Die Vrystaat se nuwe LUR'e is Sondag voor die provinsiale regter-president, Cagney Musi, op die agtste verdieping van die O.R. Tambo-gebou in Bloemfontein beëdig.

Agt van die nege LUR'e is beëdig, omdat Saki Mokoena, Vrystaatse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) en behuising, nie daar kon wees nie en reeds Saterdag deur die regter-president beëdig is.
Hy is glo intussen buiteland toe.
Maqueen Letsoha-Mathae, die nuwe premier, het die verwelkomings gedoen en dadelik die mikrofoon aan Musi oorhandig vir die beëdiging.

Sy het gesê dit is nie haar geleentheid nie, maar dié van haar LUR'e of uitvoerende raadslede.
Hulle het ná die beëdiging saam middagete geëet.














