Hoewel die Verkiesingskommissie (OVK) die tweede dag van spesiale stemme in die Oos-Kaap as "beter" beskryf met minder diensleweringsbetogings, het twee stemlokale nie Dinsdag geopen nie.
Volgens Kayakazi Magudumana, provinsiale verkiesingsbeampte, het die stemlokale in Ntlangano in Ntabankulu, asook in Gcinisizwe in Bizana, nie geopen nie.
Sy sê huisbesoeke deur OVK-beamptes kan ook nie in die gebiede gedoen word nie, omdat betogers vasbeslote is om alle huisbesoeke te ontwrig.
"Onderhandelinge is aan die gang in die gebiede om die huisbesoeke teen 17:00 te hervat. Maar as daar geen verbetering met die situasie is nie, doen ons 'n beroep op dié kiesers om Woensdag die stemlokale te besoek."
Intussen kon minstens sewe inwoners van 'n woonkompleks in Uitenhage, wat glo vir 'n spesiale stem en huisbesoek van die OVK geregistreer het, nie Maandag of Dinsdag stem nie.
"Ons het 'n SMS ontvang wat bevestig ons sal by die huis besoek word. Maar Maandag het ek by een van die beamptes in die buurt gehoor ons name is nie op die lys nie," sê Martie Janse van Rensburg.
Sowel Janse van Rensburg as Peet Viviers, 'n man na wie sy in die woonkompleks omsien, is goedgekeur vir 'n huisbesoek deur die OVK.
Nadat Janse van Rensburg die plaaslike raadslid gekontak het, het hy vasgestel nie haar of Viviers se name is op die spesiale kiesersrol nie.
"Ons is minstens sewe mense in dieselfde kompleks wie se name nou nie op die lys is nie. Die raadslid het gesê hy sal vir ons vervoer reël om Woensdag te gaan stem, maar wat van al die ander mense op die dorp wat goedgekeur is vir 'n huisbesoek en nou wag, sonder om te weet hul name is nie op die lys nie?"
Mthatha, Bizana, Port St. Johns en Port Alfred kan sowat 5 mm reën verwag, met die wind wat tussen 10 km/h en 27 km/h kan waai.
Janse van Rensburg was ook bekommerd dat haar naam nie op die gewone kiesersrol van Woensdag sal verskyn nie, maar Magudumana het die versekering gegee dat alle kiesers wat nie Maandag of Dinsdag by hul huise besoek is nie, Woensdag by stemlokale kan stem.
Magudumana sê bejaardes wat Woensdag by stemlokale opdaag, sal voorkeur geniet.
Sy sê hulle hoop ook vir beter weer nadat enkele gebiede in Bizana weens gure weer gemonitor word vir die moontlikheid van paaie wat dalk ontoeganklik kan wees.
Volgens die weervoorspelling sal kiesers in groot dele van die Oos-Kaap maar 'n sambreel na die stemlokaal moet saamneem.
Garth Sampson, woordvoerder van die weerkantoor in Port Elizabeth, sê dit sal oor die algemeen bewolk en koel wees. Reënbuie en sterk wind word ook in die provinsie verwag.
Vir Port Elizabeth word 10 mm reën voorspel, terwyl die temperature tussen 15 °C en 21 °C sal wissel met die wind wat teen sowat 18 km/h kan waai.
In Uitenhage en Graaff-Reinet word ook 10 mm reën verwag, met 'n windspoed van sowat 27 km/h.
Oos-Londen het 'n 30%-kans vir reën en 'n matige windspoed van bykans 10 km/h.
Mthatha, Bizana, Port St. Johns en Port Alfred kan sowat 5 mm reën verwag, met die wind wat tussen 10 km/h en 27 km/h kan waai.
Stemlokale sal Woensdag van 07:00 tot 21:00 oop wees.

















