Liefhebbers van die kunste kan uitsien na 'n balletopvoering wat uiteindelik ná twee jaar weer in Gqeberha aangebied sal word.
Die Vriendelike Stad se Jeugballet-groep (Friendly City Youth Ballet) se laaste uitvoering, The Nutcraker, is net ná die Covid-19-pandemie teen die einde van 2021 in die Baai opgevoer.
Nou kan balletliefhebbers uitsien na Coppelia, wat vandeesweek deur 'n groep talentvolle balletdansers hier opgevoer word.
Coppeliais die bekoorlike verhaal van liefde, onnutsighede en towerkuns wat aan oud en jonk 'n onvergeetlike ervaring sal bied.
Die storielyn handel oor die jong paartjie, Swanhilda en Franz, en die geheimsinnige dr. Coppelius se doen en late.
Dr. Coppelius maak 'n pop wat so lewend lyk dat Franz halsoorkop op haar verlief raak, wat gevolglik 'n speek in die wiel steek wat die liefde tussen die jong mense betref.
Die ballet word op die meesleurende musiek deur die Franse komponis Léo Delibes opgevoer.
Die produksie word deur Robin van Wyk, die voormalige hoofdanser en artistieke direkteur van Cape Town City Ballet aangebied.
Die hoofrolle sal gedans word deur die Kaapstadse dansers Kleto van Rooy as Franz, Ariel Kedem as Swanhilda en Johnny Bovang in die rol van dr. Coppelius.
Die Baai se plaaslike dansers sal met die bekwame leiding van Van Wyk die rolle van onder andere Swanhilda se vriende, die Garland-dansers en die poppe vertolk.
Die besondere uitvoering word op 4 en 5 Julie om 19:00 en op 6 Julie om 18:00 by die Savoy-teater op die hoek van Diazweg en Stirkstraat in Parsons Hill, Gqeberha, aangebied.
Die kaartjiepryse wissel van R120 tot R150 per persoon. Die kaartjies kan aanlyn deur Webtickets bespreek en betaal word.
Bel Monica by 083 471 8893 vir nog inligting.



















