Viering van liefde en dapperheid

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die feestyd is hier en daar is geen beter manier om dit te vier as met 'n pantomime nie.

Dit is nou al 'n tradisie dat Pemads aan die einde van elke jaar 'n pantomime opvoer en dié vermaaklike opvoering vir oud en jonk beloof om 'n viering van die liefde en dapperheid te wees.

Die Pemads-span gaan met vanjaar se Cinderella and the Ice Queen's Enchantment poog om te verbeter op 'n gehalteproduksie en bied 'n ervaring propvol kreatiwiteit.

Dié weergawe van Cinderella speel af in 'n wonderwêreld waar die sneeu nooit smelt nie en die wind saggies geheime fluister.

Venedicta Evercold (Charlize Visser), die yskoningin, Reginald MacClear Ear (Mark Farrow), die huiskneg, en die Towerspieel (Abbey Nel) in diep gesprek. Foto: Chris Gertsch
Venedicta Evercold (Charlize Visser), die yskoningin, Reginald MacClear Ear (Mark Farrow), die huiskneg, en die Towerspieel (Abbey Nel) in diep gesprek. Foto: Chris Gertsch

Die storie is vol intrige waar gevaar in die donkerte skuil en waar die onderskeie karakters baie dapper moet wees.

Cinderella (Megan Calder) is lank nie meer 'n jonge meisie wat in nood verkeer nie, maar 'n jong vrou wat vasberade is om die towerspel van koningin Venedicta Evercold (Charlize Visser) wat die land in ysige koue vasklem, te verbreek.

Prins Edward Charming (Jesse Barth) en Cinderella (Megan Calder) in 'n teer oomblik. Foto: Chris Gertsch
Prins Edward Charming (Jesse Barth) en Cinderella (Megan Calder) in 'n teer oomblik. Foto: Chris Gertsch

Met die hulp van Danny Elfman (James Fullbrook), die sneeu-elf, en haar lojale vriend, Trixie Twinkle (Savannah Meyer), en die ietwat grillerige towerfee dame Adele Allright (Tiaan Bosch), gaan Cinderella op 'n waaghalsige avontuur wat volwassenes en kinders deurentyd vasgenael op hul stoele sal hou.

Tilette Roelofse en Yolande Farrow behartig die regie.

Roelofse sal ook saam met Bianca Swalwell verseker dat die choreografie glad verloop en Caeleigh-Anne Heradien is in beheer van die musiekregie.

Die musiek en sang vir die produksie is 'n kundige vermenging van jazz en hiphop wat met kontemporêre danstyle aangebied word.

Bekende verhoogakteurs sal soos gewoonlik hul skoene vol staan, maar daar is ook verskeie nuwe gesigte te sien. Altesame 29 akteurs speel in Cinderella.

David Limbert is in beheer van die beligting en Brendon Samuels hanteer die klank, wat 'n groot bydrae lewer tot die betowering.

Die stelontwerp, asook die pragtige kostuums, beloof om 'n visuele ervaring te wees.

"Die storie op sigself is reeds so boeiend," sê Farrow.

"Elke toneel is gevul met magiese oomblikke en die geesdrif van die groep akteurs maak elke oefening 'n pret-gevulde avontuur.

"Daar kan veral uitgesien word na die ysdans-toneel, wat so kragtig is dat sommige van die akteurs en crew in trane uitgebars het," sê Farrow.

Getrou aan 'n pantomime sal daar ook interaksie met die gehoor plaasvind en daar kan gerus vir Cinderella hande geklap word of die Yskoningin kan na hartelus uitgejou word.

Reginald (Mark Farrow), die huiskneg, en die Towerspieël (Abbey Nel) sal daarby meer as genoeg humoristiese oomblike verseker.

  • Cinderella and the Ice Queen's Enchantment word van 3 tot 22 Desember (behalwe 17 Desember) by Centrestage en Line Out Productions se nuwe teater, Centrestage@Baywest aangebied. Die kaartjies kan aanlyn deur Quicket bespreek word op die webblad www.quicket.co.za. Tik net "Cinderella" in die soekveld.
Willemien Green

SPELETJIES VANDAG

CTA