SIELSKOS: As jy 'n hartsmens moet groet

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Dié wat 'n groot leemte met hul dood laat, kan ons leer om vir ander 'n lig in donker tye te wees.

Ernusta Maralack. Foto: Verskaf
Ernusta Maralack. Foto: Verskaf

Die lewe is onvoorspelbaar, maar die een ding wat seker is van die lewe, is die dood.

Dis 'n donker onderwerp om in die derde maand van die jaar aan te pak, maar die dood van die aktrise Crystal-Donna Roberts het my opnuut tot stilstand geruk en laat besin oor die lewe en hoe ek dit aanpak.

Doen ek genoeg met die geskenk van lewe wat ek kry elke oggend wanneer ek my oë kan oopmaak? Crystal-Donna is luidens berigte in haar slaap dood, wat beteken sy het haar oë toegemaak om te slaap en net nooit weer wakker geword nie . . .

Sy was siek - sy't 'n stryd teen kanker gestry - en ek dink haar familie was dalk haar dood te wagte. Maar as iemand wat vyf maande gelede my niggie aan die dood afgestaan het, weet ek daai sweep wat die dood oor jou hart klap, laat sy letsels. Vir altyd.

Jy hoop daar groei 'n roof wat die pyn van jou verlies net so ‘n bietjie sal verdoof, maar jy weet nooit wanneer daardie absolute rou jou van vooraf soos 'n brander gaan omslaan nie. Op hierdie dae ween jy soos 'n baba en vra die Here om asseblief net die seer weg te vat. Jy soek antwoorde in jou drome oor of hulle oukei is.

Daarom gaan my hart uit na Crystal-Donna se familie en vriende - die mense in haar binnekring - wat haar sprankelende persoonlikheid elke dag ervaar het. Hul huis moet nou so stil wees sonder haar lag . . .

Ek het vir Crystal-Donna vroeg in my loopbaan ontmoet, toe ek voltyds by Kuier begin werk het. Ek dink die eerste voorblad wat ek saam met haar gedoen het, was in 2015 (of dit kan selfs vroeër wees, want sy was 'n gewilde voorbladgesig vir Kuier). Sy het hierdie gorgeous glimlag gehad wat haar neus so laat kreukel het - ons het dit ge-love! Op shoots het sy ook gereeld daaroor gespot.

So jonk soos wat sy was, was Crystal-Donna vir ons daai tyd al die verpersoonliking van die Kuier-vrou: unapologetically haarself; sy't geleef vir haar familie, en in haar werk het sy in elke rol haar álles gegee. Sy was ongetwyfeld een van die talentvolste aktrises wat Suid-Afrika al opgelewer het, wat enige karakter moeiteloos kon vertolk.

Doen ek genoeg met die geskenk van lewe wat ek kry elke oggend wanneer ek my oë kan oopmaak?

Ek het tydens covid 'n aanlyn gesels-program (ook getiteld Sielskos met Ernusta) aangebied, en Crystal-Donna was een van my gaste. In daardie episode het sy openlik oor haar stryd teen borskanker gesels, en ek het soveel bewondering gehad vir hierdie jong vrou wat soveel van haarself vir ons gegee het - alles in die hoop om ander vroue weer moed te laat skep of te laat voel hulle is nie alleen nie.

Sy was een van daardie mense wat soos human dopamine is - net hul teenwoordigheid en persoonlikheid lig jou gees. En dit voel vir my asof die Here hierdie tipe mense eerste kom haal.

My ma se suster, ons geliefde tannie Enn oor wie ek al geskryf het in dié rubriek, was so 'n mens. Sy was gaaf, snaaks, altyd in 'n goeie bui en só ongelooflik warm en liefdevol. En daai kekkellaggie van haar was iets anders!

My sussie het onlangs 'n baba gehad en sê die anderdag vir my wanneer sy alleen by die huis is met die baba en almal werk en skool toe is, wens sy so tannie Enn kan net weer by die deur ingewals kom.

Tannie Enn het na my ma omgesien toe sy baie siek was met covid, al was syself hoë-risiko met haar suikersiekte. Sy het my ma se huis kom skoonmaak en wasgoed gewas - alles uit liefde - omdat sy geweet het my ma staan heeldag op haar bene in haar werk.

Toe my tannie in 2022 weens 'n beroerte sterf, was ons platgeslaan. En vandag smag ons almal vir net nog één oomblik met haar . . . My niggie wat vermoor is, was óók so vol lewe, haar energie aansteeklik. En my ma se jongste broer, uncle Dawid, wat in 2017 gesterf het, was in die weermag en die hele familie se held. Almal wou heeltyd om hom wees. Soveel só, dat sy huis nooit nét vir hom en sy gesin was nie - daar was altyd ander familielede wat tydelik by hulle gewoon of gekuier het.

Wanneer dié tipe mense uit ons lewe geruk word, is dit asof 'n lig uitgedoof word wat ons wat agterbly in die donker laat, soekend na hulle, en na die sin van ons eie lewe sónder hulle.

Dit voel nie reg dat sulke mense weggeruk word nie. Maar in plaas van fokus op die hoekom en waarom, kan ons wat nog hier is, elke dag probeer om beter en gawer mense te wees. Sodat ons ook 'n lig in die donker kan wees.

En, belangriker nóg, dat ons vir dié in ons lewe wat so baie vir ons beteken, blomme kan gee terwyl hulle nog leef, en nie éérs wanneer ons moet afskeid neem van hulle nie . . .

SPELETJIES VANDAG

CTA