'n Rampspoedige Vrystaatse verkiesing met 'n uiters lae opkoms by die stembus weens gietende reën is Woensdagaand deur verdere teenspoed getref.
Verskeie tente in die provinsie wat as stempunte gedien het, is deur die reënweer omgestoot, terwyl ander in water- en modderpoele verander is.
Mmathabo Rasengane, kommunikasiebestuurder van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK), het om 18:30 gesê tien van die Mangaung-tente wat stemlokale was, sou nie verder gebruik kon word nie omdat dit omgeval het. Nog 16 van die tente, net in Mangaung alleen, was vol water en kon feitlik nie meer as stempunte benut word nie.
Dit kom te midde van 'n stemdag waar die opkoms heelwat minder as verwag was.
"Slegs 386 000 van die 1,4 miljoen geregistreerde kiesers in die Vrystaat het teen 16:00 - ná nege uur - hul kruisies getrek.
By stemlokale het kiesers, wat wel gaan stem het, onder helderkleurige sambrele die koue en reënweer trotseer toe sommige stemlokale laat oopgemaak het weens verskeie probleme wat die OVK op sommige plekke ondervind het.
"Ons weet nie hoeveel kiesers uiteindelik in die gietende reënweer sal stem nie, omdat al hoe meer tente wat stemlokale is, van 17:00 af ineengestort het."
Rasengane het om 18:30 gesê die OVK sou 'n noodvergadering oor die krisis met al die politieke partye se verteenwoordigers in die Vrystaat hou.
Intussen het prof. André Duvenhage, politieke ontleder en navorser van die Noordwes-Universiteit, by navraag gesê die reënweer is nie die enigste faktor wat 'n lae opkoms kon veroorsaak nie.
"Net soos die Vrystaat is die Noordwes-verkiesingsveldtog van die ANC vanjaar deur apatie gekenmerk. Daar was lae vlakke van politieke mobilisering en veldtogte is nie goed bestuur nie. Daar was geen energie in die omgewing nie, net 'n doodsheid."
Dít word weerspieël in die voorlopige opkomssyfers van die OVK in sowel die Vrystaat as Noordwes.
Hy sê teen 18:00 het nog net 392 907 van die 1,7 miljoen geregistreerde kiesers in Noordwes gestem. Dit is 23,08%.
Hy sê die ANC sal die party wees wat die meeste onder die lae stempersentasie gaan ly.
By stemlokale het kiesers, wat wel gaan stem het, onder helderkleurige sambrele die koue en reënweer trotseer toe sommige stemlokale laat oopgemaak het weens verskeie probleme wat die OVK op sommige plekke ondervind het. Probleme het gewissel van 'n gebrek aan sekere materiaal en die 12 stemlokale in Marquard wat weens protesaksies in die Oos-Vrystaatse dorp eers om 10:00 onder polisiebegeleiding kon open.




















