2024

Cosatu ontsteld dat Kodwa as LP beëdig is

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die ANC het gekies om sy eie opsystaan-reël te ignoreer en te ondermyn met die beëdiging van Zizi Kodwa, voormalige minister van sport, kuns en kultuur, as LP.

So sê die vakverbond Cosatu, 'n ANC-alliansievennoot, wat Dinsdagmiddag sy "diepe teleurstelling" in die ANC weens dié "roekelose" en "ondeurdagte" besluit uitgespreek het.

Die staat se saak teen my bestaan nie, maar dit is nie die kwessie waarvoor ons hier is nie.

Dit volg nadat Kodwa, wat op aanklagte van korrupsie teregstaan, Dinsdag as LP beëdig is. Hy is saam met LP's van oudpres. Jacob Zuma se MK-party in die Goeie Hoop-gebou op die parlementêre perseel beëdig nadat almal van hulle die eerste sitting van die Nasionale Vergadering (NV) verlede Vrydag misgeloop het.

Matthew Parks, Cosatu se parlementêre koördineerder, sê die kwessie laat vrae ontstaan oor die ANC se verbintenis daartoe om sy openbare verteenwoordigers verantwoordbaar te hou, asook oor dié party se "dapper en nodige" veldtog om homself te vernuwe.

Kodwa het Dinsdag voor sy beëdiging aan joernaliste gesê die ANC moet sê of sy opsystaan-reël op hom van toepassing is. Ingevolge dié reël moet ANC-lede opsy staan wat op ernstige aanklagte teregstaan.

Kodwa wou ook nie veel oor sy verhoor uitwei nie.

"Die staat se saak teen my bestaan nie, maar dit is nie die kwessie waarvoor ons hier is nie."

Kodwa het op 5 Junie as minister bedank nadat hy op dieselfde dag in die landdroshof in Palm Ridge, Johannesburg, op aanklagte van korrupsie verskyn het. Hy is op borgtog van R30 000 vrygelaat.

Die aanklagte hou verband met Kodwa se beweerde betrokkenheid by die toekenning van kontrakte aan die onderneming EOH Holdings terwyl hy 'n lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee en die partywoordvoerder was.

Kodwa is een van byna 100 ANC-lede wat in die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping se verslag by ongerymdhede betrek word.

Zizi Kodwa tydens sy beëdiging as LP verlede maand.  Foto: Gallo Images
Zizi Kodwa tydens sy beëdiging as LP verlede maand. Foto: Gallo Images (Brenton Geach)

Parks vra in die Cosatu-verklaring of dit is hoe die ANC van die sewende administrasie en sy verteenwoordigers in die parlement verwag om die vertroue van mense terug te wen ná 'n dekade van staatskaping en korrupsie.

"Hoewel ons nie die moeilike omstandighede vier waarin kameraad Kodwa hom bevind nie en ons hom sterkte toewens met sy verhoor, is dit nie gepas vir lede van die parlement om kort-kort in die hof te verskyn nie."

Volgens Parks het hulle gehoop die "vernederende" verkiesingsuitslae van 29 Mei sal vir hul "kamerade in Luthuli-huis dien as 'n geleentheid vir ernstige introspeksie en om hulself te verbeter".

"Ons kan maar net hoop dat hierdie oomblik steeds vir hulle sal aanbreek," sê Parks.

Snuki Zikalala, leier van die ANC se veteraneliga, het ook sy teleurstelling met Kodwa se beëdiging uitgespreek. Die ANC het volgens hom juis die verkiesing verloor omdat mense dink hy neem nie korrupsie ernstig op nie.

Volgens Zikalala is Kodwa deur die takke van die ANC as 'n LP benoem, maar dit sou die beste wees om te wag dat Kodwa eers "sy naam in ere herstel".

Volgens Zikalala sal hulle die kwessie met Fikile Mbalula, ANC-sekretaris-generaal, opneem.

CTA