Die laaste episode van RSG se gewilde vervolgverhaal Hartebreker word op 31 Maart uitgesaai.
Dit laat hom nou vry om ander dinge te doen, sê Leon van Nierop, die skrywer en regisseur daarvan.
"Dit neem vier tot vyf dae uit 'n maand. En ek skryf dit nie sommer net om dit klaar te kry nie. Ek gee baie noukeurig aandag. En wat dit moeilik maak, is jy mag net drie karakters per episode gebruik. So jy moet so gedissiplineerd skryf.
"Niemand kom dit agter nie, maar daar is net drie karakters in elke episode. Gedurende die eerste twee en 'n half bladsye praat die eerste twee, dan kom die derde karakter in, dan gaan dit van daar af aan. En ek weet elke keer hoe die episode gaan eindig. So dis elke keer 'n klein mini-drama, of -komedie eintlik."

Hartebreker, met spelers soos Henriëtta Gryffenberg, Pietie Beyers, Eloise Cupido en Charlie Bouguenon, gaan oor 'n groep mense in 'n idilliese dorpie in die Karoo en baie plattelandse intriges vind plaas.

Dit het in 2015 begin met 'n idee wat Kobus Burger, deesdae RSG se programbestuurder, maar destyds uitvoerende regisseur: drama, gehad het. Hy was op soek na 'n verhaal waarvan die episodes net 'n paar minute lank is.
"Ek gaan dit baie mis," sê Van Nierop. "Dis al agt jaar later."
Van Nierop is ook die skepper van die gewilde vervolgverhaal Stralerjakkers, wat van 1996 tot 2001 op RSG uitgesaai is.
Stralerjakkers is elke weekdag uitgesaai en het uit halfuur lange episodes bestaan.

"Met Hartebreker bestaan die episodes uit vyf minute, maar dis vir my moeiliker om dit te skryf as die halfuur. Want daar gebeur net soveel in vyf minute as in 'n halfuur in ander stories. Dit was vir my 'n geweldige aanpassing en dissipline, maar dit het my geleer om bondig te skryf."
Hartebreker se laaste episode is reeds opgeneem - die laaste een van 1 467.
• Dit word Maandae, Woensdae en Vrydae om 09:50 op RSG (100 tot 104 FM) uitgesaai.

















