Die Weskus-skiereiland, van Langebaan in die suide tot St. Helenabaai in die noorde, het baie om aan besoekers te bied.
Wanneer jy reis, is dit goed om 'n plan te hê sodat jy genoeg tyd het om by alles uit te kom en langs die Weskus-skiereiland is daar baie om te doen:
Voëlkyk
By die SAS Saldanha-natuurreservaat kan jy hektaar op hektaar se fynbos en voëlspesies sien terwyl jy die staproetes geniet. Dit is binne Saldanha se militêre gebied, daarom moet jy vooraf bespreek.
Die Vredenburg/Saldanha-gholfbaan met sy dam is net noord van die park. By dié dam kan jy 'n verskeidenheid watervoëls sien.
In die Weskus-fossielpark kan jy meer as 80 soogdierspesies en meer as 140 voëlspesies sien, waaronder watervoëls by die twee damme.
'n Groot trekpleister aan die kus is die Weskus Nasionale Park, 'n Ramsar-gebied. Daar is drie voëlkyk-skuilings wat op die strandmeer uitkyk. Die getye bepaal die teenwoordigheid van die voëls. Seeberg is die beste met hoogwater, en die twee Geelbek-skuilings is die beste met middel- of laagwater.
Waar om te eet
Daar is geen skaarsste aan eetplekke aan die Weskus nie.
Langebaan is die naaste dorp aan Kaapstad en dus 'n gewilde naweekbestemming vir stedelinge wat wil ontsnap. Daar is ook heelwat restaurante hier, soos Die Strandloper, Pearly's Restaurant en Pirates Bar & Oven.
St. Helenabaai, knap onder 50 km van Langebaan, is effens meer afgeleë as jy nie lus is vir hordes mense nie. Dié vissersdorp is die tuiste van visfabrieke soos Lucky Star Pilchards en Glenryck Z handelsmerke wat vir talle Suid-Afrikaners huishoudelike name is.
Die gasvryheid hier is ouwêrelds en dit is so stil dat jy nog die see se gedruis kan hoor. Vir outentieke Weskus-geregte en as jy dalk 'n bietjie langer wil kuier, is De Palm-restaurant die plek om te wees.
Daar het vroeër vandeesmaand ook 'n splinternuwe seekos-restaurant op die hawe oopgemaak, Seafood Cartel. Sit agteroor en geniet 'n stokvis-jaffel, of wat van kerrievis met tuisgemaakte gemmerbier? Te lekker.
Vir die avontuurlustiges
As jy van daai mense is wat graag jou adrenalienvlakke in die buitelug opjaag, bied Langebaan en Jacobsbaai aktiwiteite soos branderplankry, kajakroei, hengel en talle ander watersporte. Jacobsbaai is bekend vir Kwaaibaai en branderplankryers sal jou meer hiervan kan vertel.
Hopefield lê effens meer na die binneland se kant toe. Tussen Augustus en September blom die veldblomme en sorg dit vir 'n kleurryke skouspel waarvoor mense van heinde en verre reis. Werk sommer jou eie staproete uit vir blommekyk.
Terwyl jy in die geweste is, gaan maak 'n draai by Simply Bee. Hulle is bekend vir hul uitmuntende heuning- en byewas-produkte. Waarom nie nou al jou Kersgeskenke koop nie?
Laaste, maar beslis nie die minste nie, is daar die bekende en prentjiemooi Weskusdorpie Paternoster.
Dié dorp, waarvan die naam "Onse Vader" beteken, is ook al jare lank 'n gewilde vakansiebestemming - en nie net vir die hotel se "pantiebar" nie. 'n Groot trekpleister hier is die vuurtoring by Kaap Columbine - gaan neem 'n selfie voor dié ikoniese struktuur - en die mooi strand.
As jy graag kampeer, is Tietiesbaai in die Cape Columbine-natuurreservaat 'n goeie keuse, want daar word verskeie wateraktiwiteite ook hier aangebied.



















