Fiksie
Black Wolf
Juan Gómez-Jurado
PAN MACMILLAN, R365
Met pittige hoofkarakters en humoristiese noir-skryfstyl is Black Wolf so speels soos 'n familie meerkatte in die Kalahari en net so vermaaklik. En die res van die wêreld dink klaarblyklik ook só. Red Queen, die eerste in Juan Gómez-Jurado se trilogie, is is begin vanjaar omskep in 'n Amazon Prime-reeks.
Sy het geen begrip vir die fyner nuanses van humor of sosiale interaksie nie, terwyl Gutiérrez sarkasme gepersonifieer is.
Antonia Scott en Jon Gutiérrez word deur hul werkgewer, die klandestiene Red Queen-organisasie, afgevaardig om die hoogswanger vrou van 'n vermoorde Russiese Mafialid in die Costa del Sol op te spoor voordat Black Wolf, 'n sluipmoordenaar, haar in die hande kan kry. Die storielyn wil-wil soms onder die leser weghardloop, maar die skrywer hou matigheid voor oë en bepaal hom gelukkig eerder by behoorlike karakterontwikkeling as blote skop-skiet-en-donder.
Don Quichot en sy regterhand, Sancho Panza, was die inspirasie vir Scott en Gutiérrez, sê Gómez-Jurado. Eersgenoemde storm vreesloos, dikwels ondeurdag, voort, terwyl Gutiérrez die meer praktiese en pragmatiese dromer is.
Scott kan gesien word as 'n amalgamasie van Luke Jennings se Villanelle (sosiaal wanaangepas), Luc Besson se Nikita (intensief opgelei en militaristies gedissiplineerd) en Sherlock Holmes (uitstekende waarnemingsvaardighede en 'n dwelmafhanklikheid).
Gebeure speel op kinematiese wyse af met visueel gedetailleerde flitse en kleurryke dialoog.
Sy het geen begrip vir die fyner nuanses van humor of sosiale interaksie nie, terwyl Gutiérrez sarkasme gepersonifieer is. Hoëspoed-motorjaagtogte en tranerige vaarwelsêery is sy kriptoniet. Daarbenewens maak sy seksuele oriëntasie en hipersensitiwiteit oor sy gewig ("It's not that he's fat") van hom 'n misdaadfiksie-anomalie.
Hulle vorm 'n perfekte simbiose ondanks 'n krapperige verhouding: Die een kan nie sonder die ander nie.
Vergelykings is willekeurig getref met Stieg Larsson se trilogie, en hoewel Scott en Salander albei geniaal en sosiaal wanaangepas is, is Gómez-Jurado se karakters en storielyn beter ontwikkel en ryker as Larsson se melancholiese Skandi-noir. Black Wolf is egter nie so liggeraak dat dit die meer uitdagende aspekte van die lewe systap nie. Scott se verhoudings laat veel te wense oor, of dit haar werkverhouding met Gutiérrez of persoonlike verhouding met haar pa, vervreemde seun of bedlêende man is.
Black Wolf kon 'n draaiboek gewees het: Gebeure speel op kinematiese wyse af met visueel gedetailleerde flitse en kleurryke dialoog. Tog vermors Gómez-Jurado nie woorde nie; teks word getakel met 'n skalpel en net die nodige bly agter. Sy joernalistieke agtergrond is duidelik herkenbaar in die gestroopte, op-die-man-af-skryfstyl. Black Wolf is vlymskerp, intelligent en super-pret.
Sonja van der Westhuizen is 'n taalpraktisyn en vryskutresensent van Durbanville.















