Luke Roote, Theo Niobe, Storm Philips, Kirk Hendricks, Jason Porter, en Reece Audie. Foto: Verskaf deur PE EXpress

2019-05-08 08:52:26

Tent gesteel waar kiesers moes stem

'n Tent by een van die stempunte in Qwaqwa in die Vrystaat is in die vroeë oggendure gesteel wat 'n vertraging van die stemproses veroorsaak het.

Volgens Marx Thamahane, Maluti-a-Phofung se munisipale verkiesingsbeampte van die OVK, is die tent langs die Sentebane-winkelsentrum in wyk 35 vervang en die stemproses gaan weer voort. - berig Martinette Hay, Vrystaat Nuus

2019-05-08 08:49:53Kiesers by die James Ndulula Skool in Langa, Uitenhage. Foto: Linda Pieters, PE EXpress

2019-05-08 08:46:48

Verandering en 'n party wat teen korrupsie is, is waarvoor Robert en Natalie Cook stem. "Ek stem ook vir 'n toekoms vir my twee kinders," voeg Natalie by.

Robert meen die land se probleem is nie om belasting in te vorder nie.

"As Eskom R14-duisend betaal vir n bout wat jy vir R14 by 'n hardewarewinkel kan koop en die SAL betaal R17 vir n bottel water van R4 dan het jy 'n probleem met regeringsuitgawes." Foto: Alet Joubert

2019-05-08 08:43:56Die gewilde soekenjin Google het vandag 'n doodle met 'n Suid-Afrikaanse vlag daarop. 'n Google doodle is 'n spesiale, tydelike verandering van die logo op Google se tuisblad wat spesiale geleenthede, prestasies en groepe mense te vier. Sommige Google doodles is beperk tot Google se landspesifieke tuisbladsye, terwyl ander wêreldwyd verskyn, berig Ané van Zyl.

2019-05-08 08:36:22Heerlik reën sak oor Kroonstad uit. Kiesers staan hier onder die afdak by die stempunt Kroonstad Primary School ten spyte van die koue en reën, 75 kiesers het reeds gestem en so 180 wag in die ry. Foto: Madli Grobbelaar, Kroonnuus

2019-05-08 08:33:44

Alan Winde stem by Batavia-skool in Claremont om te stem. Foto: Jaco Marais

2019-05-08 08:31:55Daar is beslis nie enige twfel oor vir wie Mmusi Maimane, leier van die DA, sy kruisie gemaak het vanoggend nie. Foto: Felix Dlangamandla

2019-05-08 08:30:14Mongameli Bobani, burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro, het pas by die KwaMagxaki gemeenskapsaal in Port Elizabeth opgedaag om te stem. Foto: Cara-Lee Dorfling

2019-05-08 08:29:12Daar is nie lang rye om te stem by die NG gemeente Bloemheuwel in Bloemfontein nie. Volgens 'n kiesbeampte was dit vroeër besiger. Foto: Marita Herselman

2019-05-08 08:27:46

Kiesers wag geduldig by 'n tent-stempunt in Phelindaba, Bloemfontein. Die reën, wat bitter nodig is hier, demp nie die atmosfeer nie. Meer as 80 kiesers het teen 08:00 gestem. Foto: Teboho Setena, Express (Bloemfontein)

2019-05-08 08:23:41

2019-05-08 08:21:11Die ry van kiesers raak al langer by die Maluti Hooglandskool in Bethlehem. Foto: Martinette Hay, Vrystaat Nuus

2019-05-08 08:19:18Martha Eilers (77) van Wrenchville in Kuruman. Eilers sê haar stem beteken vir haar baie. "Ek wil hê my stem moet basiese dienste aan my lewer. My stem moet vir my werk. Die persoon vir wie ek stem moet 'n eerbare persoon wees". Foto: Lecrecia Prins, Kalahari Bulletin

2019-05-08 08:17:50Gemeenskapslede by die Eilerdsaal in Wrenchville, in Kuruman, staan al gereed om te stem. Die stemlokaal het bietjie laat oopgemaak weens reën. Foto: Lecrecia Prins, Kalahari Bulletin

2019-05-08 08:11:12

2019-05-08 08:10:43Ten minste vier stemlokale in Welkom was nog nie oop teen 07:49 nie. Kiesbeamptes sê sedert 07:h00 die skandeerders sal oor 5 minute reg wees. Foto: Marti Will, Vista koerant

2019-05-08 08:08:12Kiesers staan hier reeds vanaf vroeg vanoggend in die koue by die tente-stemlokaal in Conradstraat in Paarl-Oos om hul kruisie te trek. Foto: Lise Beyers, Paarl Post

2019-05-08 08:05:20Die stemproses by Laerskool Universitas het nog nie begin nie. Stembriewe het nou eers hier aangekom. Mense staan in lang rye en is baie ongelukkig. Foto: Lientjie Mentz, Bloemnuus

2019-05-08 07:59:13

2019-05-08 07:58:04Nat in Bloemfontein by die Meisieskool Oranje. Foto: Lientjie Mentz, Bloemnuus

2019-05-08 07:51:09Kiesers by die Heatherdale-stempunt het darem beskutting teen die reën terwyl hulle wag om te stem. Foto: Kaydene Davids

2019-05-08 07:48:50'n Spesiale plek is gemaak vir senior burgers by die Ellerton Laerskool in Seepunt. Ma's met babas kan ook hier stem. Foto: Ané van Zyl

2019-05-08 07:47:57Hunter Kennedy, jarelange inwoner van Muldersdrift in Gauteng, stap Woensdag na die stemlokaal by die Lesego Primary School om sy kruisie te trek. "Ek bewe maar dit is nie van opwinding nie," lag Kennedy wat nie sy ouderdom wou gee nie. Na hy sy stem uitgebring het gaan hy aansit "vir 'n heerlike ontbyt". Foto: Werner Beukes

2019-05-08 07:46:00Die stempunt by die Caravelle Primary in Mitchell's Plain in Kaapstad was teen 7:30 nog nie oop nie. Foto: Jaco Marais

2019-05-08 07:44:05'n Lang ry mense lê soos 'n slang voor die stempunt by die Hervormde kerk in Brentwood Park, Benoni. Mense is lekker dik aangetrek om hulle teen die oggendkoue te staal. Foto: Vicus Burger

2019-05-08 07:41:42Die 67-jarige Miles Ramsay, inwoner van Muldersdrift, Woensdag met sy identiteitsboek voordat hy gaan stem by die Lesego Primary School in Muldersdrift aan die Gautengse Wes Rand. "Om jou stem uit te bring bly 'n ongelooflike voorreg, " sê Ramsay. Foto: Werner Beukes

2019-05-08 07:39:09Annami Mallovich, Huisgenoot se webredakteur en Beverly Moolman trotseer die reën in Kampsbaai in Kaapstad. Foto: Henriëtte Loubser

2019-05-08 07:36:46David and Sharon Frankel is "versigtig optimisties" oor die verkiesing. Hulle wag in die ry by die Laerskool Louw Geldenhuys in Linden, Johannesburg. David verwag dat die EFF baie beter as gewoonlik sal doen, en voorspel dat die ANC meer as 50% en die DA hoog in die 20% van stemme sal inpalm. Koffiewinkels oorkant die pad benut die besigheidsgeleentheid en verkoop koffie aan almal wat koud kry, soos die koppie wat Sharon in haar hand het. Foto Jana Marx

2019-05-08 07:35:24Ntebe Thebeage (72) is al sedert 05:00 in die lyn by die Credence-stempunt. Hy sê hy is diep ontevrede omdat Hy teen 07:20 steeds nie kon stem nie. Foto: Kaydene Davids

2019-05-08 07:34:06Barrie en Phialetta de Beer het met koffiebekers in die hand kom stem by die stempunt op hul voorstoep in Jaap Steynstraat, Langenhovenpark, Bloemfontein. Hy is 'n onderwyser by die Martie du Plessis-skool en sy by die Laerskool Fichardtpark in Bloemfontein. Hulle het reën verwag. Foto: Charles Smith

