Stemdag het Woensdag nie sonder probleme begin nie, met sterftes wat aangemeld is, motorongelukke waarby kiesbeamptes betrokke was, 17 stemlokale wat nie betyds geopen het nie en bewerings van werkgewers wat hul personeel dwing om op die vakansiedag te werk.
Dít aldus die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se hoof-kiesbeampte, Sy Mamabolo, wat joernaliste op die hoogte van gebeure tot dusver gebring het.
Hy het uitgebrei op van die uitdagings waarmee die OVK te doen gekry het toe 22 924 stembusse landwyd omstreeks 07:00 geopen het.
'n Bejaarde kieser is by 'n kieslokaal in Elandspoort in Pretoria dood en 'n adjunk- voorsittende beampte in die Oos-Kaap het in die nag weens siekte gesterf.
Die kommissie het verskeie klagtes ontvang van werkgewers wat werknemers nie wil toelaat om te gaan stem nie.
"Ons het klagtes ontvang oor werkgewers in die handelsektor wat nie reëlings wou tref dat hul werknemers kan gaan stem nie."
Van die ander probleme sluit in dat 17 stemlokale, waarvan 14 aan die suidkus van KwaZulu-Natal, teen middagete nog nie vir kiesers geopen is nie.
"Die OVK werk nou saam met veiligheidsagentskappe en regeringsdepartemente om die stemlokale so gou as moontlik oop en aan die gang te kry."
Daar was ook protesaksies in sommige gemeenskappe, maar dit was nêrens nodig om kieslokale te sluit nie.
Daar was ook plek-plek probleme met stembusse, stembriewe en skandeerders vir identiteitsdokumente.
"In Benoni is 'n kiesbeampte afgedank en in Ermelo het 'n party-beampte 'n kiesbeampte gehelp om stemme van 'n spesiale stemsak na die stembusse te dra. Ons het daardie stembriewe geïsoleer en die amptenaar is afgedank," het Mamabolo gesê.


















