Help só om lees- en Kersvreugde te bring

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Jakes Gerwel . Foto: Media24 argief
Jakes Gerwel . Foto: Media24 argief

Met Kersfees om die draai en die skole wat binnekort sluit, word die handboeke vir 'n wyle opsy geskuif en met groot afwagting na Kersfees uitgesien.

Daar is egter baie behoeftige kinders wat geen rede het om na Kersfees uit te sien nie.

Dit is juis vir hulle dat die Jakes Gerwel-stigting Kersvader se skoene wil vol staan.

Die Jakes Gerwel-stigting is in 2013 ter ere aan prof. Jakes Gerwel se nalatenskap gestig. Gerwel is in 2012 oorlede. Die doel van die stigting is om met behulp van projekte die talente van opko­mende skrywers te ontwikkel en die volle potensiaal van jongmense te ontsluit.

Met dié visie wend die stigting hom nou tot die pu­bliek om 'n Kersgeskenk ter waarde van R50 per kind te borg. Elke geskenk sal 'n storieboek, lekkers en 'n klein speelding insluit. Die inisiatief ondersteun die stigting se Bloukraan-boekeprojek in die Oos-Kaap. Soveel as 3 000 grondslag­faseleerlinge in die Blue Crane-­distrik wat Pearston, KwaNojoli (Somerset-Oos) en Cookhouse insluit, word deur die boekeprojek bereik.

Met 40 lees-assistente aan diens word een-tot-een-lees­sessies vir kinders met ernstige leesprobleme aangebied. Alle deelnemende skole voorsien die stigting van 'n klaskamer wat assistente as leeskamers kan gebruik en wat met boeke, rakke, leesmatte en kreatiewe woordspeletjies toegerus is. Die kamers skep 'n veilige ruimte vir kinders wat dikwels weens hul leesprobleme verleë is.

Die meeste van die betrokke leerlinge kom uit geïsoleerde omgewings met beperkte toegang tot die kunste. Die stigting, in samewerking met die Suidoosterfees, neem ook kinderopvoerings na die onderskeie skole en bied vakansieprogramme aan. Hierdeur poog die stigting om 'n gemeenskapsgevoel te kweek en te wys dat boeke en lees pret kan wees.

Altesaam R150 000 word nog benodig om te kan verseker dat elkeen van die 3 000 leerlinge 'n geskenk ontvang.

Willemien Green

SPELETJIES VANDAG

CTA