Die Standard Bank Innibos Kunstefees in Mbombela duur nou van 16 tot 19 Desember.
Dit volg op die aankondiging dat skole eers op 15 Desember sluit, sê Sandra Jacobs, media- en bemarkingsbestuurder van Innibos.
Die fees word op die terrein van die Hoërskool Bergvlam gehou.

"As daar nou een ding is wat die staat van inperking en die Covid-19-pandemie ons geleer het, is dit dat verandering die enigste konstante is," sê Sandra.
"Ons werk reeds volstoom aan 'n opwindende program, en is vol vertroue dat Innibos 'n gesellige vakansie in die kleine vir feesgangers sal wees."
Intussen begin Innibos Digitaal, 'n digitale kunstefees, op 26 Junie om 18:00.
Dit bestaan uit sowat 20 produksies wat teaterproduksies en opnames insluit uit die fees se argief, terwyl splinternuwe opnames ook gedoen is in samewerking met Coleske Kunstenaars en MGG Produksies.
Kaartjies kan van Maandag af by Computicket bespreek kan word. Die onderskeie vertonings kan vir 72 ure ná die eerste aktivering gekyk word.
Die Innibos Digitaal-program sluit in die JacarandaFM-konsert en kykNET-verjaardagkonsert wat verlede jaar op die feesterrein gehou is. Die kykNET-verjaardagkonsert het 'n Fiësta-teaterprys as die beste opelug musiekproduksie landwyd gewen. 'n Nuwe opname van Victor en die Rasta Rebels is ook te sien, asook 'n konsert spesiaal geskep deur Jak de Priester.
Die tragikomedie Leengoed met Tobie Cronjé en Wynand von Vollenstee debuteer op Innibos Digitaal, 'n nuutjie in die Afrikaanse toneelbedryf. Ander toneelproduksies sluit in Manne, Die hart verklap met Chris Vorster, Storm in a F-cup - Bra-vades met Michelle Botha en die nuwe opname Die narre werklikheid met regie deur Albert Maritz.
Rasende Ryme, 'n poësie- en klankproduksie deur Elsabé Daneel en Wilken Calitz en Die Pomporrelkonsert met Johny Klein is op die woordprogram.
Daar is ook verskeie kindertoneelproduksies, insluitend die baie gewilde Liewe Heksie en die tuindwergie.
* Die volledige program is op innibos.co.za beskikbaar.




















