2024

Datum van parlementsopening bekend

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Pres. Cyril Ramaphosa het 'n gesamentlike sitting van die Nasionale Vergadering (NV) en die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) uitgeroep vir die parlementsopening.

Die presidensie het Vrydag bekend gemaak dat die sitting vir Donderdag 18 Julie uitgeroep is - oor minder as drie weke.

Vincent Magwenya, Ramaphosa se woordvoerder, sê Ramaphosa sal in sy openingsrede die prioriteite van die sewende administrasie belig.

Die president het die parlement ingevolge art. 82(2)(d) van die Grondwet en reël 13(1)(a) van die gesamentlike reëls versoek om die sitting te belê.

"Die openingsrede sal saamval met die Verenigde Nasies-verklaarde Internasionale Nelson Mandeladag. Hierdie dag, wat die verjaarsdag van die stigterspresident van 'n demokratiese Suid-Afrika gedenk, is 'n wêreldwye viering en 'n dag van goeie persoonlike en kollektiewe optrede wat dié leier se lewe en nalatenskap vereer," sê Magwenya.

"Die opening van die parlement op hierdie dag is 'n gepaste huldeblyk omdat dit 'n beroep op individue en gemeenskappe doen om tyd te neem om na te dink oor Mandela se waardes en beginsels en om 'n positiewe impak op gemeenskappe en wêreldwyd te hê."

CTA