Verkiesings 2019

‘Uitstaande uitslae sal nie groot verskil maak’

Die uitstaande uitslae in stemdistrikte landwyd behoort nie 'n beduidende verskil te maak ten opsigte van die finale steun wat die ANC, DA en EFF in die verkiesings gekry het nie.

Dit is die mening van Theo Venter, Netwerk24 se verkiesingsontleder in die nasionale uitslagsentrum in Pretoria, nadat 78,42% van die stemdistrikte Vrydag teen omstreeks 10:00 al getel was.

Die ANC het in daardie stadium 56,93% van die nasionale steun geniet, gevolg deur die DA met 21,97% en die EFF met 10,09%.

Venter het gesê hoewel dit groot stemdistrikte - soos dié in die metro's van Johannesburg en Pretoria in Gauteng, Durban in KwaZulu-Natal en selfs enkeles in Kaapstad - is wat nog uitstaande is, behoort dit 'n beduidende verskil te maak, maar daardie verskille is reeds in die huidige vooruitskattingsmodel bereken en sal daarom nie op die uiteinde 'n groot verskil maak nie.

Die bord met uitslae by die OVK se nasionale uitslagsentrum in Pretoria. Foto: Felix Dlangamandla
Die bord met uitslae by die OVK se nasionale uitslagsentrum in Pretoria. Foto: Felix Dlangamandla

Teen Vrydag 10:00 was nog net 58,64% se stemdistrikte in Gauteng getel. Die ANC geniet daar 'n voorsprong van 49,64%, terwyl die DA 28,46% en die EFF 13,94% se steun gekry het.

In KwaZulu-Natal was 68,68% distrikte al getel. Die ANC was voor met het 53,05%, gevolg deur die IVP met 17,27% en die DA met 14,90%.

In die Wes-Kaap was teen 10:00 nog net meer as 3% se stemdistrikte uitstaande. Die DA loop hier voor met 55,26%, gevolg deur die ANC met 28,79% en die EFF met 4,02%.

Venter het gesê die huidige vooruitskattingsmodel maak egter voorsiening vir wat in die gebiede sal gebeur wat nog uitstaande is.

Godrich Gardee en Vuyani Pambo van die EFF hou die uitslae Donderdag by die OVK se nasionale uitslagsentrum dop. Foto Felix Dlangamandla
Godrich Gardee en Vuyani Pambo van die EFF hou die uitslae Donderdag by die OVK se nasionale uitslagsentrum dop. Foto Felix Dlangamandla

"Daar is 'n groot mate van vertroue in die model en daarom sal die uitstaande stemme landwyd nie 'n baie groot verskil maak nie.

"In die stedelike gebiede was daar egter 'n baie hoër stemopkoms as in die landelike gebiede. Dit moet ook nog in berekening gebring word. So ja, dit is groot stemdistrikte wat nog uitstaande is wat die getalle op die uiteinde kan verander. Maar dit is egter reeds in die model ingebou en in berekening gebring."

Venter sê sy vooruitskatting is daarom dat die ANC nasionaal rondom 57% sal kry, die DA 22% en die EFF sowat 10%.