Die bedrywige plattelandse dorpie Citrusdal is geleë op die oewer van die Olifantsrivier, sowat 180 km en minder as twee uur se ry vanaf Kaapstad.
Die dorp, aan die voet van die Cederberge, is omring deur sitrusboorde en wingerde. Citrusdal is die middelpunt van die Wes-Kaapse sitrusbedryf. Dit is ook wêreldbekend vir sy voortreflike sitrusvrugte, wyne en kruie- en fynbosprodukte soos rooibostee en boegoe. Van die dinge wat jy hier kan doen, is bergfietsry, rotsklim, vierwielmotorfietsry, voëlkyk, 4x4-ry, natuurritte onderneem, staproetes aanpak, zipline, perdry, veldblomme kyk, hengel en selfs valskermsweef.
'n Besoek werd
- The Baths is 'n oord met 'n warmwaterbron geleë op 'n sitrusplaas naby Citrusdal. Verblyf is beskikbaar in chalets, woonstelle en karavaan- en kampplekke.
- Kardoesie lêlangs die N7 aan die bopunt van die Piekenierskloofpas, en bied 'n panoramiese uitsig oor die Renosterhoekvallei. Hier sal jy 'n winkel, plaasstalletjie en restaurant vind. Dit is die ideale plek om te oornag op jou blommereis of selfs as 'n naweekwegbreek.
- De Tol, seker die oudste padstal op die N7, word nou met trots besit deur Bergendal, 'n familieplaas so 8 km verder langs die Paleisheuwelpad. De Tol is geleë op 'n historiese stuk grond langs die Piekenierskloofpas en bied plaaslike produkte.
- Carmién-tee is bekend vir hul innoverende en uitgebreide reeks kruiemengsels en gegeurde rooibosprodukte. Hulle het hul reeks nou al selfs uitgebrei om 'n jenewer in te sluit, waaronder twee bekroonde rooibos-gedistilleerde jenewers. Dit is alles beskikbaar by hul Carmién-teewinkel. Hier kan jy tee-en-jenewer-parings doen en nuwe maniere leer om rooibostee te geniet.
- Piekenierskloof Wines en Tierhoek bied albei wynproeë by hul kelders aan.
Vir meer inligting oor bedrywighede, verblyf en geleenthede in die streek, kontak Citrusdal-toerisme by 082 785 0472. Die kantoorure is Maandae tot Vrydae van 09:00 tot 16:30 en Saterdae van 09:00 tot 13:00.



















