Dr. Phophi Ramathuba, LUR vir gesondheid in Limpopo, sal na alle waarskynlikheid die nuwe premier van die provinsie wees.
Haar naam verskyn heel bo-aan die ANC-kandidatelys as deel van die 48 setels in die provinsiale wetgewer. Die lys is Donderdag deur die Verkiesingskommissie (OVK) bekendgemaak.
Die Limpopo-wetgewer sal voortaan uit 64 lede bestaan nadat dit as gevolg van bevolkingsgroei aangepas is vanaf die huidige 49 setels.
Die ANC kraai weer koning in Limpopo ná die nasionale verkiesing, waarin die party 73% van die steun gekry het. Die ANC se aantal setels in die provinsiale wetgewer groei met 10 vanaf 38 na 48.
Ramathuba was een van drie kandidate vir die premierspos wat die provinsiale ANC Maandag gekies het. Sy is 'n lid van die ANC se provinsiale uitvoerende komitee (PUK) en dien die afgelope nege jaar as LUR vir gesondheid.

Nakedi Sibanda-Kekana, ANC tesourier-generaal in Limpopo, beklee die tweede plek op die lys vir die provinsiale wetgewer. Sy is sedert Oktober 2022 die LUR vir sport, kuns en kultuur in Limpopo.
Basikopo Makamu, adjunk-sekretaris-generaal van die ANC in Limpopo, is as die derde premierskandidaat benoem, maar het slegs die 24ste plek gehaal op die lys van ANC-lede wat in die Limpopo-wetgewer sal dien. Makamu is sedert Julie 2018 die LUR vir plaaslike regering, tradisionele sake en behuising in Limpopo.
Thabo Mokone, 'n lid van die ANC se PUK en LUR vir landbou en grondsake, is nommer drie op die partylys om in die provinsiale wetgewer te dien.

Die EFF bly die amptelike opposisie in Limpopo met 14,12% steun wat in die verkiesing verwerf is. Die rooi barette sal nege setels in die provinsiale wetgewer beklee. Dit is twee meer as die huidige sewe EFF-lede wat in die provinsiale wetgewer is. Manglemang Rassie Maepa is nr. 1 op die EFF se lys vir die provinsiale wetgewer.
Die DA is die derde grootste party in die wetgewer nadat hy 5,96% in die nasionale verkiesing behaal het. Die party het vier setels, een meer as die huidige drie setels in die wetgewer. Lindy Wilson, DA-leier in Limpopo, sal saam met Jacques Smalle, voorsitter van die DA in Limpopo, Marie Helm, die DA se adjunkvoorsitter in Limpopo, en Nico Pienaar, die DA-koukusleier in Lephalale in die provinsiale wetgewer diens doen.
Marcelle Maritz, VF Plus-leier in Limpopo, behou die party se enigste setel in die provinsiale wetgewer.


Die MK-party se Velile Cyril Jack sal die enigste setel van die party in die wetgewer vul. Die United Africans Transformation (UAT) se Kobodi Maila sal die enigste verteenwoordiger van die party in die wetgewer wees. MK en die UAT is nuwe toevoegings tot die provinsiale wetgewer.
Stan Mathabatha, huidige premier van Limpopo, is nommer een op die ANC se lys van afgevaardigdes na die Nasionale Vergadering (NV). Hy is sedert Julie 2013 premier van Limpopo. Nog ANC-lede van Limpopo wat in die NV sal dien, is Carol Phiri, 'n oudburgemeester van Musina, Mosa Chabane, nasionale voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor binnelandse sake, Donald Selamolela, voorsitter van die provinsiale portefeuljekomitee oor toerisme, omgewingsake en ekonomiese ontwikkeling, en Nandi Ndalane, die LUR vir maatskaplike ontwikkeling.
Désirée van der Walt is die enigste lid van die DA in Limpopo wat in die NV sal dien. Beyers Smit van die DA sal in die Nasionale Raad van Provinsies dien.





















