Fiksie
Drie moorde in die Baai
Madelein Rust
HUMAN & ROUSSEAU, R350
'n Lyk spoel uit op die strand voor die Strandloper-gastehuis in St. Helenabaai.
Bianca Fabricious, die nuwe eienaar van die gastehuis moet wal gooi en die polisie oortuig dat sy nie hul hoofverdagte in die saak is nie. Haar onlangse bakleiery met die oorledene oor dié se kaalbas-sonbaaiery voor haar gaste, spoor haar aan om self die moord te probeer oplos. Terwyl Bianca na leidrade soek, besef sy gou dat die helfte van die dorp haar as celebrity en/of skarlaken-vrou beskou as gevolg van haar eenboekwonder hygroman wat - onder andere - haar huwelik gekos het.
Dinge wil maar net nie vlot tussen Bianca en die knorpot-kaptein Dolf de Wee, die polisie se hoofondersoekbeampte nie. Laasgenoemde, van die Vredenburgse eenheid teen ernstige geweldsmisdaad, het homself in St. Helena se polisiekantoor kom tuismaak om aan die saak te werk. Gelukkig het Bianca genoeg ondersteuning van haar personeel asook die simpatieke oor van speuradjudant Derek Meintjies. Tussendeur sit sy nog met Hannes, haar Londense agent wat knaend pla en heeltyd wil weet hoe sy met haar volgende boek vorder.
Bianca vind mettertyd uit dat die dorp en sy omgewing 'n donker kant het en dat ondergrondse dwelmsmokkel-sindikate moontlik betrokke is. Die waarskynlike inspirasie vir dié deel van die verhaal spruit uit die vele nuusberigte van werklike dwelm klopjagte wat tussen 2022 en 2024 aan die Weskus uitgevoer is.
Kort voor lank vind 'n tweede en derde moord plaas, en begin Bianca en die inwoners van die skilderagtige Weskus-dorpie vrees dat hulle 'n reeksmoordenaar in hul midde het. Feitlik almal is onder verdenking (ten minste in Bianca se oë) terwyl sy die een leidraad na die ander opvolg om die moordenaar(s) aan die kaak te stel.
Die skrywer het op 'n besonderse wyse die plaaslike omgewing in die storie verweef. Plekname en selfs die spoedgrens binne die Shelley Point-landgoed is in die kol. Die name van omliggende woonbuurte, regte restaurante, hul dekor en soms selfs spyskaarte sal vir menige Weskusser of selfs toeris onmiddellik herkenbaar wees.
Die beeldspraak is deurgaans effektief en treffend. Daar word verwys na 'n lyk wat "soos 'n stuk dooie seebamboes op die strand uitgespoel het". Op bl. 21 beskryf sy: "Die son glip tussen die wolke deur en vee van die mis op voordat dit weer agter 'n digte wolkebank insink." Die spanningslyn hou die leser aan die raai en word tot en met die ontknoping van die verhaal gebalanseer met skerpsinnige humor wat hoofsaaklik in die hoofkarakter se gedagtes ronddwaal.
Drie moorde in die Baai is 'n heerlike spanningsverhaal deur een van ons land se voorste skrywers.
Stefan Schutte is 'n skrywer en vryskutresensent van St. Helenabaai.


















