"Ek bly al drie jaar in Centurion en was onlangs die eerste keer in die Rietvlei-natuurreservaat. Ek het gewonder hoe besonders kan 'n park in 'n stad nou wees... Maar die reservaat het my verras. Sedertdien was ek vier keer weer daar.
Drie uit die vier keer het ons dié jagluiperdwyfie en haar drie welpies gesien.
Dié betrokke oggend het ek aangery gekom en een gesien wat regop sit. Terwyl ek nader ry, het al vier skielik regop gesit en na my gestaar. Hulle was 'n entjie veld-in en die gras was lank, maar ek kon dié gesinsfoto neem.
'n Mens dink altyd net aan die groot reservate en vergeet van die kleineres. Rietvlei het 'n ryk voël- en dierelewe. Dis beslis 'n besoek werd as jy nie by die Krugerwildtuin of Pilanesberg kan uitkom nie."















