‘Die RNE is nou op koers!’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Suid-Afrika se regering van nasionale eenheid (RNE) het Vrydag sy eerste toets geslaag toe Thoko Didiza van die ANC met die steun van die DA, die IVP en die PA tot speaker van die parlement verkies is.

Dié samewerking het ook 'n invloed gehad in KwaZulu-Natal en Gauteng, waar regerings van provinsiale eenheid hul stem laat hoor het.

Thami Ntuli van die IVP is tot premier van KwaZulu-Natal verkies met Nontembeko Boyce van die ANC wat tot speaker verkies is en Mmabatho Tembe van die DA tot adjunkspeaker. Die NFP is ook deel van dié provinsiale regering van eenheid.

In Gauteng is Panyaza Lesufi van die ANC onbestrede tot premier herkies.

Dr. Annelie Lotriet van die DA is tot adjunkspeaker van die Nasionale Vergadering (NV) verkies. Sy is deur Vuyo Zungula, leier van die ATM, teengestaan. Lotriet het 273 stemme gekry en Zungula 54.

Didiza is deur Veronica Mente van die EFF teengestaan wat deur haar party benoem is. Ná ingryping van die EFF is daar besluit dat stemme in die teenwoordigheid van partyverteenwoordigers getel sal word.

Didiza het 284 stemme gekry en Mente 49.

Die DA sou ook ingevolge die voorlopige ooreenkoms vir die RNE vir Cyril Ramaphosa as president stem.

Die DA se deelname aan die RNE is eers Vrydagoggend bevestig nadat die eerste parlementsitting van die sewende administrasie reeds begin het. Dit het gevolg op intense onderhandelinge met die ANC.

Die DA word deel van sowel die nasionale regering as die provinsiale regerings in KwaZulu-Natal en Gauteng nadat hy die dokument oor die totstandkoming van die RNE saam met onder meer die IVP en die ANC onderteken het, het John Steenhuisen, DA-leier, Vrydag op 'n mediakonferensie in Kaapstad gesê.

Die RNE is nou op koers.

Ingevolge die ooreenkoms sal die DA volgens Steenhuisen verskeie leiersposte in die kabinet, die NV, die Nasionale Raad van Provinsies en in parlementêre portefeuljekomitees beklee. Dié poste sal volgens Steenhuisen proporsioneel toegeken word. Daar is nog nie oor poste onderhandel nie.

Dit kan volgens prof. Theo Venter, politieke ontleder aan die Universiteit van Johannesburg, beteken dat die DA tot vyf kabinetsposte kan kry. Die IVP, wat hom reeds Donderdag tot die RNE verbind het, kan volgens Venter dalk twee kabinetsposte kry.

Steenhuisen sê onderhandelinge is nog nie gefinaliseer nie. Dit sal in fases geskied en eindig met 'n lekgotla, waar beleidspunte ter sprake sal kom.

Fikile Mbalula, ANC-sekretaris-generaal, het Vrydagmiddag gesê die ANC het tot dusver met alle partye, buiten ActionSA en UAT, gesprekke oor sy planne vir 'n RNE gevoer. Die ANC sit pogings voort om steeds met dié twee partye, asook met oudpres. Jacob Zuma se MK-party, daaroor te praat.

"Ons kan bevestig dat die meeste partye tot die stigting van 'n RNE ooreengekom het."

Die ANC het volgens hom ook 'n "verklaring van voorneme" opgestel wat verantwoordbaarheid van 'n RNE sal verseker en vertroue tussen die kiesers en partye bevorder wat deel van die RNE vorm. Die dokument is aan partye gegee om dit te bestudeer en terugvoering te gee.

"Die RNE is nou op koers," sê Mbalula.

"Daarbenewens het die partye hulself tot 'n uiters belangrike nasionale dialoog met partye, die burgerlike samelewing, georganiseerde arbeid, die private sektor en ander sektore verbind. Daar sal gepoog word om 'n nasionale ooreenkoms te ontwikkel wat die land in staat sal stel om aan die aspirasies van die Nasionale Ontwikkelingsplan te voldoen."

Die verklaring van voorneme maak voorsiening vir 'n staatsdiens gegrond op meriete en respek vir die Grondwet, 'n verenigde Suid-Afrika, nierassisme, nieseksisme, nasiebou, maatskaplike samehorigheid en eenheid in diversiteit. Van die basiese prioriteite van 'n RNE sluit luidens die dokument versnelde ekonomiese groei en die bevordering van beleggings in, asook grondhervorming en fiskale volhoubaarheid.

Mbalula sê voorts die ANC sal nie van belangrike beleidsaspekte soos sy internasionale beleid en steun vir die Palestyne afsien nie.

Intussen sê die sogenaamde progressiewe forum die ANC "mislei" die land deur voor te gee dat hy 'n RNE wil saamstel terwyl hy eintlik reeds op 'n koalisieregering met die DA en ander partye besluit het.

Dié koukus is Donderdagaand deur die EFF, die ATM, die UDM, die PAC, Al Jama-ah en UAT gestig.

Hierdie groep partye, wat saam sowat 13% van die kiesers se steun op hulle verenig het, glo dat die ANC met sy 40% steun eerder 'n "progressiewe"' regering saam met hulle moet vorm om die land vorentoe te neem. - Gert van der Westhuizen, Llewellyn Prince, Christiaan du Plessis, Raymond Willemse, Dennis Delport en Marelize Barnard

SPELETJIES VANDAG

CTA