2019-05-08 07:32:45Hettelien Roux (29) sê dit is die eerste keer dat sy stem. "Ek voel ek maak darem 'n verskil." Sy en haar twee dogters het by die Hoërskool Hendrik Potgieter in Reddersburg gaan stem. Foto: Cherene Pienaar

2019-05-08 07:30:28Vroeg, donker en nat. Só lyk dit by NG Kerk La Rochelle, Bellville, Kaapstad, waar ongeveer 70 mense net na 7:00 regstaan om hul kruisies te trek. Selfs klein kindertjies staan saam met hul ouers in die ry. Foto: Arleen Stone

2019-05-08 07:29:16Enkele mense wag in die koue weer voor die kerksaal in Despatch in die Oos-Kaap, waar die stembriewe laat gebring is. Net meer as 2000 mense is geregistreer om hier te stem. Foto: Cara-Lee Dorfling

2019-05-08 07:26:38Nat en koud in Bloemfontein. Mense kom stem met sambrele en koffie in Jaap Steynstraat, Bloemfontein. Om 07:06 het die stempunt nog nie geopen nie. Foto: Charles Smith

2019-05-08 07:25:40Honderde mense by die Hoërskool Milnerton in gietende reën. Foto: Nadia Honiball

2019-05-08 07:22:21Reddersburg is papsopnat en die stempunte is nog verlate. Rentia Becker en Alta Kilian, buurvroue, is eerste aan die beurt. Becker sê sy dink die reën gaan die verkiesing beïnvloed. Foto: Cherene Pienaar

2019-05-08 07:20:42Só staan mense onder sambrele om by die Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein te stem. Foto: Marietjie Gericke

2019-05-08 07:14:56By Hennenman se stempunt, by die laerskool wag mense buite omdat alles nog nie gereed is nie. Foto: Alet van der Walt

2019-05-08 07:12:45Verkiesingsbeamptes het eers 3 minute voor die stemlokaal in Despatch, Oos-Kaap, moes oopmaak, met die stembriewe opgedaag. Dié stemlokaal by die NG Kerk Suid het nog nie teen 07:00 oopgemaak nie. Foto: Cara-Lee Dorfling

2019-05-08 07:09:14Athol Trollip, die DA se federale voorsitter, gesels met kiesers by die stadsaal in Walmer, Port Elizabeth. Foto: Lulama Zenzile

2019-05-08 07:06:51Eerste in die reën by die stempunt in Jaap Steyn-straat, Langenhovebpark, Bloemfontein. Van links is André Olivier, Francina Olivier en Albertus Olivier. Dit reën nou lekker hier in Bloemfontein. Foto: Charles Smith

2019-05-08 07:05:23By die Laerskool Wierdapark in Centurion is daar sedert 06:30 al 'n redelike lang tou van mense wat wag om te stem. Die tou gaan by die skoolhek uit tot in die straat. Foto: Andrea Küsel

2019-05-08 07:03:17Johannesburgers is vroeg uit die vere op stemdag. Hier staan hulle en wag by die Laerskool Louw Geldenhuys in Linden. Foto: Jana Marx

2019-05-08 07:01:55By die Stanza Bopape Sekondêre Skool in Mamelodi, Pretoria, is darem al 'n paar mense wat wag om te stem. Foto: Sarel van der Walt

2019-05-08 07:00:19Beamptes stel die stemhokkies op in Dobsonville, Soweto. Foto: Felix Dlangamandla

2019-05-08 06:52:07Kiesbeamptes sit tekens op in Dobsonville, Soweto. Foto: Felix Dlangamandla

2019-05-08 06:50:27Kiesers staan tou voor die stadsaal in Walmer, Port Elizabeth. Foto: Lulama Zenzile

2019-05-08 06:48:32Thokozile Masanga, van die OVK, glimlag breed tydens voorbereiding vir stemdag by die Lesego Primary School in Muldersdrift buite Krugersdorp aan die Gautengse Wes-Rand. Dit is Suid-Afrika se sesde volledig-demokratiese verkiesing sedert die einde van apartheid in 1994. Foto: Werner Beukes

SPELETJIES VANDAG

CTA