Verkiesings 2024

Integriteit van verkiesing is verseker, belowe OVK

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die Verkiesingskommissie (OVK) het alles in sy vermoë gedoen om die integriteit van die komende verkiesing te beskerm.

Maatreëls is ook ingestel om te verseker dat die land se sewende algemene verkiesing deursigtig is, het die kommissie Woensdag, 'n week voor stemdag, belowe.

Mosotho Moepya, OVK-voorsitter, het Woensdag by die opening van die nasionale en provinsiale verkiesingsuitslagsentrum by die Gallagher-konferensiesentrum in Midrand gesê alles is gereed om 'n vrye en regverdige verkiesing te verseker. Foto: Melinda Stuurman
Mosotho Moepya, OVK-voorsitter, het Woensdag by die opening van die nasionale en provinsiale verkiesingsuitslagsentrum by die Gallagher-konferensiesentrum in Midrand gesê alles is gereed om 'n vrye en regverdige verkiesing te verseker. Foto: Melinda Stuurman

Die OVK het Woensdagmiddag die verkiesingsuitslagsentrum by die Gallagher-konferensiesentrum in Midrand amptelik in bedryf gestel.

Mosotho Moepya, OVK-voorsitter, sê deursigtigheid is die kern van hul missie en dat daar geen skuiwergate is om die verkiesing te kaap nie.

"Ons toewyding tot aanspreeklikheid word verder bewys deur die maatreëls wat ingestel is om die geloofwaardigheid van die verkiesingsuitslae te beskerm.

'n Verkiesing gaan oor die 27 miljoen geregistreerde kiesers wie se politieke keuse ons moet fasiliteer.

"Die vaslegging en verifiëring van resultate by elke stempunt, onafhanklike oudits en die toeganklikheid van data vir belanghebbendes is 'n voorbeeld van ons verbintenis tot integriteit. Ons weier om kompromieë aan te gaan oor die legitimiteit van die uitkomste van die verkiesing."

Moepya sê hulle is gereed om enige teenstrydighede vinnig en beslissend te hanteer.

"Vir deelnemers om die verkiesingsuitslae te aanvaar, is dit uiters belangrik en ons ontsien geen moeite om die integriteit van die verkiesingsproses te verseker nie."

Sy Mamabolo, hoofkiesbeampte van die OVK, sê die uitslagsentrum sal as die hartklop van die verkiesingsproses dien.

"Hierdie verkiesing gaan nie oor ons nie, en dit gaan beslis nie oor ons vooroordele nie. 'n Verkiesing gaan oor die 27 miljoen geregistreerde kiesers wie se politieke keuse ons moet fasiliteer."

Die meerderheid geregistreerde Suid-Afrikaanse kiesers trek hul kruisies op 29 Mei. Sowat 1,6 miljoen spesiale stemme word op 27 en 28 Mei uitgebring.

Die nasionale en provinsiale verkiesingsuitslagsentrum vir 2024 is Woensdag amptelik by die Gallagher-konferensiesentrum in Midrand geopen, 'n week voordat kiesers stembus toe gaan. Foto: Melinda Stuurman
Die nasionale en provinsiale verkiesingsuitslagsentrum vir 2024 is Woensdag amptelik by die Gallagher-konferensiesentrum in Midrand geopen, 'n week voordat kiesers stembus toe gaan. Foto: Melinda Stuurman

Mamabolo sê altesaam 56 800 kiesers het die afgelope naweek by 111 buitelandse sendings oor die wêreld heen hul stemme uitgebring. Altesaam 76 580 kiesers het geregistreer om in die buiteland te stem.

Regter Dhaya Pillay, OVK-kommissaris, sê die kommissie was die afgelope tyd op 'n wipwaentjierit deurdat onder meer sy verkiesingsrooster in die howe beveg is.

Sy sê die kommissie moes 17 sake in die howe beveg, waarvan hulle 14 gewen het met drie uitsprake wat nog uitstaande is. Dit terwyl hulle moes voorberei vir die provinsiale en nasionale verkiesing van volgende week.

Een van die jongste sake wat in die howe beveg is, was die verkiesbaarheid van oudpres. Jacob Zuma as 'n MK-kandidaat. Die OVK het Zuma van die lys verwyder wat Maandag deur die konstitusionele hof bekragtig is.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM