Buitelewe

Bushy-kampwa kry ’n blink lyf

Die Bushy se stamvader, die OT Bushy, het net meer as 'n dekade gelede sy verskyning gemaak as 'n beskeie kampwa.

Dit was 'n ligte wa wat gemik was op slepers met 'n gewone rybewys, maar intussen het sake in só 'n mate ontwikkel dat jy nou verskeie keuses het.

Agter elke wa

Die Bushy Rhino Ranger XL word deur Trailer & Mega Custom Steelworx in Silverton, Pretoria, gebou. Hulle bou steeds die variant vir kampeerders met 'n gewone kode B-rybewys, maar die reeks is nie meer uitsluitlik op dié mark gemik nie.

Die standaardwa het 'n BVM van 1500kg en is gerem, maar as jy nie 'n kode EB-rybewys het nie, is daar 'n model sonder remme wat net 750kg weeg. As jy met 'n fris sleepvoertuig spog en wil hê jou wa moet by jou wiele pas, kan die vervaardiger die as opgradeer om 2000kg te dra.

Die bestaande Rhino se romp is tot dusver van staal vervaardig, maar nou word dit van vlekvrye staal gemaak. Die onderstel is ook opgekikker en pleks van 'n poeierverflaag word hy nou gegalvaniseer.

Die binnekant van die bak, die voorkant van die neuskas en die modderskerms kry almal 'n rubberlaag. Roadque verskaf die komponente vir onderdele, en die wa is toegerus met 15duim-wiele (ook 'n noodwiel) en drie dwarssparre vir vrag op die deksel as jy hom standaard koop.

Dis egter nie net die boumateriaal wat die oog tref nie, maar ook die deurslotte en noodwielrak.

Laasgenoemde is regop langs die agterdeur, maar die wiel is op sy eie swaairak, wat beteken jy kry hom maklik uit die pad uit as jy die wa se deur wil oopmaak.

Die agterdeur se opening is 115 x 62cm groot en die sydeur s'n 62 x 55cm, en albei is met die slotmeganisme van 'n skeepsvraghouer toegerus.

Ons het al baie waens met baie soorte slotte gesien en kan met sekerheid sê dié is een van die beste maniere om 'n wa ordentlik stof- en waterdig te hou.

Bykomstighede

'n Glyraam (R6 262) vir 'n ys-vrieskas pas by die sydeur en jy kan kies tussen twee glyrame vir die agterdeur: Een waarop drie ammokiste pas vir R4951, of 'n dubbele een met plek vir ses kiste teen R9930.Van die ander addisionele bykomstighede sluit in 'n dakrak (R5578), jerrykanhouer (R1202) en gassilinderhouer (R949) wat al drie met poeierverf behandel is.

Een van die kombuiseenhede wat jy kan kies, het poeierverf (R4347) en 'n volledige Bushy-kombuis van aluminium kos R6279 ekstra.

Jy kan los hoekstutte aanskaf wat soos 'n domkrag werk teen R1210 elk en 'n opvoutrap teen R1840.

Dit kos R5175 ekstra om die standaardmodel se as met remme op te gradeer tot 2000kg, en jy spaar R3000 op die standaardmodel sonder remme.

Handelaarsnetwerk

Hoofkantoor in Gauteng; takke in Gauteng en die Wes-Kaap.

Kontak 012 804 1967 of 082 528 8228; info@trailermcs.co.za; https://trailermcs.co.za/trailermcs.co.za

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM