‘Mixtape’ bring verskillende kunsvorme saam

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
‘Mixtape van die liefde’, ’n poësiebloemlesing saamgestel deur Antjie Krog.
‘Mixtape van die liefde’, ’n poësiebloemlesing saamgestel deur Antjie Krog.

"Hoe sê 'n mens beter ‘ek is lief vir jou' as met 'n mixtape waaraan jy ure lank gewerk het?" vra die sangeres Anna Davel, regisseur van die produksie Mixtape van die liefde, waarin poësie deur middel van voordrag, musiek en visuele kuns vertolk word.

"Dit gaan oor daai onskuld. Al die herinneringe van toe jy dit opgeneem het."

Dit word in Oktober op die Nasionale Aardklop Kunstefees in die Laerskool Jan Celliers se kultuursentrum in Johannesburg en die AfriForum-teater in Pretoria aangebied.

Dit is genoem na die gelyknamige poësiebloemlesing deur die gevierde digter Antjie Krog, wat vroeër vanjaar deur Lapa uitgereik is.

'Unrequited love' deur Amy Jane van den Bergh.
'Unrequited love' deur Amy Jane van den Bergh.

Die titel daarvan kom uit drie gedigte uit Ryan Pedro se debuutdigbundel, Pienk ceramic-hondjies, wat in 2020 deur Kwela uitgereik is.

Die bundel én die produksie van Mixtape van die liefde sluit die werk in van digters soos Boerneef, Joan Hambidge, Elisabeth Eybers, Jolyn Phillips en Lynthia Julius.

"Alexa (Strachan, Aardklop-feesbestuurder) het my gebel en gesê sy het 'n konsep," sê Davel.

Anna Davel
Anna Davel

"Ek het die bundel gaan koop en dit daardie aand deurgelees. Daar is gedigte in die bundel wat reeds getoonset is, soos ‘Rooiborsduif' (Breyten Breytenbach) en ‘Sproeirreën' (‘my nooi is in 'n nartjie' DJ Opperman) en ‘Voshaarnooi' (Boerneef), wat maklike keuses is. Ek het 'n mooi narratief gaan soek en 'n program saamgestel. Ek sing ook een of twee van die liedjies in die produksie. Alle generasies en kultuurgroepe word verteenwoordig."

Onder andere Jana Cilliers, Christo Davids, Stephanie Baartman en Leon Gropp tree in die produksie op.

Die visuele kunstenaars sluit in John Robbertse, Amy Jane van den Bergh, Amé Bell, Jayne Crawshay-Hall, Balekane Legoabe en Neil Badenhorst.

Die produksie skets soos die bundel die liefde in al sy gedaantes: "Soms morsig, meestal misterieus, en maak 'n mens dikwels mallerig."

Dit beeld ook liefde in die sin van onder meer vriendskap, materiële dinge en jou land uit.

Christo Davids
Christo Davids

Visuele kunstenaars is genader om uit die gedigte (wat in die produksie gebruik word) kuns in verskillende media te skep.

"Dit gaan 'n wonderlike toedrag van kreatiwiteit in een vertrek wees," sê Dineke van der Walt, kurator van die produksie.

"Ek dink baie kunstenaars het ook nie besef hoeveel inspirasie hulle uit ander kunstenaars (soos skrywers) se werk kan kry nie. En dis hoe dit hoort. Kunstenaars vul mekaar aan en inspireer mekaar tog. As jy iets interessant lees, dan gee dit 'n idee vir iets anders, dalk heeltemal oorspronklik. Daai soort kreatiwiteit is aansteeklik.

"Daar is selfs abstrakte werke. Mense met vooropgestelde idees gaan dalk hul horisonne verbreed."

Van der Walt en Strachan het saam besluit dit sal goed wees om 'n produksie aan te bied waarin die uitvoerende en visuele kunste hande vat.

'Jesus In ‘n Bad' deur Almero Welgemoed.
'Jesus In ‘n Bad' deur Almero Welgemoed.

"Ek het baie jonger kunstenaars ingesluit, maar daar is ook gevestigdes. Alexa het met die idee vir Mixtape van die liefde vorendag gekom en ek het gesê ek sal kunstenaars kry wat daarby sal aansluit, want dis so 'n lekker tema en iets waarvoor kuns selde die geleentheid kry om dit uit te beeld. Daar is min uitstallings wat dié konsep ondersoek.

"Ek het aan die kunstenaars die gedigte gegee wat ons in die produksie gaan gebruik, wat hulle as vertrekpunt of inspirasie kon gebruik het."

Davel sê toe sy tydens die inperking geskilder het, het sy geheel en al haar inspirasie uit poësie geput.

"Elke gedig en voorlesing sal anders wees. Ek sien daarna uit om te ervaar wat elkeen na die produksie sal bring."

• Die kunswerke sal om logistieke redes net in die vertoning by die Laerskool Jan Celliers te sien wees.

• Die produksie word deur NATi moontlik gemaak en duur een uur.

• Vertonings: In die AfriForum-teater op 5 Oktober om 14:30. Kaartjies kos R220 en is beskikbaar by: www.afriforumteater.co.za

In die Laerskool Jan Celliers se kultuursentrum op 6 en 8 Oktober om 11:00. Kaartjies kos R220 en is beskikbaar by: www.ticketpros.co.za.

Jana Cilliers
Jana Cilliers

SPELETJIES VANDAG

CTA